SA’ners wat terugkeer sit vir ure op OR Tambo

Die gestrande Suid-Afrikaners staan rond en wag by die OR Tambo-lughawe (Foto: Verskaf)

’n Groep van omtrent 300 Suid-Afrikaners wat Maandagmiddag uit Washington na Suid-Afrika teruggekeer het, het ure lank op OR Tambo-lughawe gestrand gesit omdat hul akkommodasie by die kwarantynfasiliteit waarheen hulle geneem sou word, glo op die laaste oomblik gekanselleer is.

Dié groep Suid-Afrikaners het omstreeks 16:40 by die OR Tambo-lughawe ná ’n vlug van 16 ure geland.

Veronica Venter (59), ’n verpleegkundige wat saam met haar man van Kanada teruggekeer het, sê hulle het meer as vyf ure lank buite die vliegtuig met hul bagasie by die minibusse, wat hulle na die kwarantynfasiliteit sou vervoer, gewag.

Die busbestuurders het glo al in die minibusse gereed gesit en wag om bevestiging te kry om te kan ry.

“Mense het rondgestaan en wag. Party het in die bussies gesit en party op die sypaadjie. Ons was in die duister gelaat – niemand het geweet wat aangaan nie,” vertel Venter.

Venter vertel hulle het omstreeks 15:00 op die vliegtuig laas iets nat of droog oor hulle lippe gehad. Sedert die groep geland het, was daar geen kos of water aan hulle verskaf nie.

“My man is ’n diabeet en het na ʼn paar ure begin lighoofdig raak omdat hy so lank laas iets geëet het,” vertel Venter.

Die gestrandes het vir meer as vyf ure buite die lughawe gewag (Foto: Verskaf)

Volgens ’n 22-jarige au pair wat na twee jaar in Amerika teruggekeer het, het ’n bejaarde vrou wat ook op die vlug was, mediese aandag nodig gehad nadat sy glo ’n aanval gekry het omdat sy so lanklaas iets geëet het.

“Die een dogtertjie het dringend water nodig gehad om haar pilletjies te kan afsluk. Ek het haar so jammer gekry,” vertel die au pair.

“Almal het mekaar maar probeer help en bystaan om die tyd verby te kry,” vertel Venter.

Omstreeks 21:00, na meer as vier ure se wag, het die polisie wat oor die groep wag gehou het, vir hulle begin water aandra.

Die groep is net ná 22:00 gevra om in die minibusse te klim. Omstreeks 22:30 het die busse van die lughawe vertrek. “Ons het nog steeds nie geweet waarheen ons gaan nie,” vertel die au pair.

Venter en die au pair sê hulle het eers na middernag by The Capital-hotel in Sandton aangekom. Hulle is daar met toebroodjies, koekies en koffie verwelkom.

Die ander groep is na die Peermont Hotel by Emperors Palace in Kempton Park geneem.

Samantha Graham, DA-woordvoerder oor openbare werke, sê hulle het deur die aand onverpoos gewerk om die minister van openbare werke en die direkteur-generaal van gesondheid oor die situasie te verwittig en ’n oplossing te vind. Hulle kon uiteindelik daarin slaag om die mense na meer as vyf ure na hul onderskeie kwarantynfasiliteite te laat vertrek.

“Die laaste groep het omstreeks 00:40 by hul hotel aangekom. Dit is agt ure sedert hulle geland het,” bevestig Graham.

Die groep is omstreeks 22:30 na die kwarantyngeriewe (Foto: Verskaf)

Graham sê dié groep sou aanvanklik in die Birchwood-hotel by die lughawe ingeboek word vir die 14 dae kwarantyn, maar die departement van openbare werke se kontrak met dié hotel is blykbaar op die laaste oomblik gekanselleer.

“Die departement is Maandag tydens ’n portefeuljekomitee-vergadering oor die vingers getik omdat hulle vier tot vyfster-hotelle as kwarantynfasiliteite beskikbaar stel. Dit is omdat die koste aan dié hotelle glo buitensporig hoog is. Die kontrak met die Birchwood-hotel is net daarna gekanselleer. Dit is egter nie aan die owerhede wat die reëlings vir dié groep gerepatrieerde Suid-Afrikaners getref het, meegedeel nie. So, toe die groep geland het, het hulle nêrens heen gehad om te gaan nie,” vertel Graham.

Graham sê die departement van openbare werke kry ook nie voldoende kommunikasie van ander departemente soos die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) oor die aankoms van gerepatrieerde groepe nie. “Dus moet die departement op die laaste minuut rondskarrel om akkommodasie te probeer reël,” sê Graham.

Intussen is ’n groep van 23 Suid-Afrikaners in Washington agtergelaat toe die repatriasievlug Sondag na Suid-Afrika vertrek het. Dit nadat hul vliegkaartjies glo gekanselleer is.

Volgens Catherine Berlein, een van dié gestrandes, het sy net soos die ander wat wel kon vlieg, die regte kanale gevolg en ook reeds vir die vlug betaal. Berlein sê sy het tot nou nog geen terugvoer van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gekry oor waarom hulle nie op die vliegtuig kon klim nie.

Volgens Berlein was daar nog omtrent 50 sitplekke op dié vlug beskikbaar.

“Ons het die lughawe in sak en as verlaat nadat een van die personeellede by die lughawe ons weggewys het. Nou moet ons langer bly in Washington – die episentrum van die viruspandemie,” sê Berlein.

Thami Mchunu, die woordvoerder van die departement van openbare werke, het aan Maroela Media bevestig dat die departement kennis neem van die voorval. “Die departement werk tans aan ’n verklaring waarin al die feite oor die voorval weergegee sal word,” sê Mchunu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pieter ·

Dis is nou regtig PATETIES.Hier in Pole word jy getoets en daarna kan jy na jou woning toe gaan en daar word jy dan vir 14 dae onder kwaratyn gesit. Elke dag kom die polisie om om te kyk of jy by die huis is en inbly.Hoekm nou mense ten duurste in kwaratyn bly.

TRP ·

Dit maak ook vir my sin om dit te doen maar intussen wys die departement mense weg wat mense in kwarantyn wil toets.

PRET(oria) ·

Pieter is daar dalk werk in Pole? Ek sal jou kar was en jou tasse dra.

JM ·

Onbeholpenheid. “Incompetence” is aan die orde van die dag. Dit verbaas my nie!

Jaco ·

HOE is dit moontlik dat wit Suid-Afrikaners, wat sekerlik hier weg is omdat hulle weens hul “verkeerde” velkleur nie hier kon werk kry nie, nou na dieselfde anti-wit SA wil terugkeer?

Andre ·

Ag nee wat Jaco. Seker om ook ‘n deel van hul belasting te kan gebruik. En waarom net “verkeerde” velkleur sien. Darrem bly jy erken dis ‘n anti-wit SA.

Michael ·

Wat ek nie verstaan daar id n groep wat in haaglike omstandighede moet en ande word in vyf stet hotele in geboek dit maak nie vir my sin en dit pla hul nie.

TRP ·

Dalk is daar ook ‘n spesifieke lys waarna hulle kyk, wie op die vlug is ens.

Hekwag ·

Dis baie duidelik dat witmense met minagting behandel word… en ek verwys nie net na hierdie insident nie. Wag maar, die wiel sal draai. Daar waai nuwe winde van verandering deur SA.

Nell ·

Ek hoop maar daai winde waai die ANC die see in. Maar ek twyfel sterk of ons aan dieselfde winde dink. Onthou CR het gepraat van ”radical economic change” en dit sluit beslis nie die wittes in nie.

marius ·

Glo maar , hulle sit en lag hule pap oor die verguising . Dis die waarheid .

Kobus ·

Hulle moes liewer via China gevlieg het. Dan was 5 ster hulle beskore

Deon ·

Dit begin al voel of die mense soos troppe diere behandel word… Miskien moet die DBV inspring, hulle kry nogals baie reg die afgelope ruk

Ria ·

Dis skokkend dat “bekwame” mense nie eers hierdie sake kan organiseer nie. In my oë verbeur hulle alle respek en deursigtigheid

TRP ·

Behalwe vir die klomp wat van China gekom het wat soos konings behandel is, lees ek sover glad nie van enige suksesverhale.

marius ·

Hulle gaan na ‘n hotel en word verwelkom maar ander mense word in krotte gedruk ? Die verskil is dat diegene wat van die buiteland ingevlieg word ‘n mooi prentjie skilder maar die wat met hul voertuie terugkom soos drek behandel word . Dirco en hul heersers is die grootste tweegesigte wat bestaan !

Sylvia ·

Mense, mense! Hoekom word daar soveel tyd en geld gemors! Volg asb ander lande se voorbeelde en kry dinge onder beheer. Duur hotelkoste is belaglik en onnodig. Toets die mense en laat hulle self-isoleer ASB

PRET(oria) ·

Dit is verskriklik dat mense soveel trauma in hul eie land moet ervaar oor iets wat moontlik geen impak op hulle sal hê nie. Hoekom het julle terug gekom? SA is voorwaar nou die slegste plek op aarde om te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.