SANParke bied dán gratis toegang tot parke

Die ingang na die Krokodilbrug-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: www.krugerpark.co.za)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) sal vanjaar in November ʼn week lank gratis toegang tot alle parke bied as deel van sy 15de jaarlikse Nasionale Parkeweek.

Dié week word gewoonlik in September aangebied hoewel dit soos talle ander geleenthede vir eers agterweë moes bly weens die algehele landwye afsondering te midde van die Covid-19-pandemie. Vanjaar se Nasionale Parkeweek sal dus nou van 16 tot 20 November geskied.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het daarop gewys dat vlak 2 van die afsonderingstydperk tans die aantal mense beperk wat binne openbare ruimtes toegelaat word.

Hy het die versekering gegee dat die aantal besoekers in die parke in ooreenstemming met die regulasies wat in daardie stadium geld, bestuur sal word.

SANParke se Nasionale Parkeweek is ʼn jaarlikse veldtog wat Suid-Afrikaanse burgers gratis toegang bied tot die meeste parke wat deur SANParke bestuur word, met die uitsondering van die Namakwa Nasionale Park en die Boulders-afdeling by die Tafelberg Nasionale Park.

Die gratis toegang tot parke sluit egter nié gratis toegang tot verblyfgeriewe en ander toeriste-aktiwiteite in nie.

Volgens Mketeni beoog SANParke om elke jaar die aantal Suid-Afrikaners wat gratis toegang tot nasionale parke kry, te verhoog. Altesaam 551 393 Suid-Afrikaners het sedert die begin van die veldtog in 2006 die geleentheid gekry om die land se nasionale parke gratis te besoek.

“Die week in vennootskap met Total Suid-Afrika en FNB is bedoel om ʼn gevoel van trots in Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis en ʼn dieper waardering vir biodiversiteit te kweek. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners die waarde daarvan om nasionale parke te besoek, sal besef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Sjoe en ons gaan Oktober Kgalagadi toe net n maand te vroeg.

Elsa

Dankie
Nou moet die pryse van die parke ook net aangepas word vir ons eie landsbugrrs sodat almal dit kan geniet.