Santaco-staking alles behalwe vreedsaam – Kaapstad

‘n Golden Arrow-bus brand in Kaapstad. (Foto: Twitter)

Binne ure na die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se aankondiging van sy “vreedsame” week lange staking, is gewelddadige aanvalle en grootskaalse ontwrigting van vervoerdienste in die Moederstad aangemeld.

Minstens vier busse, drie vragmotors en ’n ambulans is sedertdien met petrolbomme bestook en passasiers van MyCiTi-busse afgedwing. Verskeie wetstoepassingsvoertuie is met klippe bestook. ’n Coca-Cola-vragmotor het onder ’n aanval deurgeloop en is geplunder.

Teen Vrydagoggend was die N2 steeds versper.

Luidens berigte is die bestuurder van ’n Golden Arrow-bus vroegoggend geskiet toe boosdoeners in Khayelitsha op die bus losgebrand het.

“Dit is nie meer ’n vreedsame protes nie en ons veroordeel hierdie optrede ten sterkste. Daar is absoluut geen nodigheid om menselewens in gevaar te stel nie, en ook nie vir inmenging met ander voertuie op die pad nie,” het die stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, raadslid Rob Quintas, gesê.

Die metro dreig nou om 25 taxi’s te skut vir elke vragmotor, bus, voertuig of fasiliteit wat aan die brand gesteek of beskadig word.

Die metro beplan intussen om ’n interdik te bekom sou die geweld voortduur.

“Terwyl ons die reg op vreedsame protes respekteer, is daar geen plek vir geweld en intimidasie in Kaapstad nie,” sê burgemeester Geordin Hill-Lewis.

Santaco het hom verlede week aan samesprekings met die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering onttrek en Donderdag skielik besluit om sy bedrywighede in Kaapstad op te skort op grond van wat hulle as onbillike diskriminerende praktyke teenoor minibustaxi’s beskou.

“Dit is eenvoudig nie waar dat die stad minibustaxi-operateurs teiken nie,” sê Quintas. “Ons vind inteendeel dat sommige minibustaxi’s onpadwaardig is, ’n rekord van gevaarlike verkeersoortredings het, dat bestuurders nie oor basiese bestuurslisensies beskik nie en sommige van die voertuie met kriminele ondersoeke verbind word.”

Die Stad Kaapstad doen nietemin ’n beroep op Santaco om terug te keer na die onderhandelingstafel “sodat ons hierdie kwessies op ’n vreedsame wyse kan oplos”.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê hy en onder meer die LUR vir provinsiale vervoer het die afgelope ses maande nie minder nie as vier vergaderings met die taxibedryf gehad in ’n poging om stakingsoptrede en die moontlike geweld wat dikwels met sulke stakings gepaardgaan, af te weer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Mariana ·

Wanneer in die SA geskiedenis was enige staking vreedsaam. Hierdie mense ken nie die woord nie. Taxis word geskut met rede. Unies is een van die grootste probleme in die land. Taxis wil die monopolie vir openbare vervoer hê dis al.

Pierre ·

Taxi’s is n wet op hul eie, geen respek vir pad gebruikers nie nog minder vir wet en orde, ek ondersteun die stadsraad te volle met die wetgewings as jou voertuig nie padwaardig is nie en of as jy roekeloos is (geel streep ry ingesluit) dan word jy geskut.

Watsenaam ·

Nee liewe Caterina, Ons is almal nes jy, totaal stomgeslaan met die wettloosheid in die land.Wette is net op blankes van toepassing.So ons moet nou sê DIE my beloved Country DIE. As dit demokrasie is word ek liewer n kloosterling.
Moenie die regering blameer nie. Blameer eerder die opstokers en die wat moord van podiums af skree.

Wondermaarnet ·

Het die polisie al gehoor van “live ammo”?? Duidelik nie.

Jacobus ·

Jy is welkom om die Weskaap te verlaat en in jou provinsie te gaan bly waar dit beter gaan.

Fontein Tannie ·

Goed gestel Jacobus. Die plan hier was juis om in te gryp teen die wetlose Taxi’s, iewers te begin met aksie!! Maar mense in die paviljoen kan net kritiek lewer sonder om agter die Mayor in te klim en te HELP wet en orde terug bring!!

domheks ·

Wonder waar is cele en cr? Wie regeer nou eintlik die land? Die taxi’s of die staat(cr & cele)

Jaco ·

Die DA in die stad Kaapstad is vinnig met nuwe verkeersreëls waarmee hulle dan met groot bravade en “limelight” spog wanneer hulle ‘n taxi skut. Maar vra dieselfde DA om van 10 plakkershuisies vol misdaad en 10 onwettige huiswinkels in my buurt ontslae te raak, dan word ek met stilte begroet, of met ‘n simpel verskoning “ons kan nie dié mense se menseregte skend nie”.

Manie ·

Absoluut Jaco, ons sukkel ook al vir maande om van ‘n klompie staartbewoners ontslae te raak en het selfs met Kaapstad se Law Enforcement en die SAPD daaroor vergader. Al wat ons egter vertel is, is oor die straatbewoners se regte en wat ons nie mag doen nie, andersins is dit ‘n bol tjol.

Jacobus ·

Hoekom vra jy dan nie die SAPS nie, want jy gaan dieselfde aantwoord kry. Regeringsbeleid.

Hannelie ·

En driekwart het nie eens lisensie nie en die taxis in onpadwaardig.

houopkruip ·

Ek voel jammer vir die wetsgehoorsame mense in die Suide.
Maar vir dekades was Skaapstad en Skelmbos se mening dat die probleme net hoort in die Noorde.
Die tragiese is dat die manne voortaan die suide baie meer gaan teiken – om ooglopende redes …….. meer as die Noorde.

JohanR ·

Kan nie glo hoe lekker vreedsaam dit is sonder die taxis. Geen hooters, geen gaartjie wat skreeu en fluit. Lekker!

Chris ·

Dit is ‘n georkestreerde ontwrigting van die Wes Kaap. Die mense word gebruik as ‘n politieke speelbal en hulle doen lustig voort daarmee. Die “village idiots” word as kanon voer aangewend. Die staking is maar net die ore van die seekoei. HKNGK voor die “verkiesing volgende jaar. Ons het nog niks gesien nie.

Skim ·

My dogter was gister midde in die taxigeweld vasgevang, terwyl motors by ‘n robot gewag het. Toe hulle haar gewaar, toe begin hulle haar bestook met bakstene. Haar motor is so erg beskadig dat dit waarskynlik afgeskryf gaan word. ‘n Barmhartige samaritaan, ‘n taxibestuurder, het na haar toe kom en gesê hy sal haar huistoe vat. Sy moes plat lê op die sitplek, sodat hy tussen die klipgooiers kon uitkom.

Owlie ·

Wat is jul definisie van vreedsaam?
Waarvis die president en minister van polisie tydens al hierdie gemors?
Dis ŕeg Weskaap verwyder al daardie onpadwaardige voertuie, bestuurders sonder lisensies ens – daarmee saam verwyder ook al hierdie betogers- daar is nie lisensies vir betogings nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.