SANParke-werker in hof oor Mauritius-vakansie

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige werknemer van SANParke, wat glo sy posisie misbruik het om ʼn vakansie na Mauritius en ʼn plasmatelevisiestel te ontvang, het in die hof verskyn.

Terence Claassen (40) van Worcester het Vrydag in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad in Bellville verskyn. Claassen moet nog pleit op die vier aanklagte van bedrog, vier van korrupsie, een van vervalsing en een van diefstal.

Volgens die klagstaat was Claassen die bestuurder van ʼn infrastruktuurprojek wat daarop gemik was om armoede te verlig. Die projek het die verskaffing van elektrisiteit en water aan die Kraalbaai-nedersetting behels.

SANParke het weens die kompleksiteit van die projek ‘n ingenieur aangestel vir die beplanning en ontwerp van die kragverskaffing, terwyl tegnici die beplanning van die pyplyn behartig het. Volgens SANParke se beleid oor verkrygings, aankope of kontrakte bo die waarde van R200 000, moet ʼn amptelike tenderproses gevolg word.

Volgens die klagstaat was Claassen bewus van die prosedures en is dit aan hom verduidelik. Staatsaanklaer Jannie Knipe voer aan dat Claassen egter steeds “ongemagtigde, bedrieglike bestellings” uitgereik het. Claassen het glo ook ʼn korrupte verhouding met twee maatskappye gehad waarvoor hy ʼn vakansie vir twee in Mauritius, ʼn televisiestel en R50 000 kontant ontvang het.

Claassen moet weer op 9 September in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Magtag, hulle stel hom aan om armoede te verlig en dan “line” hy sy sakke uit soos Zuma en sy vrinne!! Wanneer gaan dit ophou – wanneer ons land TOTAAL BANKROT is?? Dan sal dit nie meer baie lank wees nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.