Santaco se taxi’s gaan tot 100%-kapasiteit laai

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Courtney Africa/African News Agency)

Die Suid-Afrikaanse taxi-vereniging Santaco het Sondag gesê taxibestuurders sal vanaf Maandag weer 100% van taxi’s se vervoerkapasiteit benut. Die vereniging het ook taxibestuurders wat passasiers oor lang afstande vervoer, aangesê om dié bedrywighede te hervat sonder die nodige permitte.

Dít volg nadat Fikile Mbalula, minister van vervoer, oor die naweek herhaaldelik ʼn vergadering met die vereniging uitgestel het, berig eNCA.

“Ons het hierdie besluit geneem weens frustrasie en ʼn gebrek aan rigting van die regering,” het Phillip Taaibosch, president van Santaco, vanmiddag gedurende ʼn virtuele mediakonferensie gesê.

Vlak 3 van die afsonderingsregulasies bepaal dat taxibestuurders tans tot 70% van die voertuie se kapasiteit beperk word.

Volgens Taaibosch is Santaco bewus daarvan dat taxi’s moontlik geskut kan word indien taxibestuurders nie aan die afsonderingsregulasies voldoen nie. Die vereniging se taxi’s is sedert die begin van die algehele landwye afsondering geskut teen ʼn vrystellingsboete van minstens R5 000.  Hy het verduidelik dat Santaco egter bereid is om die kans te waag.

“Ons het by die minister gekla oor hierdie onregmatige beslaglegging van taxi’s en daar is tot vandag toe nog niks daaraan gedoen nie,” het Taaibosch gesê.

Taaibosch het egter verseker dat taxibestuurders steeds die nodige veiligheidsmaatreëls soos die dra van maskers en die ontsmetting van taxi’s sal toepas om die veiligheid van pendelaars te verseker.

Maroela Media het vroeër berig Mbalula het voorheen aangekondig dat ʼn reddingspakket van R1,3 miljard vir die taxibedryf bewillig is. Dit is verreweg een van die grootste hulppakkette aan enige Suid-Afrikaanse bedryf om die uitwerking van die Covid-19-pandemie en gevolglike afsonderingstydperk te verlig.

Santaco het egter gesê die hulppakket is onvoldoende waarna sy taxibestuurders die afgelope Maandag gestaak het. Duisende pendelaars landwyd is weens dié staking gestrand gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

BAT moet maak soos die taxibestuurderds.

Willem

Hoekom dan nog lockdown vir ons

Johanncb

As passasiers oor lang afstande vervoer mag word, neem ek aan dat motoriste tussen munisipale grense mag reis! Dit maak sin!

pieterweskaap

Min. Mbalula kom nie sy afspraak met die taxibedryf na nie en nou gaan “die stert die hond wil swaai”.

Maritha

100% laai kan lei tot 100% “daai”