SANParke, minister ‘skuld publiek verduideliking’ oor Krugerwildtuin

kruger-wildtuin-paul-kruger-hek

Die Paul Kruger-hek. (Foto: SANParke)

Die DA eis dringend antwoorde oor wat presies in die Krugerwildtuin aan die gang is nadat nóg ʼn struktuur – dié keer ʼn restaurant in die Berg-en-Dal-ruskamp – Maandagoggend in vlamme opgegaan het.

Vanoggend se brand het volgens SANParke vermoedelik in die kombuis uitgebreek en na ʼn gedeelte van die eetsaal versprei. Verlede week is die winkel in die Letaba-ruskamp ook deur ʼn brand in puin gelê. Die oorsaak van albei brande is nog onbekend.

James Lorimer, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, bosbou en visserye, sê dít terwyl Fundisile Mketeni – uitvoerende hoof van die Krugerwildtuin – boonop versuim om antwoorde te verskaf op vrae oor wat presies die situasie met die beweerde akkommodasiekrisis in die wildtuin is.

“Tydens ʼn vergadering van die portefeuljekomitee oor omgewingsake, bosbou en visserye op 2 September het ek Mketeni gevra om besonderhede te verskaf oor hoeveel van die wildtuin se gaste-akkommodasie nie bruikbaar is nie en waarom dit nie is nie,” het Lorimer gesê.

Die winkel in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin is verlde week bykans heeltemal verwoes. (Foto: SANParke)

“Hoewel ek gevra het dat antwoorde binne 24 uur verskaf word, het die ANC-komiteevoorsitter, Fikile Xasa, hom beskerm en toegelaat dat geskrewe antwoorde op die vrae binne sewe dae beantwoord mag word.

“Die spertyd het gekom en gegaan en as Mketeni sy verslag ingedien het, is dit nie na LP’s deurgegee nie.”

Lorimer sê hy het op 1 September aan Xasa geskryf om te vra dat ʼn spesiale vergadering van die portefeuljekomitee belê word om die situasie in die Krugerwildtuin te bespreek. Hy het steeds nie ʼn antwoord daarop gekry nie.

“Dit versterk die persepsie dat daar groot probleme in die wildtuin is wat doelbewus deur die wildtuin se bestuur en die ANC verdoesel word. Die waarneming word versterk deur die groot aantal klagtes van lede van die publiek wat die wildtuin besoek het, asook deur die uiterste vyandigheid waarmee SANParke kritiek op sosialemediaplatforms hanteer het.

“ʼn Vakbond het intussen boonop bewerings van grootskaalse korrupsie en nepotisme teen die wildtuinbestuur gemaak,” het Lorimer gesê.

Volgens hom moes die geldelike verlies wat die wildtuin weens die afsonderingstydperk gely het deur ʼn toelaag van die regering gedek word.

“Dit is hoekom dit uiters belangrik is dat akkommodasie beskikbaar is sodat ʼn inkomste gegenereer kan word. Die onbeskikbaarheid van verblyf het reeds ingemeng met die hervat van plaaslike toerisme. Die brande gaan dit vererger. Min. Barbary Creecy en SANParke skuld ons ʼn verduideliking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

saggiespraat ·

Hoekom moet Barbary Creecy antwoord gee? Ek is seker sy werk nie daar OF is dit omdat sy wit is?
Haal bietjie die bestuurders uit wat goet weet belasting is BAIE duurder as jy grasdak het.

En Wat van die ander Safari plekker wat ook so afbrand wat het geword van dit?
Veral die een Met daai klomp Wit mense wat verbrand het?

Nie Verbaas ·

Beste oplossing is om self te gaan kyk wat in wildtuin aangaan.

Johanncb ·

Word die moontlikheid van sabotasie/brandstigting ondersoek?

Niklaas ·

Ek is bevrees die Kruger wildtuin wat ons ken is onherroeplik verlore. Sal nooit weer dieselfde wees nie.

richard ·

Ongelukig is die minister veantwoordelik vir wat in sy/haar department aan gaan net soos die minister belas met die draad span op die grens verantwoordelik is ongeag van die ras van daardie persoon.
Werk so in die sake gemeenskap kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.