Santaco, Cosatu pak mekaar oor taxi’s

(Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die taxivereniging Santaco sê Cosatu se dreigemente om te staak sou die regering nie sy besluit herroep om taxi’s toe te laat om teen 100% van kapasiteit bedryf te word nie, is “ongelukkig”.

Santaco sê sy stryd met die regering gaan nie net oor taxiverenigings, soos Cosatu aanvoer nie, maar ook oor die beskerming van die werksgeleenthede van talle semi-vaardige werkers in die bedryf. Santaco sê die vakverbond, as beskermer van dié werkers, het hulle tot dusver in die steek gelaat.

Philip Taaibosch, president van Santaco, sê benewens taxibestuurders, is daar ook talle motorwassers en handelaars wat op die taxibedryf staatmaak om ʼn inkomste te verdien en dat die aanvanklike afsonderingstyd hulle net so swaar getref het.

Taaibosch sê dit is kwaadwillig van Cosatu om aan te voer die regering het werkers vir die wolwe gegooi ten gunste van die taxibedryf en dit dui daarop dat die vakverbond geen idee het van wat sedert die afsonderingstydperk in die bedryf aangaan nie.

“Die regering se besluit om taxi’s toe te laat om teen volle kapasiteit te werk, was bloot die uitslag van ʼn maand se moeilike raadsaalbesprekings tussen Santaco en die regering wat ongelukkig in die openbare domein beland het.

“Ons wil Suid-Afrika dus verseker dat, anders as wat mense dink, die regering nié geswig het voor die taxibedryf se eise nie.”

Santaco sê langafstandtaxi’s moes in daardie geval toegelaat word om teen 100% van kapasiteit bedryf te word en dan ook sonder die permitte wat passasiers in hierdie stadium benodig.

“Santaco het die regering se besluit aanvaar, nie omdat dit ʼn omvattende oplossing vir die taxibedryf se probleme tydens die afsonderingstyd is nie, maar grootliks omdat dit ʼn gemeenskaplike toegewing tussen die partye was,” het Taaibosch gesê.

Die vakbond Hospersa het intussen gesê die besluit om taxi’s toe te laat om teen volle kapasiteit te werk, lui die doodsklok vir die stryd teen Covid-19 en kan die reeds sukkelende gesondheidsorgstelsel heeltemal laat knak.

“Pendelaars kan net sowel hul doodsberigte begin skryf en die regering die krediet gee vir hul voortydige afsterwe.”

Hospersa het die besluit as “roekeloos” bestempel.

“Meer as 300 000 Suid-Afrikaners het reeds positief vir die dodelike virus getoets en getalle gaan na verwagting selfs verder die hoogte inskiet wanneer sulke roekelose besluite geneem word. Die besluit gaan die risiko vir oordrag onder die talle gesondheidswerkers wat openbare vervoer gebruik om na en van werk te pendel, verhoog en gaan die gesondheidsektor na die rand van die afgrond stoot omdat meer werkers in selfisolasie sal moet gaan,” het Noel Desfontaines, algemene sekretaris van Hospersa, gesê.

Volgens Desfontaines is die besluit ook strydig met regulasies oor sosiale afstandhandhawing.

“Ons doen ʼn beroep op die regering om die besluit om te keer en weer met taxi-operateurs te onderhandel, veral noudat die land die Covid-19-piektydperk nader.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

COSATU is dan in ‘n ewigdurende alliansie met die ANC. Dit is vir alle praktiese doeleindes deel van die ANC. So as COSATU teen die ANC-regering is oor taxi regulasies, dan ís die ANC mos nou teen die ANC. Iets maak nie sin nie.

Stefan ·

Wie durf teen die wense van die militante taxi eienaars ingaan?

Frans ·

Los die taxi uit hule is die base van suid afrika hule is ontasbaar vir vires net ons doodgewone mens is vatbaar

marius ·

Die regering het nie geknak nie , hulle het net gedoen soos hul taxi base hul beveel het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.