SANParke moet skelm wildbewaarders ondersoek

(Argieffoto: SANParke)

Die DA het versoek dat die Krugerwildtuin (KNP) ondersoek moet instel om te bepaal hoeveel van sy werknemers en veldwagters moontlik aangekla of skuldig bevind is aan renosterstropery.

Dit volg nadat die party inligting ontvang het oor werknemers en veldwagters wat voorheen vir hul betrokkenheid by renosterstropery geskors is, maar daarna bloot weer aangestel is.

Die versoek kom ook na ’n onlangse hofsaak waar ʼn voormalige beampte van SANParke en veldwagter van die wildtuin in die Skukuza-streekhof in sake wat met renosterstropery verband hou, gevonnis is.

Maroela Media het vroeër berig Phineas Dinda, ʼn voormalige korporaal in die wildbewaarderskorps, en sy medebeskuldigdes, Alfa Gwebana en ʼn Mosambiekse burger Arlindo Manyike, is in Mei 2019 by Tshokwane in hegtenis geneem. Al drie is Maandag tronkstraf van 16 jaar opgelê.

Hulle is skuldig bevind aan die onwettige betreding van ʼn nasionale park, sameswering om ʼn misdaad te pleeg en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Manyike is ook skuldig bevind aan ʼn oortreding van die Wet op Immigrasie.

Annerie Weber, DA-LP, sê die talle voorvalle waar werknemers van die wildtuin by renosterstropery betrokke is, is kommerwekkend. Sy sê dit dui ook op die gebrek aan doeltreffende veiligheidsbestuur aan die oostelike grense van die wildtuin en die Mosambiekse grens. “Die DA doen ’n beroep op SANParke en die wildtuin om die grensbeheer aan die oostekant te versterk,” sê Weber.

“Die DA doen ook ’n beroep op die wildtuin se bestuur om maandeliks ’n oudit te doen van alle werknemers wat by stropery betrokke is. Inligting wat aan die DA verskaf is, dui daarop dat geskorste veldwagters of werknemers wat by stropery betrokke was, bloot weer hul ou werk terugkry sodra interne dissiplinêre prosesse afgehandel is.”

Weber sê die onlangse aankondiging dat poligraaftoetsing verskerp sal word, word verwelkom en sy sê die DA hoop dat dit ’n sleutelrol sal speel om diegene wat betrokke is by stropery te identifiseer.

Nadat die Skukuza-streekhof vir byna ʼn jaar nie gebruik was nie, meen die DA dat die heropening daarvan van kritieke belang is om renosterstropery hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peetjie ·

Moes die ondersoek nie in die eerste plek gedoen gewees het nie????

Dries ·

n Mens kan net nie wen teen die kriminele nie, van die hoogste amptenaar tot die wagter.

Danie ·

Ek kan dit nie glo nie.
Iemand wat n kriminele rekord in sy werksplek opbou en hy weer weer daar aangestel.
Maar die comrades sorg vir mekaar.
Belaglik

Jack ·

As die skelms weer aangestel word beteken dit dat die hoofde ook betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.