Sangeres se familie vra gebede vir ‘sonskynkind’

Candy Benson. (Foto: Facebook)

Cindy en Marc Benson, ouers van die sangeres Candy Benson, pleit vir gebede vir hul dogter nadat sy verlede Saterdag in ʼn Johannesburgse hospitaal met Covid-19-verwante longontsteking opgeneem is.

Sy word sedertdien in die hoësorgeenheid behandel. Candy (30) het verlede maand verloof geraak aan Dylan Emslie tydens die verfilming van haar jongste musiekvideo van die liedjie “7 dae in die somer”.

Volgens Cindy is haar dogter verlede Saterdag per ambulans na die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg gehaas. “Benewens die longontsteking het sy ook bloedklonte op haar longe,” sê Cindy.

“Candy is egter besig om verbetering te toon en die suurstof waarmee sy behandel word, word reeds stelselmatig verminder. Ons kan haar ongelukkig nog nie sien nie, maar sy is wakker en ons praat telefonies met haar.”

Candy is egter nog nie buite gevaar nie en sal nog ʼn week of wat in die hospitaal moet aansterk. “Ons is eintlik nog nie seker hoe lank sy nog daar behandel sal word nie, maar sy is in baie goeie hande met ʼn longspesialis wat oor haar waak.”

Cindy vertel Candy was baie opgewonde oor die uitreiking van haar jongste musiekvideo, al het dit plaasgevind terwyl sy in die hospitaal was.

Candy Benson en Dylan Emslie het verloof geraak tydens die skiet van haar musiekvideo vir ‘7 dae in die somer’. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Dylan, self ʼn musikant en kitaarspeler, het haar gehelp om die liedjie te skryf en het haar gevra om te trou tydens die verfilming van die musiekvideo in Kaapstad.

“Hy vat dit ook, nes ek en haar pa, baie sleg. Dit is sy verloofde en ons enigste kind. Ons is rasend van bekommernis, maar ons kan net bid en sterk bly vir haar onthalwe.”

Sy vertel Candy doen daagliks longoefeninge en ontvang ook fisioterapie vir haar longe terwyl sy in die hospitaal is.

“Sy is van nature ʼn sonstraalkind en haar positiwiteit gee aan ons af. Ons bly deurgaans op ons knieë en wil by mense pleit om saam met ons vir ons kind te bid.”

Candy Benson en haar ma, Cindy. Cindy en haar man, Marc Benson, pleit om gebede vir hulle dogter terwyl sy met Covid-verwante longontsteking in die hospitaal opgeneem is. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Deel van: Bekendes, SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Ons bid vir julle en haar. Weet hoe dit voel. My suster verloor asgevolg van covid. Ons dogter dit ook gehad en ons aanstaande skoondogter het ditvook. Baie sterkte

Paul

Het sy al die jab gevat?

Louisepretorius

ons bid vir haar en haar familie.DIE MENS WIK maar GOD BESKIK. AMEN!!!

Androclus

Mag Die Genade van onse God met jou wees.Amen
En vir jou aanraak met Sy genesende hand.Onthou Hy is altyd in beheer.
Sterkte

Sandra

Alle voorspoed met julle dogter se herstel