SANParke-baas help self ‘stropers’ vastrek

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

Die uitvoerende hoof van SANParke het vandeesweek ingespring om sommer self te help om drie vermeende renosterstropers in die Krugerwildtuin agterna te sit en uiteindelik vas te trek.

Die voorval het Woensdag in die Tshokwane-gedeelte van die Krugerwildtuin gebeur tydens Fundisile Mketeni se amptelike besoek aan die wildtuin.

Luidens ʼn verklaring van SANParke was Mketeni in ʼn helikopter op pad om die westelike grens tussen die Krugerwildtuin en die omliggende gemeenskappe te besigtig, toe ʼn noodroep ingekom het dat veldwagters besig is om vermeende stropers te jaag. Die helikopter het net daar van rigting verander en saam met die wildtuin se honde-eenheid en ʼn ligte vliegtuig gehelp om die verdagtes agterna te sit.

Drie verdagtes is aangekeer. ʼn Hoëkaliber jaggeweer, ammunisie, stropingstoerusting en vars renosterhorings is in hul besit gevind.

Mketeni het gesê dit is hartseer om die karkas te sien van ʼn renoster wat net ure vantevore vry en rustig in die wildtuin rondbeweeg het – ʼn renoster wat “met sy lewe moes boet weens gierigheid en kriminaliteit”.

“Dit was ʼn voorreg om saam met die toegewyde span veldwagters en lugvleuel-kollegas te werk om hierdie drie verdagtes vas te trek wat geen agting vir die wet het nie,” het Mketeni gesê.

“Ons hoop dat die departement van justisie die swaarste vonnis moontlik vir hulle sal verseker indien hulle skuldig bevind word om sodoende ʼn boodskap aan ander te stuur wat dieselfde voornemens het. Ek bring hulde aan ons veldwagters en vlieëniers vir hul dapperheid en toewyding – mag julle voortgaan om ons te inspireer met julle vasbeslotenheid om ons fauna en flora te beskerm.”

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte wat met renosterstropery verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Sit liewer net die heining terug tussen SA en Moz………en renoster stropery sal met 80% afneem…Dis baie makliker en goedkoper om een heining in stand te hou en te patrolleer….as om agter elke renoster aan te loop…

Robert ·

Hoekom is die naam stropers in aanhalings tekens die mense is gevang met vars renoster horing in hulle besit.

Lollie ·

Mnr. Mketeni, jy sê dit is wreed om te dink daardie renoster het net ure tevore vry rondgeloop en nou lê net die karkas daar. Ons mense is maar dieselfde. Een oomblik vry en die volgende oomblik word jou lewe geneem net vir die genot daarvan om te moor! Dis nie mense nie maar barbare wat agter dit alles sit. ALMAL van hulle moet swaar gestraf word of beter nog, uit die samelewing gehaal word.
Vir hulle is daar geen gevoel vir ń lewe nie. Mens of dier.

Tammy ·

Dis baie goeie nuus dat die klomp stropers gevang is. Baie geluk aan al die betrokkenes en baie dankie vir uitstekende spanwerk. Dis absoluut fantasities om aan die begin van die naweek te lees dat die skurke vasgetrek is!! Hoop hulle word almal gevang en uit die samelewing verwyder. Ons diere en plante is net so belangrik soos ons mense. Wat is die aarde sonder enige van hierdie skakels…niks, n totale ramp. Ek besoek Kruger wildtuin gemiddeld vyf keer of meer per jaar!!! Daar is duidelike tekens van ernstige agteruitgang orals te sien en dis ontstellend, geboue word nie na gekyk nie en die kampe is vuil en onversorg, hoop Mketeni sal ook sy gewig daaragter sit. Asseblief ons hou die spasie dop.

Paul ·

Skuus dat ek negatief is, maar dit sal meer as DIT kos om die verrotting te stop. Die dag as die minister self ook meedoen, sal ons vorentoe beweeg het.

PIKKEWYN ·

Ek is BAIE dankbaar die skurke kon vas getrek word. Dankie vir elkeen wat ‘n bydrae gemaak het. Dis net jammer dit was alreeds te laat vir die renoster

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.