Sannieshof-plaasaanval: Vonnis verwelkom

BC en Marlette Greyling. Foto: Verskaf

Zacharia Nyalimathe (34) is Dinsdag in die hooggeregshof in Noordwes tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op BC Greyling (59).

Greyling, sy vrou, Marlette, en sy ma, Magdaleen Greyling, is in Mei verlede jaar in hul huis op hul plaas naby Sannieshof oorrompel. BC is in die bors geskiet en is op die toneel dood.

Marlette is tydens die voorval in haar regterblad geskiet. Die koeël is links bó haar buik uit en het een van haar longe skrams gemis.

Nyalimathe is tot ’n bykomende 68 jaar tronkstraf gevonnis op die ander aanklagte. Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom. Sy het ook die ondersoekspan geloof.

Nyalimathe is verlede week skuldig bevind op tien aanklagte waaronder moord, poging tot moord en talle aanklagtes onder die vuurwapenwet.

Nyalimathe se vonnisoplegging kom nadat France Kubone (27), Tebogo Mogolotsane (29) en Joseph Zakenya (33) vroeër vanjaar aan dieselfde aanklagte skuldig bevind is. Hulle is elk tot 76 jaar tronkstraf gevonnis. Die vyfde verdagte is ʼn staatsgetuie en die sesde verdagte is op vrye voet.

Die beskuldigdes is kort na die voorval in hegtenis geneem. Hulle het met juweliersware, selfone, ’n rekenaar, ’n skootrekenaar, vuurwapens en ’n Toyota Hilux van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate naby Ottosdal opgespoor. Van die gesteelde items is in die beskuldigdes se besit gevind tydens hul inhegtenisneming.

Die Greyling-egpaar het drie seuns, Gerhard, Marius en Christo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Hoewel ek die goeie werk deur die Polisie, die ondersoekspan, aanklaer en NVG asook die regter waardeer en applous voor gee, wonder ek soms hoekom ‘mense’ soos Nyalimathe en kie. sulke tronkstrawwe opgelê word.

As ek dit nou reg bereken, kan hierdie knaap – as hy hom goed gedra – na so 40 jaar (dis nou as beide strawwe nie gelýklopend uitgedien word nie), uitstap. Nou ja, 40 jaar is 40 jaar ….. waartydens ek, jy en Jan Alleman hom moes voer, klee, onderhou, sorg vir doktersbesoeke, betaal vir toelaes (vir sy persoonlike behoeftes) ens.

Geen mate van tronkstraf sal mnr. Greyling terugbring aan sy familie nie. Hoewel dit goed is dat ‘mense’ soos Nyalimathe & kie. tronkstraf kry, sal ek eerder sien dat hulle hierdie tronkstraf in werkskampe moet uitdien, waar hulle moet wérk vir hul kos, klere, behuising en versorging – hulle moet die voorbeeld van sommige state in die VSA navolg, waar “chain gangs” uitgeplaas word om langs nasionale paaie te vee, te skoffel, vuillis op te tel en ander harde hande-arbeid verrig, onder toesig van gewapende wagte met outomatiese vuurwapens, wat nie bang is om te skiet as dit nodig is nie.

VanAfrika ·

Ten minste is daar n klein sonstraaltjie wat skyn wat hulle nou tronkstraf gee. Voorheen was dit geignoreer, die kuier in OZ en USA het bietjie gehelp. Sluit hulle voor die voet toe en maak voorbeelde van hulle. Nou moet die vandaliste en looters vasgevat word en die ma’s wat hulle babas soos vullis weg gooi

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.