Sanger se noue ontkoming toe motor ontplof

Kobus Muller. Foto: Facebook via @kobusmullerfanpage

Die Suid-Afrikaanse sanger Kobus Muller het vandeesweek ʼn noue ontkoming gehad toe sy bewegende motor skielik in vlamme uitgebars en Muller net-net betyds uit die brandende wrak kon ontsnap.

Muller het in 2007 bekendheid verwerf as die wenner van televisiesangkompetisie, Supersterre, en het in die daaropvolgende jaar sy debuutalbum vrygestel. Hy het sedertdien nog vier albums uitgereik en het selfs verlede jaar ʼn internasionale platekontrak by Nextereo Records losgeslaan.

Die toneel wat hom egter Donderdag in die vroeë oggendure in Malibongwerylaan in Randburg afgespeel het, was ver verwyderd van sy normale bestaan in die vermaakbedryf en het die sanger erg getraumatiseerd gelaat.

Muller vertel dat hy ongeveer twee jaar gelede met sy motor in ʼn botsing betrokke was. Die motor is ná die botsing na ʼn paneelklopper geneem om herstel te word, maar kort daarna het die motor se remme begin probleme gee.

“Terwyl ek ry sou daar net ʼn klomp liggies op die paneelbord aangaan en dan sou my remme skielik nie werk nie. Die motor het soms ook net uitgesny en dan moes ek noodgedwonge die battery ontkoppel, die motor se rekenaar weer herstel en die battery weer terugkoppel voordat die motor wou aanskakel,” verduidelik hy.

Die brandende motor. Foto: Verskaf

ʼn Lang en frustrerende proses het gevolg waartydens Muller die motor by ʼn reeks ondernemings en kenners gehad het in ʼn poging om die fout op te spoor. Hy vertel dat hy die motor verskeie kere by die motorhandelaar self, paneelkloppers, ʼn elektronika-maatskappy en voertuigplanadministrateurs gehad het sonder om ooit ʼn oplossing vir die probleem te vind.

“Elke keer as hulle die motor moes regmaak, het hulle vir my gesê daar is nie ʼn probleem nie. Iemand het selfs vir my gesê die probleem is net in my kop. Ek en my makelaars het alles in ons vermoë gedoen om hierdie probleem uit te sorteer, maar elke keer is die voertuig net weer na die volgende persoon verwys of daar is herstelwerk aan die motor gedoen wat nie die probleem opgelos het nie,” sê hy.

Hy vertel dat hy Donderdag omstreeks 02:00 in Malibongwerylaan in die rigting van Lanseria op pad was, toe liggies op die kontrolebord by die stuurwiel weer aangegaan het soos al telkemale vantevore gebeur het. “Die liggies het net mal gegaan en ek het probeer rem trap, maar daar was niks. Die stuurwiel het gesluit en die volgende oomblik het ek ʼn klapgeluid onder die enjinkap gehoor,” vertel Muller.

“Toe ek weer sien, het daar rook en vlamme onder die enjinkap gekom. Die kar ry omtrent 50 km/h, die stuurwiel is gesluit en die remme wil nie werk nie. Al wat ek kon doen was om te wag dat hierdie vlammende doodskis self tot stilstand kom sodat ons daar kan uitkom.”

Muller vertel toe die voertuig tot stilstand kom, het sy vriend by die passasiersdeur uitgespring, maar sy deur aan die bestuurderskant wou nie oopgaan nie. “Ek dink ek het weens die skok net nie helder gedink nie, maar ek het nie daaraan gedink om ook by die passasierskant uit te klim nie en het toe deur my venster uit die kar geklim,” sê hy.

Die brandende motor. Foto: Verskaf

Hy vertel hulle was skaars uit die motor, toe daar ʼn ontploffing by die enjin plaasvind en die hele voertuig in ligte laaie was. Terwyl die brandende voertuig langs die pad gestaan het, het Muller ʼn asma-aanval gekry van die rook en erg paniekerig geraak.

“Ek kan eintlik nie baie duidelik onthou wat gebeur het nie en ek vermoed dat ek net heeltemal in skok ingegaan het. My vriend het vir my vertel dat ek glad nie kon asem kry nie en naderhand op die grond rondgekruip het uit paniek omdat ek nie kan asemhaal nie,” vertel hy. Hy sê dat hy later meer as een keer sy bewussyn verloor het en dat veiligheidsbeamptes kardiopulmonêre resussitasie moes doen om hom weer by te bring. “Hulle het na die tyd vir my gesê hulle moes my elke keer weer aan die lewe kry,” het hy gesê.

