SANParke steeds oop op vlak 3

(Foto: SANParke)

SANParke sê sy nasionale parke sal steeds besoekers op vlak 3 van die afsonderingsregulasies ontvang.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag verskerpte maatreëls aangekondig in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit. Dit sluit in ʼn verbod op die verkoop van alkohol, ʼn aangepaste aandklokreël en ʼn verbod op groot byeenkomste.

Alle strande, damme, riviere, openbare parke en swembaddens in gebiede wat tot brandpunte verklaar is, is ook van Dinsdag vir die publiek gesluit.

Xola Mkefe, waarnemende uitvoerende hoof van SANParke, sê in ooreenstemming met die gewysigde regulasies word alle dag- en oornagbesoekers steeds verwelkom.

“Almal word aangemoedig om die regulasies te gehoorsaam wanneer hulle enige van ons nasionale parke binnegaan,” het Mkefe gesê.

SANParke sê hy doen alles moontlik om te verseker sy bedrywighede gaan voort onder streng gesondheidsprotokolle wat werkers en gaste beskerm.

“Gevolglik beperk ons steeds kontak tussen werkers en gaste deur aanlyn- en telefoniese besprekings aan te moedig.”

In hierdie stadium word oornagverblyf in parke waar daar reeds toegangsbeheer toegepas word, nie geraak nie. Die tye wanneer hekke open en sluit kan moontlik geraak word en gaste word gevra om meer duidelikheid by die parke waar hulle tuisgaan, of die kamp waar die bespreking gedoen is, te kry.

“SANParke bestudeer tans die gewysigde regulasies en benodig duidelikheid oor sommige kwessies. Inligting sal mettertyd aan die publiek deurgegee word.”

Vir navrae bel SANParke by 012 428 9111 of besoek www.sanparks.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.