SA’ners wat na buiteland reis, gemaan

Argieffoto (Foto: gustavmelin0, Pixabay)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Dinsdag ʼn veldtog van stapel gestuur wat Suid-Afrikaners wat na die buiteland reis, aanmoedig om hulle deeglik te vergewis van die moets en moenies van die lande waarheen hulle reis.

Dit volg ná die onlangse voorval waarin 51 jong Suid-Afrikaanse onderwysers in China gestrand was. Die departement het gesê 49 van die 51 Suid-Afrikaners wat in Tsjangtsjoen in China gestrand was nadat hul paspoorte weens foutiewe visums deur die polisie afgeneem is, is terug in hul tuisland. Die ander twee Suid-Afrikaners is egter steeds in aanhouding.

Reginah Mhaule, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, meen die voorval kon voorkom word indien die nodige inligting beskikbaar was. “Ons moedig dus mense aan om hulle behoorlik te verwittig van regulasies in die land wat hulle besoek.”

Chris Chetty, waarnemende hoof van die departement se afdeling vir konsulêre dienste, het ook bekend gemaak dat 824 Suid-Afrikaners tans in buitelandse tronke is. Volgens Chetty was daar die afgelope drie jaar ʼn afname in die aantal Suid-Afrikaners in oorsese tronke. “Drie jaar gelede was daar omtrent 1 000 Suid-Afrikaners in oorsese tronke.”

Mhaule het bygevoeg daar is meer as 100 Suid-Afrikaners in die buiteland wat verhoorafwagtend is. Juis daarom het die departement die “Reis slim”-veldtog van stapel gestuur.

Die doel van die veldtog is om Suid-Afrikaners te verwittig van die konsulêre dienste wat die departement aan Suid-Afrikaners hier en in die buiteland bied.

“Dit is die waarheid dat talle Suid-Afrikaners gestrand is in die buiteland en in hierdie omstandighede soek hulle ons hulp sonder vooraf kennis van watter dienste ons kan voorsien.”

Mhaule het gesê Suid-Afrikaners wat oorsee reis, moet die tersaaklike reëlings met die departement tref sodat hulle bystand kan kry indien nodig.

“Voor Suid-Afrikaners per vliegtuig vertrek, moet hulle tyd maak om meer vas te stel oor die politieke, kulturele en ekonomiese omstandighede in die land waarheen hulle reis. Wanneer Suid-Afrikaners oorsee reis, moet hulle ook onthou dat die betrokke land se reëls en wette ook op hulle van toepassing is.”

Mhaule het Suid-Afrikaners aangemoedig om die kontakbesonderhede van hul naaste Suid-Afrikaanse konsulaat of ambassade byderhand te hou en die kontakbesonderhede van hul naasbestaandes ook te alle tye by hulle te hê.

Suid-Afrikaners wat oorsee reis, word aangeraai om vooraf op die departement se webwerf te registreer sodat die departement weet watter Suid-Afrikaners in watter lande is, indien daar byvoorbeeld ʼn natuurramp plaasvind.

Vir meer inligting besoek die departement se webwerf by www.dirco.gov.za.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

christa ·

die mense is gou om die land te verlaat, maar sodra daar probleme ontstaan is SA weer goed genoeg om hulp te verleen.

MCS ·

Ag Christa, gaan jy vir die kinders werk gee? Seker as hul hier n roos kleurige toekoms gehad het het hul hier gewerk.

Ekskuus Christa ·

Waarvan praat jy? Die kinders kry nie werk in SA nie .. Agv kwotas en BEE en EE en AA en BEEEEE sukkel blanke kinders om werk te kry tensy hulle ‘n baie ‘special skill’ het. Dit is jongmense wat ‘n INKOMSTE probeer verdien sodat hulle nie in wit plakkerkampe moet opeindig of op STRAAT staan en bedel nie. So tensy JY vir hulle in SA werk het .. moet hulle ongelukkig hulle heenkome in ander lande gaan soek. SA het nie juis veel vir hulle gedoen nie . hulle het hulle DOOD gesukkel om die SA regering aan die gang te kry. Dink jy regtig hulle wil die inligting he om te gaan help? Ek verbeel my amper hulle wil seker maak dat hulle daardie BELASTING in.

Juffie ·

Stem saam met jou Christa. Dit is hoekom ek voel -verlaat die land “by all means”, maar moet nie terugkom nie. Ons wat agterbly sal saamstaan en saam met Vader ons land weer “regkry”.

jaco ·

eks by n buurtwag en n gemeenskapsdiens betrokkke en AL die wit jong mense wat ek sien bedel, het n probleem met dwelms. ongeag ras, sal hulle mos nou nie met n dwelmprobleem werk kry nie. moenie regstellende aksie en BEE blameer vir ALLE wit werkloosheid en armoede nie.