Die brandende voertuig is uiteindelik deur brandbestryders geblus en Muller en sy vriend het later die dag die voorval by die plaaslike polisiestasie aangemeld.

“Alles wat in daardie voertuig was, is weg. My kitare, mikrofone, my sleutels, my gholfsak. Ek het ook ʼn klomp voorraad van my nuwe album in die motor gehad, wat juis laat druk is vir die feesseisoen, wat alles verbrand het,” sê Muller.

“Hoewel dit ʼn groot verlies is, is dit aardse goed wat ʼn mens weer kan vervang. Ek is net dankbaar dat ek en my vriend betyds uit die motor kon kom, want as ons ʼn minuut later uitgekom het, was ons dood. Dit was net duidelik nie ons tyd om dood te gaan nie,” sê hy.

“Ek dink nie die hele voorval het eintlik al behoorlik by my ingesink nie. Ek kry nie geslaap nie en kry nagmerries oor wat gebeur het. Ons is albei fisiek oukei, maar die trauma van die hele ding is moeilik om te verwerk.”

Muller het sy dank uitgespreek teenoor almal, insluitend die brandbestryders en metropolisiebeamptes, wat hom en sy vriend tydens die voorval bygestaan het en wat hy nie kans gekry het om te bedank nie.

Volgens Muller word daar tans ʼn ondersoek gedoen om vas te stel wat presies veroorsaak het dat die motor se enjin ontplof het. Hy sê hy beplan om regstappe te doen teen enigiemand wat nalatig was in die inspeksie en herstel van die motor wat uiteindelik tot dié skokvoorval gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Angelique grobler ·

Hoekom ni di “brand” van di voertuig ni of is dit n geheim

johann ·

dit was seker n ford produk .het dieslfde probleem gehad en wag al 3 jaar vir ford se reaksie ,Het die gemors op 19000 km.teen n geweldige verlies verkoop.

Ouvrou ·

Dit lyk soos ‘n Micra of i10. Ry hulle ou seun. Ons het al almal deur geloop onder “dis in jou kop”

Peet Schabort ·

Ook ek het die ondervinding gehad dat daar van die vervaardiger geen bystand is. Dit het gegaan oor ‘n xenon gloeilamp wat skaars 700 uur kon gedoen het teenoor die 3000 uur waarmee gespog word. Wanneer jy daardie voertuig gekoop het is die vervaardiger klaar met jou.
Hopelik sal MM ons laat weet die name van al die betrokkenes sodat ons die inligting ook ‘in die kop’ kan kry.

LB S ·

Shoe, ou, gaan vir berading. Moes ‘n nagmerrie gewees het om te beleef!

René ·

Duidelik weet Christene nie hoe paniekerig mens kan raak as jy NIE asem kry nie… hy het ‘n asma aanval gekry gepaardgaande met skok! Eise en wêreldse goed was beslis minste waaraan hy gedink het op daardie oomblik! Hoop dit bly jou gespaar.

Dink ·

Tov die remme wat nie wou werk, wat van die handrem, ratte, afskakel, ens?

Liana ·

Sê nou net daar was n baba in n stoeltjie vas gegespe in die kar. Dit moet verskriklik wees om te weet jy moet uit en jy kan nie.

Yankee ·

Looi my, maar ek dink hy vertel die storie heelwat dikker as wat dit werklik was.

Eish ·

Daar behoort n papierspoor te wees.
Ek sal graag wil weet wat die fabrikaat voertuig is.

LB ·

Ek het al ‘n kar gesien wat aan die brand slaan en binne sekondes brand alles. Ek dink nie hy dik aan nie. Hoekom noem hulle nie die kar se maak / model nie?

Anoniem ·

Slang in die gras!!! Die perd soek n ander kar en hy tog net geworry oor sy vriend. Wat soek hy en sy vriend so laat op die pad. Gaan slaap broer. Hoop iewers was kameras wat iets kan verklap.

Linda Olivier ·

Sjoe, die negatiewe kommentators werk seker vir Mnr Muller se assuransiemaatskappy en het sommer dadelik met hul ondersoek tot die teendeel van wat die slagoffer sê begin of was op die toneel.

