SANParke ondersoek “toneel uit riller”

Foto's: Verskaf

Foto’s: Verskaf

“Die bloed het soos ʼn toneel uit ʼn riller oor die wildbewaarder gespat”. Só beskryf ʼn tiener die toneel toe wildbewaarders van die Krugerwildtuin  glo ʼn dooie renoster voor besoekers onthoring het.

“Ons het omstreeks 09:00 ʼn klomp motors op die S28-pad sien staan, ʼn paar meter van die S137 af,” het die tiener van Pretoria Woensdag aan Maroela Media gesê. Sy is tans met vakansie in die wildtuin.

Volgens die tiener het ʼn groep mense, in amptelike uniforms, by ʼn amptelike voertuig naby ʼn renosterkarkas in die veld gestaan. “Daar was twee ander lewendige renosters, waarvan een ʼn kalfie is, wat ook naby die bewaarders en die karkas gestaan het.” Sy sê een van die mans het deurgaans met ʼn koeldrankbottel teen die voertuig gekap om die twee renosters te verjaag wanneer hulle te naby gekom het.

Een van die mans het glo hierna ʼn byl uit die voertuig gaan haal en die dooie renoster voor almal onthoring. Sy het verduidelik dit was vreeslik om te sien dat die wildbewaarders so onsensitief opgetree het. “Dit het gelyk of dit een groot grap vir hulle was,” het die tiener gesê. “Soos ʼn tipiese ‘horror movie’ het daar bloed oor hom gespuit. Sy kollegas het gedink dit is skreeusnaaks en het hardop gelag.”

Sy sê die mans het daarna die horings in die voertuig gelaai en weggery.

“Een van die ander motoriste het hulle gevra wat met die renoster gebeur het. Die beamptes het vir hulle gesê die renoster is deur ʼn leeu aangeval en doodgemaak. Daar was egter geen sigbare bytmerke aan die karkas nie. Ons het later by Laer-Sabie by iemand verneem dat die renoster glo Maandagaand doodgeskiet is,” het sy bygevoeg. “Dit is seker standaard prosedure om dooie renosters te onthoring, maar dit was regtig ontstellend gewees.”

Lees SANParke se amtelike kommentaar hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Weet julle – ek wou nou iets hier geskryf het, maar voor ek ‘n hartstilstand kry los ek dit liewer.

Grassie ·

Ek wonder of die tiener nou van mening was dat die renosterkarkas na ‘n hospital geneem moes word om die horing in ‘n teater te laat verwyder. Of moes die wildbewaarders dalk lang begrafnisgesigte opgesit en kort-kort ‘n traan weggepink het. Nou het sy ‘n klomp storings gaan veroorsaak teenoor mense wat net hul werk gedoen het. Te groot vir haar skoene.

Hettie ·

Grassie, hul kon dit gedoen het as daar nie mense was wat dit moes aanskou nie, die renoster was reeds dood so hul kon regtig maar bietjie gewag het tot die hekke gesluit het om dit te doen. En nee hul hoef nie begrafnisgesigte op te sit nie maar ek wonder net wat die groot grap is. Dit is eintlik baie tragies.

Gideon Erasmus ·

Ek dink daardie tiener verdien ‘n medalje. Dit is onsensitief en hoort nie tuis in ‘n wêreldbekende Park nie. Mens gaan om rustig tussen die diere te wees en dan moet mens sulke optredes aanskou. Nee regtig dit is barbaars en onaanvaarbaar. Ek is ‘n boer en het respek vir enige dier op my plaas, dood of lewend!

Chris ·

Ek weet nie of daar regtig bloed kan spat uit ’n dooie dier nie. Daar is nie meer bloedvloei as die dier dood is nie. As as die dier deur ’n leeu doodgemaak is, sou die leeus hom gevreet Ek glo eerder hy is geskiet. Kan nie help om te wonder of die bewaarders dalk self daarby betrokke was nie, want as die dier pas doodgeskiet is, sal daar wel nog baie bloed wees.

Marieta ·

So, as die sogenaamde wildbewaarders dan nou op olifante afjaag met voertuie of renosters onthoring soos en waar dit hulle pas, moet tieners wat heel duidelik oor meer verstand as hulle beskik, liewer hul monde hou en maak asof dit aanvaarbare praktyk is? Het jy kinders, Grassie? Is hulle darem geregtig op hul eie opinie, of GEE jy vir hul, hul opinie?

Grassie ·

Marieta – Ek besoek die wildtuin dikwels en is lief vir die plek asook vir diere oor die algemeen. Daar is privaat wildtuine teenaan Krugerwildtuin waar die gerief en gemak van hul besoekers die nommer 1 prioriteit is. Hulle sorg dat alle insidente wat moontlik hul gaste kan ontstel sorgvuldig weggesteek word. Krugerpark is anders. Die doel is om mense aan die ongeskonde natuur bloot te stel soos wat dit is. Die daaglikse lewe, insluitend die bestuur van die park, gaan elke dag ongestoord voort en die besoekers kan ongehinderd rondry en alles besigtig. As hulle op iets afkom wat hulle ontstel kan hulle mos net verby ry.
Sovèr my kinders betref – albei is goed opgevoed en beklee suksesvolle professionele beroepe. Was dit nodig om persoonlik te raak?

veronica ·

Nee Grassie! Lees weer jou kommentaar!! Jy het gevoeloos en onsimpatiek oorgekom! Ek stem saam met die wat sê; dit moes beter hanteer word! Hier het jy te doen met alle tipe mense wat deur beweeg! Sê nou ( net ‘n vb?) dit was ‘n bejaarde tannie, met ‘n hartprobleem, en dit het haar so onstel dat sy net daar en dan ‘n hartaanval gekry en was dood voor daar kon hulp opdaag vir haar? Wat sou jy dan sê? Ek voel ook; die hele situasie is verkeerd hanteer! Hulle kon vir die duur v d “operasie” net die pad versper het. Vir almal sou dit minder ontstellend gewees het! Dit wil vir my voorkom asof die park se bestuurder kort-kort growwe/ ongevoelige gedrag van hul bewaarders wil regverdig of afmaak as niks. Ek dink nou bv net aan die geval waar die persooneellid die olifantkoei en kalf van mekaar geskei het en gekeer het dat hulle oor die pad stap! Wat as die koei die voertuig sou storm, want hy keer haar weg van haar kalf! Dan sou die koei seker geskiet word, want sy sou dan “aggressief” gewees het!! NEE!! ek dink die bestuur moet wakker word en die betrokke personeel beter dissiplineer en beheer! Jammer!Maar ek stem saam met Marietta! Voorspoed met jou kinders! Moenie die moeite doen om my die antwoord nie, want ek gaan nie eers die moeite doen om jou kommentaar te lees nie! Ek is net SO bly ek ken jou nie!!

Kosie ·

Jou laaste sin som dit pragtig op, dit maak twee van ons veronica.
Dit is baie snaaks dat sy tweede in bevel nie ‘n eiertjie te lê het nie. Sy skitter in haar afwesigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.