SANParke verduidelik besluit om 7 leeus van kant te maak

‘n Argieffoto van ‘n trop leeus in die Karoo- nasionale park. (Foto: SANParke)

SANParke het sy besluit verduidelik om sewe leeus van die Karoo- nasionale park van kant te maak en sê dit is nie ligtelik of oorhaastig geneem nie.

Die leeus is van kant gemaak nadat hulle die afgelope ruk twee keer uit die wildtuin ontsnap het. Die besluit het groot woede onder talle mense veroorsaak.

SANParke het die leeus bestempel as “diere wat skade veroorsaak”. Leeus wat ʼn bedreiging vir menselewens en vee inhou, word as ʼn saak van dringendheid beskou. Besluite daaroor word egter ná deeglike oorweging en waarneming van die omstandighede geneem.

SANParke sê die trop leeuwyfies het uit die wildtuin ontsnap, ʼn aantal skape vrekgemaak en ʼn gevaar vir mense ingehou. Die trop was goed bekend met die gebied waarin hulle gebly het en een van die wyfies het die gewoonte ontwikkel om ʼn gat onderdeur die heinings te grawe.

“Wat die situasie verder vererger het, is die bergagtige terrein en die talle strome en dongas in die Karoo- nasionale park. Wanneer ʼn heining oor ʼn stroompie of donga strek, bestaan die kans dat dit deurklimplek gaan hê, ongeag van hoe deeglik die heining in stand gehou word. Reënbuie lei veral tot klein, gelokaliseerde oorstromings wat sterk genoeg is om ʼn gat in ʼn heining vir ʼn leeu te veroorsaak.”

Volgens SANParke was daar ʼn groot kans dat die leeus boonop weer sou ontsnap en hy het dus ʼn plig om hierop te reageer. Hy sê daar is ook die deurlopende uitdaging van die bestuur van die leeus en dat die gevare en voordele gedurig opgeweeg moet word.

Die Karoo- nasionale park. (Foto: Sarie Myburgh/Karoo National Park, Facebook)

SANParke sê leeus is oor die algemeen opportunistiese diere wat maklike prooi verkies. Hulle leer boonop baie vinnig en kan gou in gewoonte-veeplunderaars verander as die omstandighede dit toelaat. “In die meeste gevalle, wanneer leeus vee begin vang, verloor hulle ook hul vrees vir mense en dié leeus hou ʼn gevaar vir mense in.”

SANParke sê die moontlikheid om die trop na ʼn ander wildtuin of selfs private reservaat te verskuif, was weens ʼn gebrek aan ruimte – en die trop se geskiedenis dat hy vee vang – ook nie ʼn lewensvatbare opsie nie. SANParke sê as deel van sy leeubestuursprogram bied hy jaarliks leeus as skenking aan Suid-Afrikaanse reservate, maar die afgelope ruk is daar ʼn merkbare afname in die getal reservate wat gemaklik groot getalle leeus kan hanteer. Die afgelope jaar wou geen reservaat van SANParke se aanbod gebruik maak nie.

Volgens ekoloë by SANParke dra verskeie faktore by tot die gedrag van leeus wat skade veroorsaak of as probleemdiere beskou word. Dit sluit in die kwessie dat leeumannetjies meestal uiteen gaan wanneer hulle volwassenheid bereik, asook dat die trop aanbeweeg en verdeel wanneer hulle met ander diere vir kos, of om te paar, moet meeding. In gevalle waar daar nie heinings is nie en die grond tussen reservate nie gebruik word nie, is die gevaar vir inwoners van die gebied kleiner.

Een van die leeus in die Karoo- nasionale park. Die foto verwys nie spesifiek na die betrokke trop nie. (Foto: Sarie Myburgh/Karoo National Park, Facebook)

In die geval van kleiner reservate – soos die Karoo- nasionale park wat deur gemeenskappe omring word – is die uitdagings veel groter.

SANParke sê dit is ook moeilik om leeus in kleiner parke te bestuur omdat die leeus weens ʼn gebrek aan bedreiging vir hul oorlewing vinnig aanteel. ʼn Leeubevolking in só ʼn reservaat kan jaarliks met 22% verhoog as dit nie bestuur word nie. As daar dan te min prooi vir hulle beskikbaar is, kan hulle begin ontsnapkans soek.

SANParke sê voorts Suid-Afrika is een van die voorste vyf lande in Afrika wat leeus bewaar en dat klein reservate ʼn belangrike rol hierin speel.

Die Karoo- nasionale park het in hierdie stadium steeds 14 leeus, wat uit drie of vier groepe bestaan. Twee daarvan het monitors om die diere se bewegings dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Clssf* ·

Dalk moet Karoo nasionale park dan eerder glad nie leeus aanhou as hulle nie die diere binne die grense kan hou nie. Wat gebeur met die volgende leeu wat uitkom. Word die hele trop dan ook weer geskiet? Skandelik!

Willem ·

Dit is nie die leeus wat ń gevaar vir die mens is nie dit is die mens wat ń gevaar vir die leeus inhou soos nou weer bewys is. Die diere was eerste daar nie die mens nie so die mens oortree op die leeus se plek en nie andersom nie

Johann ·

Lekker ne? Iets is in jou pad omdat jy GEEN ervaring of ondervinding het nie en dan haal jy dit eenvoudig uit? Bewaring uitgelaat aan onbesonne onbevoegdheid.

Charles ·

Ek stem heeltemal saam met Willem! Hou die heinings in stand en geen leeu sal kan uitkom nie!! Daar is maniere om te verhoed dat die leeus té na aan die heining kom om ʼn gat onderdeur te grawe!!!!

shari ·

So een van die groot vyf word jou net doodeenvoudig afgemaai omdat hulle oor die drade gegaan het.Is dit nie maar dierlike instink om te verken en te jag now??

Patch ·

En wat van mense wat ‘n bedreiging vir wildediere en die natuur inhou??? Ek is briesend oor hierdie besluit van Sanparke. NatuurBEWARING!!!! Is dit nie waarvoor hulle veronderstel is om te staan nie.

Andre ·

Indien die Karoo-nasionale park nie leeus op die voorgeskrewe wyse kan aanhou nie, behoort hulle nie leeus te hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.