SjN ·

Toe hy glo gevra is of hy nou met die gebakte pere sit toe het hy geantwoord dat hy vinnig uitgespring het.

malan ·

Dis jammer dat sommige mense sulke belaglike gevolgtrekkings maak. Hoe kan jy jou eie kar laat ontplof sonder dat daar bewyse agterbly? Die moderne motors wat als deesdae “elektronies” beheer word kan veroorsaak dat daar weens n kortsluiting nie die nodige interaksie met die remme plaasvind nie en jou remme kan nie werk nie, dis n feit….so ook die nie oopmaak van deure weens elektroniese fout…. Iewers gaan n handelaar aan die pen MOET ry! Die feit dat die liggies aankom spreek boekdele van n elektroniese konkoksie. Gelukkig het hulle dit oorleef! Alle sterkte!

Janine ·

“Ek kan eintlik nie baie duidelik onthou, maar…” Genade, maar die mannetjie is dramaties! :’) Hehehehe!

Anna ·

Ek het al presies dieselfde aanmerkings van n motorhandelaar se dienste departement gehoor. “Dis net in jou kop”, “ons weet nie wat fout is nie”, of “dit is onmoontlik”. Jou veiligheid as verbruiker beteken vir niemand niks.v

Ebs ·

Ek het ook verskriklike probleme met duikkloppers ondervind. Hulle vang gemors aan en die RMI beskerm die besighede en die kliënte nie.

Christine ·

Net om aan te las by my vorige kommentaar, ek besef dis dramaties, en n mens dink ni reguit ni, maar wat ek ni verstaan ni, is na AL di asma aanvalle en di feit dat hulle hom tekemale weer aan di lewe moes kry, word geen melding gemaak dat hy hospitaal toe is ver verder ondersoeke of n check up ni….n veiligheidsbeampte ht dan CPR toegepas aan hom? ….staan n mens daarna maar net op en gaan aan??? ..hulle het net later di klag gaan aanmeld….dis hoekom ek se, sy drama looppbaan gaan dalk verder vorder as sy sangloopbaan.

Smittie ·

In die dae van karre met carburetors het jy nooit die petrol onder baie hoë druk in die engin kompartement gehad. Ja solank die ign skakelaar “aan” is loop daai pomp tot druk hooggenoeg is om dit af te skakel. Kan jy jou voorstel as daar fout kom pyp breek of iets. Skielik spuit daar baie petrol (of diesel) daar in die engine kompartement. Katastrofies.

Ben ·

Ons werk in die Elektroniese bedryf. Daar is omtrent geen ondersteuning van Maatskapy van China, Italie, Duitsland, Brazilia ens. Die motovevaardigers in Suid Afrika en ook wereld wyd is ook skuldig. Wag maar tot jou motor se ECU begin probleme gee. Die minste wat die mense kan doen is om ‘n elektroniese stroombaan diagram beskibaar te stel. Dit is tyd vir wetgewing in die bedryf.

Danie ·

Wel my maat jy kan nie regstappe neem teen enige iemand wat voertuig herstel het tensy hul nalatig was maar ek is n paneel klopper vir oor die 30 jaar en nog nooit so n probleem gesien nie my opienie is dat die bedrading binne in hull omhulsel dalk in die ongeluk beskadig is en n kortsluiting veroorsaak het ja ek het dit al baie gekry op voertuie wat ek reg gemaak het maar n onplofing van die motor nee klink meer of jy dalk moeg geword het van die voertuig hy is verseker ne maklike ytkoms

Plaas Japie ·

Snuif snuif, ek ruik n grooot stink rot! Hoekom sal die stuurwiel lok? Dit werk nie deur elektroniese stelsel nie maar deir jou sleutel! Wat soek jy so laat in die strate as jy weet jou kar gee probleme? Hoekom nie handbriek gebruik nie? Wees bly ek is nie die ondersoek beampte nie!

Robbies ·

Ai DAAR IS KLOMP CSI manne en vroue in Suid Africa, een vraag wie was al in Hi Jack , motor wat brand in boot wat omslaan?? Baie min wat doen jy in so geval ALS VERKEERD want jy skrik soo groot jy vergeet als wat jy geleer het, Kom ons se dankie die seun en sy vriend is ok, KON JOU BROER OF KIND gewees het, WAT DAN?? As jy al die klomp bollie lees ??? Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.