Sannieshof-plaasaanval: Ses weer in hof

BC en Marlette Greyling. Foto: Verskaf

Ses verdagtes verskyn weer Vrydag in die Delareyville-landdroshof op aanklag van moord, poging tot moord en huisbraak ná ʼn plaasmoord by Leeukuil-plaas naby Sannieshof in Noordwes.

France Kubone (26), Tebogo Mogolotsane (28), Small Mokgele (29), Zacharia Nyalimathe (33), Musona Nyathi (35) en Joseph Zakenya (32) is op 18 Mei in Sannieshof en Ottosdal in hegtenis geneem ná ʼn uitgebreide ondersoek. Hulle het reeds in die hof verskyn en twee van die verdagtes het aangedui dat hulle om borgtog wil aansoek doen.

ʼn Skootrekenaar en drie selfone wat vermoedelik tydens die voorval geroof is, is tydens hul inhegtenisneming in hul besit gevind.

Maroela Media het vroeër berig BC Greyling (59) en sy vrou Marlette (57) en BC se ma, Magdaleen Greyling (87), het op 16 Mei omstreeks 19:30 die aand aan tafel gesit besig met aandete terwyl hulle nuus gekyk het.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur een van die slaapkamers se groot vensters te breek. Drie het glo buite die huis gewaak. BC het gaan ondersoek instel en was skaars in die portaal toe ʼn verdagte hom trompop in die bors geskiet het sonder om ʼn woord te sê.

Marlette is tydens die voorval in haar regterblad geskiet. Die koeël is links bó haar buik uit en het een van haar longe skrams gemis. Magdaleen het na die sitkamer gevlug en het onder ʼn tafel weggekruip.

BC is op die toneel dood. Marlette moes na ʼn hospitaal geneem word en is op 19 Mei ontslaan. Magdaleen is ongedeerd maar getraumatiseerd.

Die verdagtes het met vuurwapens, drie selfone en die egpaar se bakkie van die toneel gevlug en het ontsnap deur van ʼn dienspad langs ʼn spoorlyn gebruik te maak om blokkades wat deur omliggende boere gestel is te vermy. Die bakkie is later verlate naby Ottosdal opgespoor.

Lees alle vorige berigte oor Sannieshof op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Mis ek dan nou die N wes premier se kommentaar. Het hy ook toesprake gehou en ‘n rasse saak daarvan gemaak? Vra maar net. Die ongelykheid duur maar net voort en ons aanvaar maar net.

Christopher Smit ·

Weereens nog n plaas aanval in Sannieshof in die vrooë oggendure waarin n vrou erg aangeval is, en alhoewel sy lewend daarvan afgekom het, was die aanval baie erg en so onnodig!Laat ons op ons knieë gaan en bid vir die satan om te wyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.