Sangers op dag 1 van Kaap-toer beroof

rowers

Argieffoto

ʼn Groep sangers van Pretoria is Vrydagoggend in die vroeë oggendure beroof, op die dag wat hul Kaapse toer afgeskop het.

Gerhard Schoonraad, ʼn musiekpromotor, het gesê hulle het Donderdagaand in Melkbos in die Wes-Kaap aangekom en in twee selfsorgeenhede oornag. Schoonraad is die agent van onder meer Jaycee, Ruan de Waal, en Nickey en Karen Ferreira, wat deel vorm van die jaarlikse Kaapse Toer 2013.

Schoonraad het Vrydag aan Maroela Media gesê drie mans het toegang bekom tot die eenheid waarin hy, die klankman, Steven Smith, en Ruan geslaap het, deur die onderkant van die dubbeldeur oop te breek. “Ek het wakker geword toe ʼn gewapende man in my kamer oor my staan met ʼn groot slagmes. Hulle het my aangehou terwyl hulle die hele eenheid gestroop het. Hulle het soos gesoute rowers gelyk en het hul gesigte met balaklawas bedek. Ons het net kalm probeer bly en hulle hul gang laat gaan,” het Schoonraad gesê. Die mans was onderskeidelik met ʼn slagtersmes, ʼn skroewedraaier en baksteen gewapen.

Volgens Schoonraad was daar ʼn otgebruikte kluis in sy kamer. “Hulle het aangedring dat ek die kluis oopmaak. Die sleutel wat in my besit was, wou nie die kluis oopmaak nie, en ek het vir hulle probeer verduidelik dat daar niks in is nie én dat die sleutel nie werk nie. Hulle het aggressief geraak en begin om die kluis uit die muur uit te ruk.”

Die eenhede waarin die groep geslaap het, staan reg teen mekaar en deel ʼn gemeenskaplike muur. Jaycee en  Nickey het wakker geword van die geraas en begin skreeu, waarna die mans gevlug het.

Hulle is vort met vyf skootrekenaars, twee tablette, twee BlackBerry-selfone, ʼn kamera, klere en kontant.

Schoonraad sê hulle is gelukkig om ongedeerd van die voorval af weg te stap en dat die toer gaan voortgaan. “Ons is net nou in ʼn groot penarie want al ons musiek, werk en agtergrondmusiek van die sangers was op ons skootrekenaars, en ons moet inderhaas skarrel om alles bymekaar te kry voor ons kunstenaars vanaand optree,” het hy gesê.

Die Melkbosstrand-polisie was kort na die voorval op die toneel. Hulle ondersoek ʼn saak van roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jasper ·

Hoe weet die vuilgoed waar is wie, en wanneer ? “Inside info”

Vas Vat ·

Jasper, die dryfveer van ons ekonomie bestaan uit “crime”

magdalena ·

Waar en wanneer kan ek in SA terug en veilig kom kuier! Dit is altemaal so jammer van die mooi land!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.