Sanger skuil in hysbak terwyl boewe toeslaan

Mathys Roets

Mathys Roets

Mathys Roets en sy vriendin moes vroeg Saterdagoggend in sy huis se hysbak skuil nadat ʼn onbekende aantal inbrekers op sy huis in Eldoraigne in Pretoria toegeslaan het.

Hoewel die diewe vort is met toerusting ter waarde van nagenoeg R50 000 en ʼn televisiestel, sit hy glad nie op moedverloor se vlakte nie. Die ergste van die voorval is om alles vervang te kry voordat hy Woensdag op ʼn toer gaan.

“Hulle was nie hier om ons seer te maak nie. Hulle het gekom om in te breek en te steel. Hulle moes baie professioneel gewees het,” het Roets Maandag aan Maroela Media gesê.

Roets se motorhuis waar die boewe toegeslaan het. Foto: Verskaf

Roets se motorhuis waar die boewe toegeslaan het. Foto: Verskaf

Hy het verduidelik dat sy huis omhein is met ʼn 2 m hoë elektriese omheining. “Hulle het dit reggekry om oor die heining te kom sonder om die alarm te laat afgaan. Hulle het daarna hul weg tot by my motorhuis gevind sonder om enige ‘ogies’ te laat afgaan. In die motorhuis het hulle ʼn sak gevat wat soos ʼn skootrekenaarsak lyk. My mikrofone en ʼn koordlose klankbord wat aan my iPad kan koppel, was daarin. Hulle het ook ʼn data-projektor gebuit wat ek gebruik wanneer ek motiveringspraatjies doen. Die alarm het eers omstreeks 05:00 afgegaan toe hulle gulsig geraak het en die televisie in die huis kom steel het.”

Roets en sy vriendin, Jané van Litsenborgh, het danksy die alarm wakker geword en gehoor daar is iemand in die huis. Die paartjie het in die hysbak geklim en dit tussen die onderste en boonste verdieping laat stilhou en daar geskuil totdat hulp opgedaag het.

“Veiligheidsbeamptes van ADT was spoedig op die toneel. Dit was seker so drie minute, toe was hulle daar.”

Die inbrekers het hulle kort daarna uit die voete gemaak deur weer oor die heining te klouter. Dié keer het hulle die heining se alarm laat afgaan wat Roets-hulle die gemoedsrus gegee het dat die boewe weg is.

Beamptes van die Wierdabrug-polisie was kort daarna op die toneel.

“Al krisis is om dié toerusting betyds vervang te kry voor my toer Woensdag begin. Dit is toerusting wat spesiaal voldoen aan my behoeftes. Maar ek sal dit vervang kry en dit sal geen uitwerking op my vertonings hê nie,” het hy sy aanhangers gerusgestel.

“Ek is nogal spyt dat hulle met my mikrofone daar weg is; hulle sal nie juis enige nut daaruit kan kry nie. Hulle het seker gedink daar is ʼn skootrekenaar in. So, as iemand êrens ʼn skelm ou hoor sing, en hy klink soos ek, moet hulle my asseblief laat weet!” Hy skerts verder en sê hy neem aanstoot dat hulle ook nie sy tas met CD’s gesteel het nie. “Hulle kon dit maklik vir R20 000 verkoop gekry het.”

Roets is vol lof vir ADT en die Wierdabrug-polisie, wat ʼn saak van huisbraak ondersoek. “Albei spanne was professioneel en deeglik. Die proses het vlot verloop en ek het binne ʼn halfuur ʼn saaknommer gehad wat die administratiewe las op my minder gemaak het.”

Hy het gesê dit is die eerste soortgelyke voorval in die 16 jaar wat hy in die huis woon. Hy beplan om die veiligheid op te knap om tyd te wen indien so iets weer sou gebeur. “Ek weier om in vrees te lewe en gaan nie toelaat dat só ’n voorval dit veroorsaak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ina ·

Ja en nou moet ons soooo dankbaar! wees dat ons met ons lewe daarvan afkom om die storie te kan oorvertel…..

Antonie willem van den berg ·

Beste Wat, sien jy dat hulle hom nie gaan soek het nie, sou wel anders afgespeel het as hy hulle gekonfronteer het

Francois le Cochon ·

Het al ook ‘n gewapende roof in my huis gehad in 1999. ‘n Mens kom nie daaroor nie. Gelukkig was niemand beseer nie.
Ek kan my indink die verskrikking van mense wat hierdeur gaan en beseer of gedood word.
‘n Alarmstels met “perimeter detection” en “armed response” is ‘n MOET. (Ek het 2 dae in ‘n nuwe huis gebly en was besig om die alarm stelsel self te installeer). Geen koste moet ontsien word nie. GLO MY.

Tienkie ·

God dank jul kon veilig wegkruip, dit is vreesaanjaende gevoel as mens nie weet wat hul volgende aksie gaan wees nie! Om ook ligaamlik beperk te wees nog soveel erger (ek weet) sterkte hoop als werk ten goede uit en jul nooit weer deur so-iets hoef te gaan

Winston ·

Mathys ek is bly jy het ingedeerd daarvan afgekom. Klaarblyklik is jy oortuig dat hulle jou nie wou leed aandoen nie. Hulle was bly jy kruip weg want anders is die soektog na hulle bietjie feller. Dan was dit moord. Hulle sou jou uit die weg geruim het indien jy die geringste weerstand gebied het. Geen respek vir jou eiendom nie so waarom vir jou respek hê? Sterkte

Bleek Sannie ·

Mathys ek is verheug en dankbaar dat jy en jou geliefde ongedeerd is! Baie sterkte en voorspoed.

Johann Marx ·

R50 000 se goed plus TV (+/-R8000?)….wat vervang moet word en vir die regering 14% genereer. oftewel R7 122.80. Twee meter elektriese heining om ‘n huis? Maklik R25 000,00 se “gedwonge uitgawe”…wat vir die regering R3 070,00 genereer. “Ogies” en alarms? NOG 14% vir regering. ADT teen ‘n vaste tarief per maand? NOG 14% vir die regering. Solank as wat misdaad vir die regering geld genereer, sal dit nie gestop word nie.

kloekie ·

Ek wonder hoekom die alarm en ogies nie aanvanklik afgegaan? Wil voorkom of hul perseel ken en selfs onhoud. Ek sal die werkers ondervra as dit ek was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.