Mrs H ·

Passop dat jy nie n hoogmoed/jaloesie handhaaf wat jy nie kan bekostig nie, Christa. Buitendien verwys die berrig na SA-kaanse toeriste. Gun die mense asb die beter lewe waar ookal hulle dit mag vind, en hoop op hulle steun wanneer hulle toegelaat word om van oorsee te MAG stem, want jy Christa, is n druppel in die Afrika emmertjie en het elke bietjie steun nodig van WAAR dit ookal mag kom. Dis dalk juis in God se wil, terwyl jy daar sit en regter speel. Ek vir een, hoop van harte dat alle oorsese SA-ners jou boodskap asb sal ignoreer, want meeste voel nie soos jy nie en broei nie jaloerse emosies na buite nie, maar smeek eerder dat hulle ons bystaan van vêr deur bewusmaking en te stem terwyl hulle toegelaat word.

Carel ·

Indien daar enigsins menseregte in Sjina was sou dié onderwysers nie in die tronk gewees het nie. Baie vrae onstaan oor die uitreiking van die visums. Sekerlik is die proses waarmee visums uitgereik word in Sjina óók problematies?

marco polo ·

Dit gaan in SA soos dit gaan van te veel menseregte. Daar is geen probleem om n visa vir China te kry as jou papierwerk in orde is nie. Ek bly in China en het nog nooit probleme gehad nie

jaco ·

met minder menseregte in China, is daar ook meer wet en orde, sonder SA se ongelooflike hoë misdaadsyfer. stakings is ook onwettig daar. daars ook nie beurtkrag en plakkerskampe en vuil, swak staatshospitale nie. Probeer in China van die misdade wat so polulêr in SA is, en die gevolg is die doodstraf – meer as 1000 per jaar.

Ag regtig ·

Whaaaaaaaaa dis nou nie asof julle enige inligting verskaf nie. REIS SLIM? HOE weet jy dat die persoon in die ANDER land skelm gaan wees? As jou visums reg is en uitgereik is en jy alles REGMATIG gedoen het, hoe moet jy vasstel dat die skool waarby jy gaan werk fiktief is? As julle nie mense uit die land verjaag het met julle BEE en MISDAAD beleid nie, sou hulle nie nodig gehad het om in ander lande te gaan onderwys gee nie, hulle sou by die SA skole onderwys gegee het en die miljoene onopgevoede onopgeleide kinders OPGEVOED het.

marco polo ·

Die kinders se visums was nie reg nie, hulle het met toeriste visums oorgegaan. Dis onwettig. As die regte proses gevolg word, moet die skool werkspermitte en visums vir jou bekom VOOR jy SA verlaat. Net geregistreerde skole of maatskappye kan dit doen en dit word deurgaans gemonitor.

christa ·

ek het niks teen mense wat oorsee gaan werk nie, maar sodra dinge nie daar uitwerk nie, moet SA regering help. Ons moet positief wees, die Here sal jou nooit dinge laat oorkom wat nie Sy wil is nie. Hier is ‘n toekoms in SA. Ons mense moet net glo en op Hom vertrou

Nee Christa ·

Dit word ‘n diplomatieke kwessie .. so ja ongelukkig as jy in die regering wil sit en groot geld verdien het jy ‘n verantwoordelikheid teenoor jou burgers al werk hulle in ‘n ander land. HIer is geen toekoms in SA nie, bly droom!

marco polo ·

Christa, ek belowe jou, ek gaan nie asem ophou vir die regering om te help nie. Die Here help die wat hulself help, en ek sien nie veel daarvan in SA nie. Van handjies vou en bid gaan daar niks kom nie, DOEN eerder iets. Vir my en vele ander is dit klaar te laat, die pot het te warm geraak en die paddas het uitgespring toe hulle kon.

Em ·

Christa jy het seker n werk of jy het nie nodig om te werk nie. Waar moet ons jong mense heen? Se vir my asb! Daar is amper nie werk vir enige jong mens nie wat nog te se van ons blanke kinders.>

marous ·

Die adjunk minister kan sekerlik by die minister aanbeveel dat elke buitelandse ambassade ‘n stel reels saam met jou visum oorhandig . Dink net hoeveel belasting geld sy gaan spaar …..

Beter om te skoert om oorsee te probeer werk ·

Christa ‘n mens sal bitter lank moet bid en nog langer moet wag om geholpe te raak in Suid-Afrika. Teen daai tyd is ‘n mens al erg verbiterd, tandloos van al die bid en erg oud en nog steeds nie geholpe nie.

Adri ·

“Ons moedig mense aan hulle deeglik te verwittig van …” moet wees: “vergewis”. Verwittig beteken om iemand in te lig, maar hier word bedoel inligting moet verkry word.

Rupert Ashford ·

Aaah…dankie Adri. Ek het dit ook raakgelees maar kon nie op die regte woord kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.