Sanral se ‘geheime’ Kaapstad-tolplanne bekend

Grafika: Sanral

Grafika: Sanral

Die stad Kaapstad kan nou, danksy ʼn uitspraak in die Bloemfonteinse hoogste hof van appèl, Sanral se sogenaamde “tolgeheime” aan die publiek bekend maak.

Die hof het ten gunste van die stad Kaapstad beslis toe regter Ashley Binns-Ward van die Wes-Kaapse hooggeregshof se bevel van 28 Augustus 2014 rakende Sanral se geheimhoudingsaansoek tersyde gestel is.

“Die stad kan nou, vir die eerste keer sedert ons hersieningsaansoek op 28 Maart 2012, ten volle bekend maak hoe Sanral se toekenning van die tender vir die N1 en N2-tolprojek aan Protea Parkways Consortium (PPC) die inwoners van die Wes-Kaap en besoekers aan dié streek gaan beïnvloed,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Herron wou Sanral die volgende inligting van die publiek wegsteek:
* Indien die tolprojek van die N1- en N2-snelweë voortgaan, sal inwoners van die Wes-Kaap en besoekers aan dié streek tolgeld betaal wat bykans drie keer duurder is as tolgeld wat tans deur die nuwe Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) ingevorder word.
* PPC se verwagte tolinkomste oor die konsessieperiode (2010 waardes; BTW uitgesluit) is ongeveer R48 miljard.
* Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het die besluit oor die Wynland-tolprojek geneem, en nie die Sanral-raad nie, soos vereis word deur die Sanral-wet nie.
* Sanral het versuim om die erge gevolge van die terugbetalingsklousule in sy konsessiekontrak met PPC aan die raad van Sanral en die minister van vervoer bekend te maak. Die kontrak spreek die risiko aan dat die minister moontlik die toltariewe kan verlaag tot ʼn bedrag laer as wat die konsessiekontrak bepaal, of mag weier om ʼn verandering in die toltariewe goed te keur. Indien die minister van vervoer die toltariewe verlaag tot ʼn bedrag laer as waarop PPC volgens die kontrak geregtig is, moet Sanral die konsessie vergoed sodat die konsessie in dieselfde finansiële posisie sal wees indien die daling of versuim om die betaling te doen, nie plaasgevind het nie. Kragtens hierdie bepaling sal Sanral openbare geld – wat vir konstruksie en instandhouding van die nasionale paaie aangewend moet word – gebruik om PPC se winsverwagting van R48 miljard te betaal.

Hierdie “terugbetalingsklousule” is ook teenstrydig met Sanral se voorlegging aan die minister van vervoer dat die voorgestelde Wynland-tolprojek “geen finansiële bydrae van die staat vereis nie”.

“Indien Sanral sou voortgaan met ʼn openbaredeelnameproses oor die voorgestelde tariewe, sal dit ʼn klug wees, aangesien hulle reeds kontraktueel aan die PPC-tariewe verbind is,” het Herron bygevoeg. “Die minister van vervoer sal in ʼn onhoudbare posisie wees; indien sy versuim om PPC se basis-toltarief goed te keur, sal Sanral aan die terugbetalingsklousule moet voldoen.”

Herron het verduidelik GFIP se toltarief vir ʼn ligte voertuig is 30c/km (BTW ingesluit). PPC se voorgestelde basistoltarief vir ligte voertuie is 84.59c/km (BTW ingesluit, 2013 waardes). PPC se heffing moet dus met 65% verlaag word om gelykstaande te wees aan GFIP-tariewe.

GFIP se toltariewe het ook ʼn plafon van R450 per maand; PPC se afslagskema het geen plafonbedrag nie.

Anders as GFIP, maak PPC ook nie voorsiening vir spesifieke tyd-van-die-dag-afslag nie.

Die GFIP maak voorsiening vir ʼn 100% verlaging vir openbare vervoer, terwyl PPC slegs 50% aanbied.

Herron het bygevoeg in die dokumente wat Sanral aan die stad moes verskaf is dit ook duidelik dat die raad glad nie die volgende belangrike kwessies in ag geneem het nie:
* Die impak wat die tolprojek op padgebruikers sal hê
* Die behoefte vir die tolprojek
* Die omvang van die projek
* Alternatiewe finansieringsmeganismes
* Implementering van die projek – die raad van Sanral het ná 2004 nog nie weer die projek oorweeg nie

“Dit is die stad se mening dat die projek nie padgebruikers sal bevoordeel nie, aangesien die toluitgawes hoër sal wees as die voordele wat die gebruiker daaruit put,” het hy bygevoeg. “Dit is duidelik dat daar geen oorweging was of lae-inkomstegroepe dit sal kan bekostig om van die N1 of N2-snelweë gebruik te maak nie. Die negatiewe makro-ekonomiese impak op die streek is ook glad nie in ag geneem nie, byvoorbeeld onder andere die impak op vervoerkoste van landbouprodukte.”

Herron het gesê die stad sal teen 25 April repliek lewer. “Die stad sal in hierdie dokumente die volle berekeninge bekend maak wat deur nege kenners ondersoek word, waaronder hoeveel van elke Rand wat in tolgeld ingesamel word, uiteindelik aan die tolprojek se infrastruktuur en -bedrywighede bestee sal word teenoor padverbetering, -instandhouding en operasionele werk.”

Hy het gesê hulle sien daarna uit om Sanral op 11 Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof te sien wanneer die hersieningsaansoek aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Stad Kaapstad, se ook vir hulle ons as inwoners van die land het nie gevra vir die e toll nie. So net soos die president hoef ons nie te betaal daarvoor nie. Sel hulle vroegtydig in kennis hiervan. En Stad Kaapstad. Kry ook sommer nou n referendum in akie oor die geleentheid in die westelike provinsie sodat statistiek gereed is as julle die Zumpa wolwe op 11 Aug in die hooggeregshof ontmoet. Hoop die verhorende regter gaan besef hy sal ook moet betaal. Die Guptas het seker vinger in die pie daar. Indien die tol voortgaan verplig dit ons plattelandse inwoners om nie meer die moeder stad te besoek nie

jakes ·

skelm sanral uitvaagsels die regering steel so bdie geld by ons hulle gaan R100 NOTE GEBRUIK VIR TOILET PAPIER

Hennie ·

Hierdie hele ding is n klug van die DA se kant af. Die Stad Kaapstad word beheer deur die DA asook die Weskaap Provinsie. Hoe is dit dan moontlik dat SANRAL toestemming gekry het om Tolpaaie te bestuur in die Weskaap. In n hofsaak sal als uitkom. Ons betaal alreeds die duurste voertuig lisensies in die land en betaal ook n aardige bedrag per liter brandstof aan die padfonds. Hulle sal maar eers moet bewys lewer waar al daardie geld heen verdwyn het. Ons as verbruikers kan eenvoudig nie net aanhou betaal nie

Anton Smit ·

Hennie poepol SANRAL is deel van die nasionale regering en nie deel van van die Weskaap se provinsiale regering die DA nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.