Sannieshof-plaasaanval: Verdagte skuldig op alle aanklagte

BC en Marlette Greyling. Foto: Verskaf

Nóg een van die ses verdagtes wat verlede jaar in hegtenis geneem is in verband met ʼn plaasmoord naby Sannieshof in Noordwes waartydens ʼn 59-jarige man doodgeskiet is en sy vrou erg gewond is, is Vrydagoggend skuldig bevind aan moord.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Volgens haar is Zacharia Nyalimathe (34), wat onskuldig gepleit het, skuldig bevind op tien aanklagte waaronder moord, poging tot moord en talle aanklagtes onder die vuurwapenwet.

Nyalimathe se skuldigbevinding kom nadat France Kubone (27), Tebogo Mogolotsane (29) en Joseph Zakenya (33) vroeër vanjaar aan dieselfde aanklagte skuldig bevind is. Hulle is elk tot 76 jaar tronkstraf gevonnis. Die vyfde verdagte is ʼn staatsgetuie en die sesde verdagte is op vrye voet.

Die polisie kon nie bevestig of Nyalimathe teen Vrydagmiddag gevonnis is en of die vonnisverrigtinge Maandag plaasvind nie.

BC Greyling (59), die oorledene, sy vrou, Marlette (57), en BC se ma, Magdaleen Greyling (87), is verlede jaar in hul huis oorrompel. Drie verdagtes het glo toegang tot die huis verkry deur een van die slaapkamers se groot vensters te breek, en nóg drie ander het buite die huis gewaak. BC het gaan ondersoek instel en was skaars in die portaal toe ʼn verdagte hom trompop in die bors geskiet het. Hy is op die toneel dood.

Marlette is tydens die voorval in haar regterblad geskiet. Die koeël is links bó haar buik uit en het een van haar longe skrams gemis. Magdaleen was ten tyde van die voorval ongedeerd, maar erg getraumatiseerd.

Marlette as “oorwinnaar” in die hospitaal. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Hoop die familie maak soos
die hani’s gemaak het met Clive Derby Lewis en sorg dat hulle nooit parool kry

D V ·

Dankbaar vit jou Marlette hoop jy is gou op die been ev verwerk alles gou.
Kyk na bo en wees dankbaar vir jou lewe wat gespaar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.