Sanger vertel van roof-drama by Pta-sentrum

Arno Jordaan saam met sy seuns, Milan en Luka.

Die gewilde Afrikaanse sanger Arno Jordaan sê sy eerste gedagte toe hy en sy twee kinders hulle bykans midde-in ʼn rooftog bevind het, was om sy kinders se veiligheid te verseker.

Jordaan en sy seuntjies, Milan (6) en Luka (3), was Woensdag by die Kings Meat Deli-slaghuis in Lynnwood Bridge in Pretoria om biltong en droëwors te koop, toe rowers by ʼn nabygeleë juwelierswinkel toegeslaan het.

Die eerste skote het ná 11:00 geklap.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê ʼn bende van agt rowers het die werkers in die juwelierswinkel met vuurwapens gedreig en met juwele gevlug.

Op pad uit het hulle begin losgrand. “Vyf winkels en drie voertuie is beskadig. Niemand in die juwelierswinkel of die sentrum is beseer nie,” het hy gesê.

Die rowers het glo in ʼn wit Nissan Almera en ʼn wit Suzuki Swift gevlug.

Jordaan sê toe die skote begin klap het hy gesien hoe ʼn veiligheidswag op die grond val, gevolg deur ʼn vrou, maar hy het later vasgestel die twee is nie gewond nie.

“Ons het agter ʼn kas gehurk en toe agter in die slaghuis inbeweeg en by die vrieskaste weggekruip.”

Jordaan sê dit het hom ʼn oomblik geneem om tot verhaal te kom. Sy eerste gedagte was wel dat hy sy seuntjies moet beskerm. “Ek het daar besef ek sal my lewe vir Luka en Milan op die spel plaas.”

Hy sê hulle is nie tydens die rooftog beseer nie, maar dat dit steeds ʼn geweldige traumatiese gebeurtenis was.

“Ek was effens emosioneel daarna, maar ek moes reguit daarna tot 20:00 vergaderings bywoon. Die kinders is dadelik na ʼn spelterapeut,” vertel hy.

Hy sê Luka is ná die voorval nog bang om alleen te wees, terwyl Milan sukkel met nagmerries.

Jordaan is tans saam met sy vrou, Lizanie, en die seuntjies in Dullstroom. Hy sê dit was vir hulle belangrik om ná die trauma saam as ʼn gesin te wees en gehaltetyd deur te bring. “Dit is nog vars in ons gedagtes, maar ek is bly ons het dit gedoen. Ons is op ʼn plaas waar dit stil is en ons met gesonde dinge kan besig bly.”

Hy het ook die slaghuis se werkers bedank vir hulle vinnige optrede om klante te help beveilig. “Hulle was so professioneel om almal te help beveilig, dit het amper gelyk asof hulle opgelei is daarvoor.”

Hy sê hulle selfs vir die geskokte seuntjies koeldrank aangedra in ʼn poging om hulle te help kalmeer.

Volgens die polisie is niemand nog in verband met die rooftog aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

As dit vir groot mense ‘n traumatiese ondervinding is hoeveel te meer vir kinders.Sterkte vorentoe.

AmY ·

Hoe op dees aarde kan mens net losbrand?
Arno; baie sterkte aan jou en jou pragtige gesin. xxxx

Naas ·

Terreur, terroriste en rowers aan jou gebring met liefde deur die ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.