Sangeres kry slegte tyding voor optrede

Jennifer Zamudio en haar pa, René. Foto: Facebook

Jennifer Zamudio en haar pa, René. Foto: Facebook

Die sangeres Jennifer Zamudio moes gister by ʼn Noord-Kaapse fees op die verhoog gaan slegs ʼn uur nadat sy gehoor het haar pa is oorlede.

Rindi Maritz, Jennifer se agent, het Sondag aan Maroela Media gesê Jennifer se pa, René, is in die ouderdom van 80 dood nadat hy verlede jaar met longkanker gediagnoseer is.

“Hy het die afgelope paar maande baie agteruitgegaan en ten tyde van sy dood suurstofondersteuning ontvang. Teen die einde het slegs ʼn kwart van sy een long nog gewerk, so hy was baie siek,” het Maritz gesê. “Jennifer se suster was by hom toe dit gebeur het en sy het gesê hy het maar net in sy slaap gegaan.”

Jennifer Zamudio (Foto: Maroela Media)

Jennifer Zamudio (Foto: Maroela Media)

René het in ʼn aftreeoord in die Paarl gebly en was ʼn bekende visserman aan die Weskus. Maritz het gesê Jennifer het ʼn kort ruk gelede twee weke voltyds by haar pa deurgebring om van hom afskeid te neem.

Volgens Maritz het Jennifer se suster haar Saterdag van hul pa se afsterwe laat weet slegs ʼn uur voor Jennifer by die Kalahari Jagtersfees in Kuruman moes optree. “Sy het later vir my gesê sy was aanvanklik paniekerig en het nie geweet of sy haar optrede moet kanselleer of wat sy moet doen nie. Toe besluit sy, ek gaan hierdie optrede vir oulaas vir my pa doen.”

Maritz het gesê Jennifer se optrede het seepglad verloop totdat sy in die laaste liedjie emosioneel “gebreek” en begin huil het. “Hulle moes die musiek stop, want dit was net vir haar te moeilik om aan te gaan. Sy het aan die gehoor om verskoning gevra en vertel van die slegte nuus wat sy so pas ontvang het. Almal het opgestaan en vir haar hande geklap. Die mense het regtig begrip vir haar situasie gehad en haar getroos,” het sy gesê.

“Jennifer se pa was haar grootste ondersteuner. Hulle verjaar op dieselfde dag en was nog altyd baie geheg aan mekaar. Hy sou haar ná elke optrede bel om te hoor hoe dit gaan. Hy was so trots op haar en haar loopbaan,” het Maritz gesê.

Jennifer het Saterdag op haar Facebook-blad geskryf: “Vandag het ek my grootste fan verloor! Jy was ons anker en die beste raadgewer ooit! Pappa, ek gaan jou so baie mis! Lief jou nou en vir altyd.”

Jennifer het onlangs haar elfde en jongste album, Ongelooflik, vrygestel. Maroela Media het ook vroeër berig die sangeres is ʼn finalis in die internasionale videokompetisie, SuperXstar. Sy het intussen ander plaaslike sangers uitgestof en gaan in Oktober aan die finale ronde deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Hartseer berig en ons kry haar jammer – ook omdat die nuus nie terug gehou is tot na die optrede. Voorspoed Jennifer.

Marianne ·

Ai Jennifer my hart breek vir jou.
Sterkte aan julle familie.

Karen ·

Jammer om te verneem van die afsterwe van jou pappie, jy is sterk en Jesus het jou krag gegee om die vertoning vir hom te doen. Voorspoed vir die toekoms en mag jy net die mooi in die lewe ervaar nadat die hartseer minder word.

Wern ·

Jammer oor die slegte nuus, ons dink aan jou en jou familie.

Daniel ·

Sterkte..Girl…jy is en was nog altyd n YSTER…….dink aan jou…in my gebede…

Wat-ek-lees ·

Jennifer, sterkte vir julle. Ook ek gaan tans deur diep waters waar kanker die oorsaak was dat my vrou van my weggeneem is. Verder gaan ek nie uitbrei hierop.
Ontstellend om te weet dat mense gebore na 1960 is daar alreeds wêrelwyd ‘n opname gemaak dat die verhouding van kankerslagoffers tans EEN UIT TWEE is !!!

Lithop ·

Goeiste! Ek sal jou glo, maar dan moet jy belowe om my ook te glo die volgende keer as ek die uiterste twak kwytraak.

Trudie Blignaut ·

My innige simpatie aan Jennifer asook Wat-ek-lees.Die seer versag mettertyd.En dinge word draagliker deur genade van bo.

Annie ·

Baie jammer oor jou verlies en sterkte vir jou en familie. Grootste respek vir jou om nogsteeds in jou hartseer n optrede te doen.

FRED ·

Jennifer, ek wens ek kon jou net n ou drukkie gee – jammer jong, en mag die Allerhoogste jou beskerm en net die nodige liefde, vrede en vreugde, in jou hart sal kom. Sterkte aan jou familie en naasbestaandes. Ek dink aan jou. Wat n sterk ster.

Rina Kotze ·

Sterkte Jennifer en jou familie.

Dit kon nie vir jou maklik gewees het nie, maar jy is bo alles uiters professioneel.

Dink aan jou in die moeilike tyd!

Leo ·

Jammer om te hoor van jou groot verlies Jennifer. Hy’t in jou geglo en help na groot hoogtes ek weet dit sal groter en verdure hoogte bereik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.