SAOU bekommerd oor lede se pensioen

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). (Argieffoto.)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het sy kommer uitgespreek oor etlike verwikkelinge met betrekking tot die staatspensioenfonds (GEPF) waaroor die afgelope week berig is.

“Dit is met groeiende kommer dat die SAOU kennis neem van negatiewe en verdagte ontwikkelings betreffende die GEPF,” skryf die unie Vrydag in ʼn verklaring.

Die skrywe verwys na die GEPF se aankoop van ʼn plaas naby Klerksdorp in Noordwes. Maroela Media het Woensdag berig dat die fonds meer as R580 miljoen bestee het aan dié stuk grond, wat vir baie minder waardeer is.

Verskeie media-instansies het ook Vrydag berig dat die presidensiële werkkomitee ten gunste daarvan is dat die GEPF ʼn lening ten bedrae van R254 miljard aan Eskom maak.

“Ten opsigte van die aankoop van grond in Klerksdorp, word alle navrae met groter stilte beantwoord. Die persepsie is dat hierdie ‘belegging’ in mistigheid gehul is en dat die objektiewe waarde van die belegging nie klinkklaar verduidelik kan word nie,” lui die SAOU se verklaring.

“Daar word verder verneem dat georganiseerde arbeid (die drie vakbondfederasies op Nedlac naamlik Fedusa, Cosatu en Nactu) klaarblyklik in beginsel ingestem het dat die lening aan Eskom toegestaan word. Die SAOU wat by Fedusa geaffilieer is, is nie bewus van enige formele mandaat wat in dié verband aan Fedusa verleen is nie.”

Gevolglik sal die SAOU dié aangeleentheid Saterdag op ʼn spesiale vergadering van die nasionale uitvoerende komitee bespreek.

“Die SAOU se mandaat is ondubbelsinnig: Enige belegging moet in die beste belang van die lede van die fonds wees en moet vergelykbaar wees met die objektiewe kriteria wat deur kundige en objektiewe beleggingsinstansies toegepas word. Indien trusteelede van die fonds nie aan bogemelde kriteria voldoen nie, tree hulle nie in die beste belang van die fonds op nie en is daar duidelike blyke van subjektiwiteit en politieke gedienstigheid.”

Die SAOU sê indien bogenoemde waar is, die unie ʼn hofaansoek sal oorweeg om sodanige trustees se geskiktheid en gepastheid te bepaal en indien nodig, hulle van hul trusteeskap te onthef.

“Die SAOU is nie blind vir die strategiese belang van Eskom vir die land se ekonomie nie, maar om die fonds as ʼn gerieflike en vriendelike geldvoorskieter te ag is doodgewoon onverantwoordelik. Dit is alombekend dat Eskom nie in staat sal wees om die rente te kan delg nie, wat nog te sê van die kapitaal,” sê die unie.

Die SAOU onderneem om sy lede op die hoogte te hou van verwikkelinge in dié verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem Sterrenberg

Ek is n pensioenaris by GEPF en hél,hoe kan ons geld uitgeleen word aan die korrupste entiteit van die lamsak regering van SA?Eskom kan net hulself blameer vir hul gestelery en korrupte beamptes wat hul bly aanstel!Solank die ANC aan bewind is sal korrupsie net erger word.Laat Eskom gaan geld bedel by China en Indië.Los ons geld uit julle rowers!

Louis

Watter vakbond gaan namens die pensioenarisse wat uit die TO dae kom optree. Hulle is vandag nie eers meer lede van SAOU nie. