SAOG-tribunaalsaak sal dan verhoor word

Argieffoto

Die lank uitgestelde verhoor van die saak teen pres. Jacob Zuma en die Suid-Afrikaanse regering vir hulle rol in die sluiting in 2012 van die plaaslike menseregtehof, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-tribunaal, is geskeduleer vir 5 tot 7 Februarie 2018. Dit sal by die Pretoriase hooggeregshof gehou word.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gesê dié organisasie verteenwoordig vier Zimbabwiese boere en twee Zimbabwiese landboumaatskappye in hierdie saak.

Die Regsvereniging van Suid-Afrika het in April 2015 aansoek gedoen om die optrede van Zuma, minister van justisie en korrektiewe dienste Michael Masutha, en minister van internasionale betrekkinge en samewerking Maite Nkoana-Mashabane, ingevolge die 2014 SAOG-protokol ongrondwetlik te verklaar.

Onder die oorspronklike protokol wat in 2000 deur die SAOG-staatshoofde geteken is, kon individue en maatskappye ʼn saak teen ʼn lidstaat aanhangig maak. Die enigste bepaling was dat hulle eers alle beskikbare plaaslike middels moes uitput, of dat hulle dit nie kon regkry om deur nasionale howe voort te gaan nie. Tans beperk die protokol die SAOG-tribunaal se jurisdiksie tot dispute tussen lidlande en ontsê sodoende die 277 miljoen mense wat in die SAOG-streek woon toegang tot geregtigheid as die howe in hul eie lande versuim om regspraak te lewer.

In 2015 het vier onteiende kommersiële boere van Zimbabwe en twee Zimbabwiese landboumaatskappye aansoek gedoen om by die saak aan te sluit. Die burgerregtegroep AfriForum het hulle verteenwoordig. Hierdie boere is die reg in hul eie land ontsê deur beleide en maatreëls wat hulle van hul eiendomsreg ontneem het en wat nie hul menseregte – en dié van hul werkers – tydens onwettige en gewelddadige plaasinvalle kon handhaaf nie.

Al vier boere het suksesvol deelgeneem aan verskeie hofsake voor die SAOG-tribunaal en in al hierdie gevalle het die tribunaal teen die Zimbabwiese regering beslis, het Spies bygevoeg.

Ben Freeth wat Mugabe in 2007 saam met sy skoonpa, Mike Campbell, voor die SAOG-tribunaal in Windhoek, Namibië, gedaag het oor die onwettige verkryging van Campbell se Mount Carmel-plaas en dié belangrike hofsaak die volgende jaar gewen het, is een van die vier boere. Freeth is ook ʼn woordvoerder van die SAOG-tribunaal se menseregtewaghond.

“Ten spyte daarvan dat ons ons hofsake gewen het, het die sluiting van die tribunaal in 2012 daartoe gelei dat ons nie die sake verder kon neem nie,” het Freeth gesê. “Die volgende stap sou wees om geldelike vergoeding van die Zimbabwiese regering te kry vir hul flagrante minagting van daardie uitsprake.”

Die 2014-protokol is uiteindelik deur nege van die 15 lidlande onderskryf tydens die SAOG se spitsberaad vir staatshoofde wat in 2014 by die Victoria-waterval in Zimbabwe gehou is. Hierdie protokol kan egter slegs in werking tree as minstens 10 van die lidlande, wat twee-derdes verteenwoordig, dit bekragtig. Sedertdien het geen enkele lidstaat die protokol bekragtig nie.

Die Februarie-verhoor in Pretoria sal een van die belangrikste sake vir die regte van die SAOG-burgers wees en sal ook vir Suid-Afrika die geleentheid bied om sy voormalige hoë morele waardes te herwin. “Versuim om dit te doen, sal baie negatief op Zuma en sy regering reflekteer,” het Spies afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snoefie ·

zuma borsel sy tande met negatiewe refleksie. dit was die lekker ou begin van “grond gryp sonder vergoeding.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.