Sanral-grond vir uitgesettenes

Informele huise word gesloop (eNCA) Foto: AFP, Rodger Bosch

Informele huise word gesloop (eNCA) Foto: AFP, Rodger Bosch

Sanral het ʼn ander stuk grond wat ook aan hom behoort, aangebied as ʼn meer permanente tuiste vir die mense wat van Lwandle naby Strand in Kaapstad uitgeset is.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het stukke grond aan ons gegee en ons sal nou ʼn span stuur om ondersoek in te stel,” het Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, aan media in die parlement gesê. Die span bestaan uit gemeenskapsleiers en beamptes van Sanral en die behuisingsontwikkelingsagentskap.

Inwoners sal op die nuwe grond ʼn boupakket, basiese elektrisiteit, water en basiese ablusiefasiliteite ontvang.

Ongeveer 846 gesinne is Maandag en Dinsdag deur middel van ʼn interim uitsettingsbevel van Sanral-grond langs die N2-snelweg verwyder. Hulle informele huise is gesloop en aan die brand gesteek. Talle het hul persoonlike besittings verloor en het niks behalwe die klere aan hulle lyf nie. Hulle word tans in die Nomzamo-gemeenskapsaal in Strand akkommodeer en ontvang warm etes, komberse en matrasse van die stad.

Minister Dipuo Peters het die gemeenskap besoek en versoek dat die uitsettings dadelik opgeskort moet word.

Sisulu het die stuk grond Woensdag besoek en aan hulle die voorstel gemaak dat ʼn stuk grond wat ʼn meer permanente tuiste kan bied, gevind moet word. Die inwoners was glo tevrede met die voorstel van ʼn alternatiewe stuk grond. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.