SANParke ontvang stakingskennisgewing

Argieffoto van ‘n leeumannetjie in die natuur Foto: designerpoint, Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het ʼn formele kennisgewing ontvang dat personeellede van die vakbond Hospersa moontlik binne die volgende paar dae gaan staak.

Dit volg nadat onderhandelinge oor salarisverhogings vasgeval het.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het gesê SANParke verwag dat stakende werknemers dit binne die raamwerk van die wet sal doen en die regte van nie-stakende lede sal respekteer. Mketeni het bygevoeg dat hy nie verwag werknemers moet op SANParke se eiendom staak tot daar ooreengekom is tussen die partye nie.

Maroela Media het vroeër berig SANParke het op 11 Julie met alle erkende vakbonde en Hospersa vergader en versoek dat staking- en betogingsreëls ontwikkel word. Die bestuur het ingestem en onderneem om die reëls saam te stel en binne die komende week met die vakbond te vergader.

Mketeni het gesê nuus oor die staking is ʼn verrassing, want die vergadering oor die reëls vir stakings en betogings het nog nie plaasgevind nie. “Indien die vakbond met sy dreigemente voortgaan, sal die betrokke werknemers wat aan die staking deelneem, nie toegelaat word om op SANParke se perseel te betoog sonder ʼn ooreenkoms of toestemming nie. In ʼn poging om die dooiepunt op te los, maan SANParke ook die vakbond om die bestuur se aanbod van 6% plus 1% se betalingsverhoging, wat op ʼn 7%-aanpassing neerkom, te aanvaar, aangesien die onderhandelings afgehandel is.”

Hospersa het in sy verklaring te kenne gegee dat ʼn wins van R1,29 miljard in die vorige finansiële jaar gerealiseer het, en ʼn 9%-verhoging is dus in hul mening geregverdig.
“Ons wil dit graag aan die vakbond stel dat operasionele oorhoofse koste wat salarisse, bewaringsbedrywighede en instandhoudingskoste insluit, deel vorm van SANParke se talle finansiële verpligtinge,” het Mketeni gesê. “Ons aanbod is meer as die huidige VPI. Die VPI vir April en Mei was onderskeidelik 5,3% en 5,4%. Die 7%-verhoging is dus redelik.”

Hy het gesê ondanks Hospersa se aankondiging dat bedrywighede by verskeie parke ontwrig sal word, wil SANParke die lede van die publiek verseker dat gebeurlikheidsplanne geaktiveer sal word wanneer ʼn staking plaasvind, om seker te maak dat dienslewering nie onderbreek word nie en dat besoekers veilig sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris Ws ·

As SanParke dink die stakers gaan dit vreedsaam en binne die wet doen is hulle BAIE naiif en gaan hulle ‘n skok beleef.

Johannes van Staden ·

Almal staak gooi klippe brand plunder en die wereld kyk en wie wil nou bele met sulke gedrag en mense … SA verdien maar die junk status !

Haan ·

Verbeel ek my of het die omstrede mnr S van Rensburg nie iets gesê van stakings wat ons land gaan lamlê nie?

Lomea ·

Ek kan nie verstaan dat die dag toe mense aan gestel is in hul werk was hul 100% tevrede met hul salaris. Hoekom nou daaroor staak. Hy kon ‘n ander werk gan soek het met meer geld as hy wou! Daar is miljoene werkloses wat so graag net wil werk om iets te verdien !!
En dan die wat net wil he en he en nogmaals he!! Ons kry almal swaar, en moet maar klaar kom met min geld.

johnny_walker ·

die moeilikheid hier soos met soveel munisipaliteite in die land is dat werkers dink winste moet onmiddelik geblaas word op salarisse , daar word nie gedink aan dinge wat in die toekoms vervang of herstel moet word nie , soos byv paaie in dorpe , daar is nie geld om dit reg te maak nie want die geld word geblaas op sipho en sy maatjies wat buitendien sit en niks doen die heeldag , waarom word n vullis verweidering trok in amerika beman deur drie mense en hier word dit beman deur soveel as wat kan hang aan die ding ? meestal meer as agt ! vir wat ?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.