SA’ners wil Oekraïne help

‘n Man vlug met enkele van sy besittings terwyl vlamme ‘n voertuig en gebou in Kharkiv, na ‘n Russiese aanval, verswelg. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die algehele situasie in Oekraïne is weens die voortslepende Russiese oorlog steeds aan’t versleg en na raming word 18 miljoen mense tans deur die konflik geraak. Volgens die Verenigde Nasies (VN) se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) het meer as drie miljoen mense reeds uit die land gevlug.

Dit word al hoe moeiliker om toegang tot mediese sorg in die land te kry en aktiewe gevegte en ʼn gebrek aan openbare vervoer beperk mense se bewegings.

Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika het die afgelope week in ʼn onderhoud met Theo van der Westhuizen, ʼn lid van Action SA, gesê in Suid-Afrika het gewone burgers reeds ingespring om te help.

Liubov Abravitova, Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika. (Foto: Twitter)

Talle mense het aan die ambassade geskryf en aangebied om Oekraïense families (nie kinders nie) aan te neem, met selfs hotelle hier wat aanbied om vlugtelinge uit die land te huisves.

Die organisasie Gift of the Givers is nou betrokke met noodleniging in die streek en deur die Oekraïense Vereniging in Suid-Afrika word geld ingesamel om na spesifieke streke in Oekraïne te stuur.

“Suid-Afrikaners staan nie opsy nie,” sê Liubov Abravitova. “Organisasies en private mense kan op hul eie help.”

Abravitova wou haar nie uitlaat oor Suid-Afrika se vroeëre besluit om buite stemming te bly tydens ʼn vroeëre VN-vergadering waar teen Rusland se inval van Oekraïne gestem is nie. ʼn “Neutrale” besluit kan egter ook ʼn aanduiding wees van ʼn oorhelling na ʼn sekere kant.

Sy sê dit gaan nie nou meer oor die goedkeuring van die oorlog nie – die oorlog is reeds aan die gang – maar oor hoe om die gevolge van die aggressie te pak. Dít, sê Abravitova, is die verantwoordelikheid van elke demokratiese land.

Ramaphosa het Poetin vroeër die maand gebel om oor die konflik te praat en het daarna gesê Suid-Afrika is genader om ʼn bemiddelingsrol te speel.

Volgens Abravitova het Oekraïne ʼn versoek van die Suid-Afrikaanse regering gekry dat Ramaphosa ook met die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, wil praat. “Die presidensie werk uit ʼn missielskuiling; dit is nie maklik om ʼn geleë tyd vir albei te kry om te praat nie,” het sy in die onderhoud gesê.

Oor die narratief dat Rusland en Oekraïne ʼn gelyke aandeel in die oorlog het, sê Abravitova: “Dit is nie my soldate wat in Rusland besig is om burgerlikes dood te maak nie. Al die oorlogsoptrede is in Oekraïne. Nagenoeg 15 000 soldate en offisiere is dood. So sê asseblief vir my, is daar enige ander partye in hierdie konflik? Het Rusland gevegsoptrede op sy grondgebied? Nee.”

Abravitova sê Oekraïne het jare gelede, nes Suid-Afrika, sy kernwapenprogram laat vaar en daarom is daar lande wat nou help om die land te beskerm. “Indien ons vandag ons kernwapens gehad het, sou Rusland dalk twee keer gedink het om ons aan te val.”

Oor Suid-Afrika se standpunt oor die konflik, sê Oekraïne se mees senior diplomaat in Suid-Afrika dat elke land bilaterale verhoudings met ander lande het. Daar is niks mee fout om dié bande te bou nie.

“Wanneer ons praat oor ʼn stemming oor verskillende internasionale raamwerke en organisasies, is hierdie posisie elke land se reg en een wat hy voorbehou – om ten gunste van iets te wees, gekant daarteen, of buite stemming te bly.

“Jy moet die posisie van elke land erken en verstaan waaruit dit spruit.”

Sy sê egter ook gewone Suid-Afrikaners moet voortgaan om Oekraïne te steun.

“Ons beskerm die regte wat julle hier in Suid-Afrika verenig. Kyk hoe sterk is die Oekraïners. Wie sou 30 dae gelede gedink het die tweede grootste weermag ter wêreld sou die derde grootste weermag ter wêreld vra vir steun om die 22ste grootste weermag te beveg?

“Niks is onmoontlik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Onbesmetlik ·

Dit is die afgryslikste situasie in Oekraïene. My hart bloei vir hierdie mense wat NIKS verkeerd gedoen het nie. Dit is mense soos ek en jy wat deur ‘n maghonger-monster vernietig word. Ons moet Bid dat God sal ingryp en hierdie afgryslikhede sal stop!!!!!

Thom ·

As jy dink dat gebede vir poetin gaan stop gaan jy lank wag.

Thom ·

En onthou dat poetin ook bid __ nogal vir dieselfde ” God”

Julius ·

Nee mm dis nie nodig om propoganda aan te wakker nie. Laat Putin sy taak voltooi.

Pietertjie ·

Charity begins at home: Mens weet nooit wat is die waarheid, en wat is fopuus nie.

Dup ·

Ons regering en oom Putin is groot vriende.So hulle sal beslis nie ñ helpende hand na Oekraine uitsteek nie.

annie ·

… sulke goeie mense moet beter leiers kies. Soek ‘n slag ‘n foutjie by Oekraïene en die buiteland wat hierdie tragedie soos ‘n fliek beskou. Hierdie land tart Rusland al lank en nou bedel hulle onbeskaamd vir hulp en geld.

Thom ·

Jy was duidelik NIE in Angola nie! Op watter manier ” tart” jy ‘n land Waar nie eers vrye uitsaaiwese of pers is nie?

Jacques ·

Ek wonder wanneer MM ‘n onderhoud met die leierskap van Donesk of die Russiese ambassadeur gaan voer, om uitvoering aan hulle leuse “gebalanseerd en betroubaar” te gee of …… is dit te veel gevra?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.