SANParke betreur kapingspoging naby wildtuin  

Só lyk die gesin se motor nadat die verdagtes skote op hulle afgevuur het. (Foto: Facebook)

SANParke het besoekers aangeraai om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle deur misdaadbrandpunte buite die land se nasionale parke reis, aangesien die risiko van opportunistiese misdaad groter is in sulke gebiede.

Dit kom nadat kapers Maandag verskeie skote op ʼn ma van Pretoria en haar twee kinders in hul gesinsmotor naby die Krugerwildtuin afgevuur het.

Dumisani Dlamini, waarnemende uitvoerende hoof van SANParke, het gesê die betreurenswaardige voorval behels ʼn gesin wat broodnodige toerisme-inkomste na die Mpumalanga-provinsie gebring het.

“Ons het met ons kollegas in die provinsiale veiligheidsgroepering gekommunikeer om alle roetes wat na die Krugerwildtuin lei deur gereelde patrollies en sigbare polisiëring te beveilig. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ʼn soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

“Ons doen ʼn beroep op verantwoordelike lede van die gemeenskap om aktief betrokke te wees in die beskerming van toeriste wat die provinsie besoek, aangesien toerisme die sleutel is tot die bevordering van landelike ekonomiese aktiwiteite. Ons wens die gesin sterkte toe en ʼn spoedige herstel aan hul dogter,” het Dlamini afgesluit.

Melani de Beer (39) en haar kinders het vroeër die week die wildtuin by die Numbi-hek verlaat nadat hulle in Pretoriuskop gekamp het. Die gesin was op pad huis toe. Op die R538 by Mganduzweni Trust het sy spoed verminder weens spoedhobbels in die pad.

Vermeende kapers het op die gesin se motor losgebrand en vermoedelik tussen 12 en 15 skote op die motor afgevuur.

De Beer se 14-jarige dogter wat in die passasiersitplek gesit het, is in die proses in haar been gewond en moes sedertdien ʼn operasie ondergaan.

Dié skote het onder meer ’n buiteband, die ruit waar De Beer se dogter gesit het en die motor se enjinkap getref.

Sy het eindelik op die Witrivierpad, sowat agt kilometer verder, stilgehou. ’n Motoris wat die skietvoorval sien gebeur het, het die gesin agtervolg en by hulle stilgehou om hulp te verleen.

Die man het die buiteband omgeruil terwyl die polisie ontbied is. “Ek was baie dankbaar,” vertel De Beer nou.

Haar dogter is later met ’n ambulans na ’n private hospitaal in Mbombela (Nelspruit) geneem vir mediese behandeling.

De Beer vertel dat die koeël haar dogter se bobeen binnegedring en weer verlaat het. Haar dogter het Dinsdagmiddag ʼn operasie ondergaan sodat die wond skoongemaak kon word. Sy het intussen infeksie opgedoen en sal na verwagting later die week weer teater toe moet gaan.

“Dit is ʼn baie traumatiese ding. Jy besef nie wat aangaan nie. Ons het baie om te verwerk. Die Here het ons veilig gehou,” het De Beer gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Shakespeare ·

Skote afgevuur om dood te maak. Niks anders nie. Hoe verdedig jy jouself teen ‘n onsigbare vyand met ‘n regering wat hulle nog beskerm ook. Jy mag ook nie terugskiet nie.

Rooikoos ·

Dit sal gebeur as baie van die parke se toegang deur plakkersdorpe loop. Kyk maar die Hluwlhuwe-Umfolozi park in KZN ook.

Marius ·

Geen mate van versigtigheid gaan jou help as die gespuis jou voorlê nie. Die spoedhobbels moet verwyder word want dit bring jou voertuig byna tot stilstand en jy word dan ‘n maklike teiken. Ander opsie is dat die parkeraad die wildtuin se hekke in die gevaarlike gebiede sluit vir in- en uitgang wat mense sal dwing om van die veiliger roetes gebruik te maak.

AmY ·

Ek weet nie meer nie.
Wanneer gaan al hierdie dinge ophou? :-(

Kobus ·

Voorval het Maandag gebeur. SANParke reageer nou eers? Word voertuie nie by ingange van die park deursoek vir wapens nie?

Perdeby ·

Dis het buite die Krugerwildtuin se grense gebeur, dit is duidelik in die berig.

Harry ·

Dit vat Sanparke meer as n week om te reageer, hoe pateties! Hulle en Saps sal moet saam werk en al die roetes beveilig deur patrolies EN deur die wet af te dwing en die kriminele te vang en in die tronk stop!

Perdeby ·

Dit het mos niks met hulle te doen nie. Die vrou en haar gesin was oppad Kruger toe en dit het naby een van die hekke gebeur. Dit was nie IN die kruger gewees nie. Die plaaslike Polisie weet daar is ‘n probleem hoekom is daar nie genoeg sigbare patrolies nie?

Julius ·

Sanparke dra nie die skuld nie, dis die plaaslike bewoners buite die parke wat die probleem is.

Deon ·

Die besoekers is deel van sanparke se behoud so n mens sou dink dat hulle een of ander plan sou maak om dit veilig te maak vir besoekers, bv soos een leser genoem het, sluit daardie hekke en gebruik veiliger ingange

Gato ·

Die optrede van die plaaslike en immigrante boewe is die direkte gevolg van die ANC regering se onbevoegdheid om wet en orde te handhaaf en hulle beleid van Afrika behoort aan alle Afrikane so die grense is oop vir enige Afrikaan maak nie saak wie of wat hy of sy is nie en ook wat sy of haar motiewe is nie. Viva

Grassie ·

Ek wil graag herhaal wat ek gister gesê het. Moenie die Numbi-hek gebruik nie. Die pad soontoe loop deur ‘n gevaarlike agterbuurt en die pad self het 32 spoedhobbels wat swak gebou is en jou motor en woonwa gaan beskadig.. Ry deur Hayzyview na Pabeni-hek. Die pad is goed en die omgewing baie veiliger.

Pieter J ·

Grassie ons ouens uit ander provinsies ken nie die omstandighede nie. Vir ons lyk dit orals onveilig want re rondom die wildtuin kry jy hierdie “gemeenskappe”langs paaie. Ek weet nie einlik wat is die oplossing nie.

ES ·

Dis skokkend dat hulle net sommer skiet. Ons lewens is niks werd vir hulle nie, daarom moet ons ook geen genade met hulle he nie.

As jou lewe in gevaar is en jy het jou wapen by jou, gebruik hom sonder om te vroom. As die staat jou wil aankla vir moord, dan gebruik jy stories en omstandighede soos hierdie om jou verdediging te versterk. Ons moet maar self begin terugveg want die polisie gaan die nie doen nie.

Blomme ·

Die trauma vir daardie Ma en kinders is onbeskryflik… Die arme kinders sal seker altyd met vrees gevul wees om enige besienwaardigheid in die land te besoek. Wil ons regtig dit aan ons toekoms doen?

Lillian ·

Meeste mense weet dat Numbi hek grens aan die plakkerskamp en dat dit ‘n groot risiko is om daar uit te gaan. Dis hartseer dat hulle so slegte ervaring gehad het maar deesdae moet mens maar jou huiswerk doen voor jy ‘n tog aanpak. Want jys nêrens meer veilig nie.

efjy ·

Bly eerder totaal weg as om waaksaam te wees. RSA is nou die “wilde weste”. Die ou wat eerste skiet gaan die langste lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.