SANParke bied gratis toegang tot hierdie parke

Die Krugwerwildtuin se olifantbul genaamd Botsotso. (Argieffoto ter illustrasie: SANParke)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) sal vanjaar in November ʼn week lank gratis toegang tot sekere parke bied as deel van sy 16de jaarlikse Nasionale Parkeweek.

Besoekers kry van 22 tot 26 November heeldag gratis toegang tot uitgesoekte nasionale parke, onder andere die Addo Olifant-, Kgalagadi-, Kruger- en die Tsitsikamma-gedeelte van die Garden Route- nasionale park.

Luthando Dziba, waarnemende hoof‑ uitvoerende beampte van SANParke, sê SANParke se Nasionale Parkeweek is ʼn jaarlikse veldtog wat Suid-Afrikaanse burgers gratis toegang bied tot die meeste parke wat deur SANParke bestuur word, met die uitsondering van die Boulders-afdeling by die Tafelberg Nasionale Park.

Die gratis toegang tot parke sluit egter nie gratis toegang tot verblyfgeriewe en ander toeriste-aktiwiteite in nie.

“Die week, in vennootskap met Total Suid-Afrika en FNB, is daarop gemik om ʼn gevoel van trots in Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis en ʼn dieper waardering vir biodiversiteit te kweek. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners die waarde daarvan om nasionale parke te besoek, sal besef,” sê Dziba.

“Daar is ’n groeiende behoefte dat nasionale parke relevant moet wees, veral vir jongmense en gemeenskappe wat langs parke woon. Deur ons sosio-ekonomiese transformasieprogramme en ons uitgebreide openbare werke-program, werk ons nou saam met gemeenskappe wat langs nasionale parke woon in ’n strewe om meer inklusief te wees in ons bestuur van beskermde gebiede. Hierdie inklusiwiteit behels die verskaffing van toegang tot parke vir kulturele gebruik, asook die blootstelling van jongmense aan die verskillende loopbaanopsies in bewaring en toerisme.”

Volgens Dziba beoog SANParke om elke jaar die aantal Suid-Afrikaners wat gratis toegang tot nasionale parke kry, te verhoog. Altesaam 591 234 Suid-Afrikaners het sedert die begin van die veldtog in 2006 die geleentheid gekry om die land se nasionale parke gratis te besoek.

“SANParke beoog elke jaar om die getal burgers wat gratis toegang tot nasionale parke kry, te verhoog, maar weens die Covid-19-pandemie sal die getal gaste waarvoor die parke kan voorsiening maak, onderworpe aan afsonderingsregulasies wees, wat die getal beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

casper ·

Jislaaik – Het die diere nog nie gestaak en bande gebrand vir meer geld die jaar nie ???

Christine ·

Solank die besoekers hou by die spoedbeperkings en ander reëls wat dit vir mens en dier veilig en genotsaam maak om die parke in die verniet-week te besoek.

Harry ·

Daar is vandag n ou gevang wat in n Olifant vas gery het, en hy is later teen n spoed van 140km/h betrap en gearresteer, die Olifant is darem nie beseer nie.

Surfer ·

Dis weeks dae, gaan nie die gewone mense help nie. Dink hulle is slim, maar janee.

Sandra ·

Ja soos gewoonlik, net in die week. So die gewone werkende mense sal nie die gratis ingang kan benut nie.

Harry ·

Goed so, daar is net probleme as mense gratis oor naweke wil ingaan, kyk net wat het verlede jaar gebeur.

Waarnemer ·

n week gratis…in skooltyd?Ja sure…watter jong mense wil Sanparke dan bereik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.