Sangoma vas oor rituele moord

sangomaDie polisie in Limpopo het twee verdagtes, waaronder ʼn sangoma, in hegtenis geneem in verband met ʼn rituele moord op ʼn 33-jarige vrou.

Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn provinsiale woordvoerder, het Woensdag gesê die verdagtes is in Gauteng en Thohoyandou in Limpopo aangekeer. Hulle word verdink van die moord op Mercy Ndou van Hamakuya. Sy het op 15 Mei verdwyn nadat sy inkopies in Thohoyandou gaan doen het. Haar liggaam is presies ʼn maand later in Tshitavha opgespoor. Haar liggaam was geskend en haar regterbeen en geslagsdele was vermis. “ʼn Taakspan is saamgestel om haar moord te ondersoek, wat tot die verdagtes se inhegtenisnemings gelei het,” het Mulaudzi gesê.

Die verdagtes verskyn Donderdag in die Thohoyandou-landdroshof.

Intussen het Samson Majoko (35), van Mosambiek, Woensdag in ʼn hof in Limpopo verskyn nadat hy onlangs met liggaamsdele betrap is. Die saak is tot 31 Julie uitgestel vir verdere ondersoek. Maroela Media het verlede week berig Majoko is in Malamulele in Limpopo in hegtenis geneem. “Die polisie het inligting ontvang dat die verdagte liggaamsdele in die gebied wil verkoop,” het Mulaudzi destyds gesê. “Die polisie het dadelik reageer en die verdagte op die toneel in sy voertuig aangetref. Hy het ʼn plastieksak by hom gehad met twee hande en geslagsdele daarin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.