SANParke vra ‘verantwoordelike gedrag’ te midde van stygende virusgevalle

Die Addo-olifantpark-marienegebied. (Foto: Ane Oosthuizen)

SANParke vra dat besoekers dié Kersvakansie verantwoordelik sal optree wanneer hulle parke te midde van stygende Covid-19-infeksies besoek.

Dit geld veral by parke wat in brandpuntgebiede in die Oos- en Wes-Kaap geleë is.

Hierdie gebiede sluit in die Nelson Mandelabaai-metro en Sarah Baarman-distrik in die Oos-Kaap, wat grens aan Addo Nasionale Olifantpark en deel uitmaak van die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap, wat weer aan die Tuinroete Nasionale Park (Tsitsikamma, Knysna en Wildernis) grens.

Gebiede soos Tafelberg, Agulhas en Weskus Nasionale Parke in die Wes-Kaap kan dalk later ook tot brandpunte verklaar word.

Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, sê in ooreenstemming met die beroep wat pres. Cyril Ramaphosa op 3 Desember op die publiek gedoen het om die verdere verspreiding van Covid-19 te help bekamp, sal SANParke voortgaan met die inwerkingstelling van streng gesondheidsprotokolle in al sy nasionale parke, insluitend dié in geïdentifiseerde brandpunte en moontlike brandpunte.

“SANParke sien tans baie onsekerheid en angstigheid oor of besoekers nog sal kan voortgaan met hul vakansieplanne by geïdentifiseerde brandpunte. Daar is al enkele gaste wat hul vakansieplanne van tussen 16 Desember en 15 Januarie by die Addo Nasionale Olifantpark en Tuinroete gekanselleer het,” sê Thakhuli.

“Ondanks die negatiewe uitwerking wat die kansellasies het, verstaan SANParke waarom gaste wil kanselleer en sal vrywillige kansellasies aanvaar word.”

Thakhuli het gesê om te verseker dat daar nie te veel besoekers op ʼn slag by parke is nie, het SANParke ook besluit om nie nuwe besprekings by die Addo Nasionale Olifantpark of die Tuinroete Nasionale Park te aanvaar indien daar ’n kansellasie is nie.

Indien besoekers verkies om hul besprekings by dié parke te kanselleer of uit te stel, sal SANParke ook geen geld hef of kansellasies, wysigings of die uitstel van datums vir ʼn tydperk van 12 maande vanaf die eerste dag van ʼn bestaande bespreking, penaliseer nie.

Enige kansellasies, wysigings of die uitstel van bespreekte datums, sal wel by ander parke gepenaliseer word.

Volgens Thakhuli sal daar ʼn sigbare teenwoordigheid van wildbewaarders en ander beamptes in Kaapse parke wees om verantwoordelike gedrag vir die veiligheid van besoekers en personeel te verseker. Hierdie beamptes sal verseker dat temperature gereeld geneem word, gesigsmaskers gedra word en sosiale afstand gehandhaaf word.

Ablusieblokke en openbare ruimtes wat baie besoek word, sal gereeld ontsmet word.

Ontsmettingpunte sal beskikbaar gestel word en besoekers word ook aangemoedig om gereeld hul hande te ontsmet. Ouers word aangemoedig om ten alle tye die beweging van hul kinders dop te hou.

Verdere maatreëls wat in die parke in die Oos- en Wes-Kaap ingestel sal word, sluit in ʼn algehele verbod op die vervoer of gebruik van alkohol vir dagbesoekers aan die parke. Die aantal dagbesoekers word ook beperk en sommige openbare ruimtes, soos piekniekplekke, dagbesienswaardighede en sommige strande, sal deur die dag gesluit wees. Daarbenewens sal oop safari-voertuie vir wildbesigtiging spesifiek in die Addo Olifant Nasionale Park teen slegs 50% van gewone kapasiteit bedryf word.

Hierdie maatreëls sal geld vanaf 16 Desember tot 15 Januarie.

“Ons versoek die reisigers wat verkies om na ons parke in die Kaap te reis om ons te help en die basiese higiënemaatreëls toe te pas om die verspreiding van die virus te bekamp en die vasgestelde reëls van die park na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ali ·

Hulle weet al hoe lank van die virus, hoekom ewe skielik nou nadat almal vakansie planne gemaak het en klaar betaal het vir verblyf, ewe skielik nou kom almal vorendag met idees dat strande toegemaak moet word… Dis duidelik daar word met die mense onbewustelik gespeel.. Bestaan daar niks meer mense regte nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.