Sanral omhein wêreld se kleinste woestyn

Die Rooi Woestyn sowat 170 km suid van Durban is net 200 m in deursnee. Foto: Meropa Communications

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het ʼn heining opgerig om die kleinste woestyn ter wêreld te beskerm.

Die private eienaars van die natuurreservaat waarop die Rooi Woestyn, sowat 170 km van Durban in KwaZulu-Natal, geleë is, het dié versoek aan die agentskap gerig.

Die woestyn is net 200 m in deursnee en word as ʼn miniatuurweergawe van die Arizonawoestyn in Amerika beskryf. Dit bevat menshoogte-heuwels en ʼn vallei van rooi sand wat ʼn skrille kontras met die omringende lowerryke subtropiese plantegroei vorm.

Die Rooi Woestyn is geleë teen ʼn heuwel wat uitkyk op die Mtamvunativier, die skeidslyn tussen KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, nie ver van die Wild Coast Sun-casinokompleks nie.

Argeologiese artefakte van miljoene jare gelede kom in die lappie woestyn voor en volgens Sanral is plaaslike inwoners bly dat dit nou beskerming sal geniet.

Matt Williams, lid van die vierde geslag van die familie wat die grond waarop die woestyn geleë is al langer as ʼn eeu besit, sê die oorsprong van die woestyn het aanleiding tot heelparty mites en legendes gegee, onder meer dat ruimtewesens daar geland het.

“Om die waarheid te sê, kan ʼn mens die Rooi Woestyn se oorsprong terugspoor tot in die 1800’s by ʼn Zoeloestam met reusetroppe beeste wat hulle by die Pondo’s gesteel het,” sê Williams. “Die plek is ernstig oorbewei, wat tot verwoestyning gelei het. Die onderliggende grond bevat baie yster, wat keer dat plantegroei floreer.”

Die oorsprong van die woestyn het aanleiding tot heelparty mites en legendes gegee

In 2005 het sy familie ʼn vennootskap gevorm met die Ray Nkonyeni-munisipaliteit wat ingewillig het om 105 hektaar munisipale grond af te staan om by die familie se 75 hektaar private grond te voeg om ʼn natuurreservaat te skep.

Ná suksesvolle onderhandelings met Ezemvelo KZN-natuurlewe is die Rooi Woestyn-natuurreservaat in 2015 gestig. Dit sal sorg dat die grond behoorlik vir die nageslag bestuur en bewaar word.

Ravi Ronny, Sanral se oostelike ontwerp- en boubestuurder, sê gesprekke oor die oprigting van ʼn 2,7 km lange heining het in 2014 begin.

“Vanweë die belangrikheid van die natuurreservaat het ons ingewillig om die heining op die reservaat se grens met die pad op ons koste op te rig. Dit sal help om diere weg van die besige N2 te hou, maar ook om die probleem van plantstropery en betreding te help bestry.”

Hy sê dié gedeelte van die R61 word opgradeer teen ʼn koste van R2,5 miljard, waarna die verbeterde pad die nuwe N2 sal word. Die heining is op die hersiene padreserwe opgerig wat die opgradering van die snelweg in ag neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Nou weet ons waarvandaan die Zoeloes kom… ruimtewesens vanaf daai rooi planeet wat ‘n spul kolonialiste nou ook wil gaan oorvat. Miskien moet u o koning net wag totdat die opstalle en lande mooi ontwikkel is, dan gaan toi julle daar voor die hekke om jul grond terug te eis. Onthou tog net om genoeg petrol in te gooi u majesteit… dis nogal ver… Hoe om daai reuse troppe Pondo-beeste daar te kry? ‘n Vlieende ark of… Captain Z het vriende met… dalk net…

Kooss ·

Wat is die reënval in daai “woestyn”. Ek dink nie oorbeweiding maak van iets ‘n woestyn nie, wel ‘n lae reënval.

Justice ·

SANRAL het verklaar het dat hulle totaal bankrot is en die regering sal moet ingryp om die buitelandse beleggers te befonds. Hoe dan nou?

riaan ·

Dan is sanral vinnig om te se die gebruiker moet betaal vir wat hy gebruik begunsel moet geld. Wie gebruik die heining of gaan e-tol daarvoor betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.