Sanger tydens plaasmoord doodgeskiet

Wynand Breedt (Foto: wynandbreedt.co.za)

Wynand Breedt, ʼn bekende sanger en liedjieskrywer in die Wes-Kaap, is Vrydagaand tydens ʼn aanval op ʼn plaas in die Nuy-vallei tussen Worcester en Robertson doodgeskiet.

“Polisiebeamptes is omstreeks 22:30 na die toneel ontbied,” het sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, gesê. “ʼn 45-jarige man is dood aangetref met ʼn skietwond in sy bors. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.”

Rwexana het gesê die polisie se ondersoek duur voort.

Breedt het ook musieklesse oraloor in die Wes-Kaap aangebied. Sy musiekloopbaan het begin toe hy as agtjarige seun eerste sopraan gesing het. Hy was lid van verskeie kore, insluitend die Tygerberg Kinderkoor, waarby hy op 13-jarige ouderdom aangesluit het.

In die begin van sy sangloopbaan het hy deelgeneem aan jaarlikse Eisteddfods en sangkompetisies. Hy het as eerste sopraan by die Kaapse Jeugkoor aangesluit as 15-jarige, maar het vinnig na ’n bas verander.

“Mr Bass-man” het sy sangloopbaan op dreef gekry deur deel te neem aan musiekproduksies soos onder meer Jukebox Mania. Hy het gereeld voor gehore opgetree as hoofsanger of saam met ander groepe op die verhoog verskyn.

Sy album “Gee my een wens” het onlangs verskyn.

Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou, het die voorval veroordeel. “Die onlangse aanval op ʼn plaas in die Worcester-omgewing is nóg ʼn tragiese voorval van ʼn huisbraakpoging en ʼn saak is reeds by die polisie geopen,” het hy aan Maroela Media gesê. “Ons werk om die skuldiges vas te trek en daar sal geen genade wees vir skuldiges in die verband nie.”

Meyer het bygevoeg landelike veiligheid is vir hom en die Wes-Kaapse regering ʼn ernstige prioriteit. Hy vergader Maandag as voorsitter van die interministeriële komitee oor landelike veiligheid in die Wes-Kaap. “Ons moet ons landelike gemeenskappe, ons boere en ons werkers in die Wes-Kaap beskerm,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

Bitter erg en hartseer.
Jy begin net jou loopbaan en dan word jy wreed weggeruk.
Dit was nie jou tyd gewees nie.
Rus in vrede en baie sterkte aan die familie en vriende en kollegas.

Herpiet ·

Plaasmoorde pas die regering soos ‘n skoen. Ek is oortuig hulle verlekker hulle daarin. CR se padda potjie prut nou al lekker en hy maak of niks verkeerd is nie. Hopenlik het die liberales al wakker geskrik

JohanR ·

Het die “Night Of The Long Knives” al stadig begin, of was hy nog altyd hier, en nou net vinnig versnel word? Vir die wat MM hulle aanlyn nuus plek is, sal weet hoe moorde op witmense in die laaste vyf weke versnel het. Maak nie meer saak waar nie….op straat, in jou kar, in jou huis, op jou plot of op jou plaas…… wit mense! Hier en daar is ‘n aanvaller of vyf gewond of dood geskiet, maar die aanvalle en moorde hou net aan versnel. Van Cyril Ramaphosa en die ANC sal jy niks hoer…..die lot is meer as useless. Is daar antwoorde iemand, enigeiemand?

Prikkie ·

Dit begin nou al hoe nader aan my voorstoep kom.

Eers was dit daar ver in afgeleë dele, plase wat ver van dorpe is. Nou is dit sommer by dorpe en binne in dorpe.

Mens begin, reg of verkeerd, al hoe meer die gevoel kry dat hierdie ‘n fyn beplande uitroei van boere op plase is, maar so bly ons ouer mense ook in die slag.

Niemand word ontsien nie.

marthie ·

Wat my kwaad maak is om te hoor van plaasmoorde, aanrandings verkragtings, dan sê hul black life matters maar vir my beteken all lifes matter meer maak ni watse kleur jy is nie. Vrouens, kinders werkers, mans oud, jonk vir my beteken hul baie en kleur. Almal moet saam staan en SÉ genoeg is genoeg all life’s matter. En dat die President en goverment moet nou opstaan ook en se plaasmoorde is ook ‘n groot probleem saam al die ander probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.