SA’ners wat oorsee werk, mag nou teruggaan

(Argieffoto: Unsplash)

Suid-Afrikaners wat tans in Suid-Afrika vertoef, maar in ander lande werk, studeer, permanent woon of dringend mediese hulp in ander lande benodig, word nou toegelaat om na dié lande terug te keer. Só het die departement van binnelandse sake Saterdag in ’n mediaverklaring aangekondig.

Aaron Motsoaledi, die minister van binnelandse sake, het in die mediaverklaring gesê noodsaaklike reis vir Suid-Afrikaners om dié vyf redes is goedgekeur, na samespreking met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die nasionale koronavirus-bevelraad.

Die afsonderingsregulasies het tot dusver Suid-Afrikaanse burgers verbied om die land te verlaat. Persone met dubbele burgerskap, buitelandse burgers, persone wat met buitelanders getroud is asook persone wat permanente wonings oorsee het, was ten tyde van vlak 4-afsondering wel toegelaat om die land te verlaat.

Maroela Media het vroeër berig die HomeAwayFromHome-inisiatief (HAFH) het Vrydagoggend hofdokumente by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien teen die regering se beleid wat nie toelaat dat bogenoemde Suid-Afrikaners die land verlaat nie. Die regering is tot komende Woensdag tyd gegun om op die regsaksie te reageer.

Dié regsaksie het gevolg nadat die HAFH-inisiatief ongeveer twee weke gelede die Locked in South Africa (Lisa)-veldtog van stapel gestuur het om die sowat 3 500 Suid-Afrikaners wat in Suid-Afrika gestrand is, te help en te ondersteun om terug te keer na die lande waar hulle woon en werk. Die groep gestrande burgers het begin om geweldige sielkundige en ekonomiese spanning te ervaar en was desperaat om terug te gaan na die lande waar hul woon en werk.

Beverley Schäfer, DA-LPW in die Wes-Kaap en een van die koördineerders van die HAFH-inisiatief, het gesê hulle het besluit om tot regsaksie oor te gaan omdat hulle glo die grondwetlike regte van dié Suid-Afrikaners om vrylik die land te kan verlaat en vrylik in die buiteland te kan werk, geskend word en dat die regering hulle ongrondwetlik “aanhou”.

Dié Suid-Afrikaners het die afgelope maand ’n verlies van byna R60 miljoen aan inkomste aangemeld omdat hulle nie kon werk nie. Benewens die verlies aan inkomste is van dié gestrande burgers boonop tans van hul gesinne geskei.

Schäfer sê HAFH en Lisa is tevrede dat hulle 85% van die uitkoms waarvoor hulle baklei het, bereik het.

“Ons vertrou die minister sal nie sy belofte verbreek nie. Ons vertrou dat die minister die regulasies wat hy Saterdag aangekondig het so gou moontlik in die Staatkoerant sal afkondig,” sê Schäfer.

Volgens die departement van binnelandse sake moet diegene wat na die lande reis waar hulle woon en werk die volgende dokumente reg hê:

  • ’n Kopie van ’n geldige Suid-Afrikaanse paspoort.
  • ’n Brief van die ambassade of ander konsulêre verteenwoordiger van die land waarheen gereis word, wat bevestig dat die persoon toestemming het om die land onder die huidige omstandighede binne te kom.
  • Indien passasiers by vlugte in ander land gaan aansluit, moet toestemming van daardie lande ook ingedien word.
  • Bewyse van vlieg- of buskaartjies en die vertrekdatum.

Suid-Afrikaners wat volgens bogenoemde kriteria kwalifiseer, kan ’n e-pos aan [email protected] stuur.

Suid-Afrikaners wat aan die kriteria voldoen, sal ’n e-pos wat toestemming gee om te mag reis, terugontvang. Suid-Afrikaners wat as ʼn groep aansoek doen, kan een e-pos stuur met ondersteunende dokumente vir elke lid van die groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries ·

Ek werk in Namibia,en ons kan elke 3mnde huistoe gaan, met die lock down sit ons al hier vanaf begin Januarie daar is nog geen besluit wanneer ons weer kan gaan nie, as ons nou gaan moet ons weerskante 14 dae gehok word wanneer is ons weer terug by die werk????

Jaco ·

as julle kan wegkom, gaan NOU. Hierdie land gaan net al hoe slegter en slegter word.

Misky ·

Ek stem saam met Jaco. Ek is so lief vir SA, my geboorteland, maar ek is deesdae n bitter mens en voel of ek net wil wegkom hier ter wille van my 2 tienerseuns vir wie hier geen toekoms is nie. Maar hoe gemaak en kom mens weg hier met die skamele paar rand wat ons oor het na die laaste 26 jaar se vertrapping?

Eiervrug ·

Kan julle dalk vir ons sigarette saambring as julle terukom!!. Vra namens ‘n vriend…

André ·

Verstaan nou glad nie, so al die mense op wie ons Miljoene rande spandeer het om ge-repatrieer te word…en 10-1 nog in isolasie sit as gevolg daarvan….mag nou reeds weer terug vlieg….? Ek is bly mense kan na hul heimwee terug, en ek weet die buiteland is ons toevlug…maar die besluite rakende hierdie virus is net soms verregaande. Kerke is byvoorbeeld toe, maar kry jou paspoort reg….

Elaine Krige ·

Hallo Andre. Nee hierdie is nie mense wat gerepatrieer is nie. Dié is mense wat eintlik oorsee woon en werk, maar in SA was toe afsondering ingestel is. Groete!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.