Sanger deel ‘klein verrassing’ in musiekvideo

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die gewilde Pretoriase sanger Sorina, ook bekend as Witbank se Flooze, het in ʼn musiekvideo wat pas bekend gestel is subtiel ʼn ‘klein verrassinkie’ met haar aanhangers gedeel.

In die liedjie getiteld “Hoofletters”, bespeur ʼn mens ʼn swanger magie en heel aan die einde van die video hou sy ʼn sonarfoto vas. Haar eersteling, wat na sy pa, Braam Riekert, vernoem is en die troetelnaampie Braambossie gekry het, maak dan sy tweede verskyning op een van haar musiekvideo’s. Braambossie se debuutverskyning was kort ná sy geboorte in Mei verlede jaar toe sy en Braam ʼn musiekvideo gemaak het om hom in die wêreld te verwelkom.

Sorina het Donderdag aan Maroela Media gesê sy en manlief verwag hul tweede kind en sy is nou 16 weke swanger. “Of vier maande soos julle mans dit verstaan,” het sy geskerts.

“Ek deel die nuus dat ek swanger is in die video want die video gaan daaroor dat ʼn mens jou liefde vir ander in hoofletters moet uitbasuin. Of dit nou ʼn ouma vir haar dogter en kleinkind is, ʼn pa vir sy seun, of ʼn ma vir haar ongebore babatjie, die liefde moet in hoofletters uitbasuin word. Ek moes net die babatjie inbring as ʼn teken van liefde,” het sy passievol verduidelik.

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Sorina se nuwe CD, ook getiteld Hoofletters, word eersdaags bekend gestel. “Dit is nou vir my, Braam en Braambossie die begin van vele nuwe dinge. Die nuwe babatjie, die nuwe CD en ʼn nuwe huis wat tans in Irene gebou word. Dit is opwindende tye en ons is dankbaar vir al die seëninge.”

Op die vraag of ouma al begin brei het aan babakousies, skerts sy vinnig: “Ouma, nes ek, moet eerder nie brei nie want daar gaan net gate wees. Ons sal maar alles koop. Miskien sal oumagrootjie ietsie brei.”

Sy het bygevoeg hulle sal begin babakleertjies koop sodra hulle die baba se geslag weet. “Sodra ons weet of dit ʼn seuntjie of ʼn dogtertjie is, sal ons julle laat weet.”

Braam het aan Maroela Media gesê hy is ongelooflik opgewonde en die nuwe pienkvoet wat in Maart verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarie ·

Baie mooi video… Baie geluk met die nuweling wat oppad is:-)

Jannie ·

Baie beter en vrouliker as die simpel flooze met haar leer baadjies – go girl!

Isabel ·

Daar’s ‘n Braambossie glo daar sal sal ‘n Braambessie ook wees baie geluk Sorina en Braam

Theresa ·

Ek stem Jannie. Kon nog nooit die Flooze-ding begryp nie. Afskuwelik gewees maar Sorina is die pragtigste vroulikste vrou nog. Baie geluk aan hulle en mag al die Seëninge julle toevou. Geniet die swangerskap en hou ons op hoogte. Dis mos nou lekker nuus……………………..

Plaasboer ·

Jong flooze was en is uniek. Het n show van Sorina gekyk en moet se dit was flippen cool. Geluk met die kleinding oppad

neelsie ·

Kon nooit vat kry aan die Flooze-ding nie.
Jy kan baie beter doen as dit.
Geluk ,baie mooi.

Odiegirl ·

Dit is nou my gunsteling dit so so mooi en die seuntjie is te kostelik !!!!!!!!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.