SANW gereed om SA’ners uit Mosambiek te help ontruim

Argieffoto van Palma (Foto: John Wessels/AFP Photo)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gereed om alle Suid-Afrikaners wat uit die geweldgeteisterde noorde van Mosambiek verwyder wil word, uit die land te help repatrieer.

Die weermag tree op in samewerking met die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Maputo, en diegene wat uit Mosambiek ontruim wil word, moet die hoë kommissariaat in die Mosambiekse hoofstad kontak.

Luidens ‘n amptelike verklaring wat die Suid-Afrikaanse regering Saterdag uitgereik het, is die regering baie bekommerd oor die verslegtende situasie in Mosambiek.

Een Suid-Afrikaner, Adrian Nel, is reeds dood in die ekstreme Islamitiese inval in die noordelike provinsie Cabo Delgado, teenaan die grens met Tanzanië, waar groot welvaart op die spel is sedert die ontdekking aldaar van die vierde grootste natuurlike gasveld ter wêreld.

Nel se oorskot is op 30 Maart deur die Suid-Afrikaanse Lugmag uit Mosambiek na Suid-Afrika gebring en aan sy familie besorg. Nel is doodgeskiet tydens ‘n mislukte ontsnappingspoging toe invallers die hawedorp Palma ingeneem het.

Volgens die Suid-Afrikaanse regering is al vyftig die Suid-Afrikaners wat as vermis aangegee is, opgespoor en word geen Suid-Afrikaner tans in Mosambiek vermis nie.

Te midde van ‘n groeiende besef dat die situasie in die noorde van Mosambiek buite beheer is, dat die Mosambiekse weermag glad nie opgewasse is vir die situasie nie, dat ‘n humanitêre ramp reeds ‘n werklikheid is en dat die situasie maklik kan versprei na die res van Mosambiek, maar ook na buurlande, het die Suid-Afrikaanse regering sterk aanduidings gegee dat hy nie ondeurdag militêr by ‘n oorlogsituasie betrokke gaan raak nie, en beslis nie alleen nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het dit baie duidelik gestel dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se betrokkenheid in Mosambiek tans streng beperk word tot steun aan die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Maputo, en tot die verwydering van Suid-Afrikaanse burgers wat dit so verkies vanuit die oorlogsone.

Die Suid-Afrikaanse regering het gesê enige Suid-Afrikaanse betrokkenheid by die oplos van die konflik in Mosambiek sal wees as deel van gesamentlike optrede deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Dit lyk volgens waarnemers darem asof die dodelike aanslag op Palma die SAOG laat wakker skrik het uit ‘n hibernasie van sowat vier maande waarin die SAOG min tot niks openlik en prakties gedoen het aan die eskalerende krisis nie.

Die mees onlangse vergadering van SAOG-leierstrukture oor die krisis was in Desember. Volgens diplomatieke bronne was ‘n bydraende faktor tot die futlose dwaal waarin die SAOG verval het dat geen doelgerigte versoek of aanduiding van die Mosambiekse regering ontvang is oor watter tipe hulp en steun die land sou verkies nie.

Nou het die huidige voorsitter van die SAOG, pres. Mokgweetsi Masisi, darem ‘n SAOG-leiersberaad oor die Mosambiekse krisis belê.

Die Suid-Afrikaanse regering het sy afwagting oor hierdie beraad uitgespreek, met die verwagting dat praktiese en uitvoerbare besluite ter verbetering van die situasie geneem sal word, met die insette en instemming van die regering van Mosambiek, sodat vrede en stabiliteit herstel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Hoe ? Gaan hulle die twee land rovers met ge croomde rolstawe invlieg ?

Sarel

Betwyfel of die SA Weermag opgewasse sal wees .
Dit is wat gebeur met ‘n Land waar daar nie vrede kan kom.nie. SA en die ANC het hier les te leer.

Nick

Nou moet daai Suid Afrikaners bekommerd raak met die SANW wat kom help. Kruip weg. Vlug. Stuur liewer n plaaslike buurtwag. Hulle sal meer beteken.

Snowball

April -grappie?

Persheks Adri

Ons patetiese weermag teen Isis? Duidelik verstaan hulle nie Isis nie hulle gaan eerste weg hardloop patete. Stuur groot mond Mal-emma saam!