SANParke veroordeel xenofobie

Die bekende amfiteater binne die Maloti Drakensberg-oorgrenspark tussen Suid-Afrika en Lesotho

Die bekende amfiteater binne die Maloti Drakensberg-oorgrenspark tussen Suid-Afrika en Lesotho

SANParke het Dinsdag gesê hy veroordeel ten sterkste die onlangse vlaag xenofobiese aanvalle in verskeie dele van die land.

“Hierdie aanvalle is teenstrydig met alles in die stryd om vryheid en ondermyn maatskaplike kohesie in die land en ons internasionale reputasie,” het Paul Daphne, woordvoerder van SANParke, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Groot deel van ons gaste aan nasionale parke is internasionale besoekers en dit wil voorkom of ons ʼn boodskap uitstuur dat uitlanders nie welkom is in ons land nie.”

Dit is kommerwekkend om kennis te neem dat ʼn aantal besprekings van buurlande reeds gekanselleer is. “Ons is baie besorg oor hierdie voorvalle, aangesien dit jare se suksesvolle werk ongedaan kan maak in oorgrensverhoudings in die navorsing, toerisme, kulturele erfenis, wetenskap en bewaringsfunksies.”

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het gesê oorgrensparke word gefasiliteer ter ondersteuning om gedeelde kulture weer te verbind, wat verdeel is deur eeuelange konflik en kolonialisme. “Ons werk onverpoosd om ʼn visie te skep van enorme bewaringsgebiede dwarsoor nasionale grense. Die oorgrensparke gaan nie net oor bewaring nie, maar ook om brûe te bou binne die suidelike Afrikaanse samelewing en om kunsmatige grense af te breek wat deur ons koloniale geskiedenis geskep is. Ons is bevrees dat die huidige vlaag van aanvalle op ons mede-Afrikaners hierdie goeie werk sal ondermyn,” het hy verduidelik.

Volgens hom het SANParke ʼn goeie verhouding met lande soos onder andere Zimbabwe, Mosambiek, Lesotho, Swaziland, Namibië, Botswana, Tanzanië en Kenia.

SANParke is deel van ʼn aantal oorgrensparke, insluitend |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark aangrensend met Namibië, Kgalagadi-oorgrenspark met Botswana en Namibië, Maloti Drakensberg-oorgrenspark met Lesotho, Groot Limpopo-oorgrenspark met Mosambiek en Zimbabwe en die Groter Mapungubwe-oorgrenspark met Botswana en Zimbabwe.

“Daarom doen ons ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om na te dink oor die negatiewe impak wat hierdie aanvalle op ons menslikheid en ons stand binne die breër internasionale gemeenskap kan hê,” het Mketeni bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar gaan draai Mketeni ook wéér by kolonialisme en wat nogal ‘eeue’ oud is. Wie het hierdie parke begin? Rig eerder ordentlike geëlektrifiseerde heinings op by Kruger vir die renosters se ontwil.
In ieder geval is dit vir almal van ons, die plaaslike inwoners, onbekostigbaar om in SANParke te oornag.

zahn ·

Aangaande hierdie sogenaamde Xenofobie. Mooi naam vir ‘n eeue oue gedragsverskynsel in elk geval. Kan enigiemand asb vir my verduidelik waarnatoe gaan die geld wat hierdie uitlanders genereer? Word hulle aan dieselfde reëls, regulasies en voorwaarders onderwerp as die winkel op die hoek waar mens nog Afrikaans kan praat? Kom ek maak ‘n voorspelling, NEE. Hulle het geen reëls nie, en moenie vir my probeer vertel hulle is uitermate gaaf en ordentlik met hul kliënte nie, ek het al baie gehoor hoe hulle praat met mense in hul winkels. Die saak het twee kante. Kom ons bekyk dit van albei kante, asseblief. Die prentjie sal heeltemal anders lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.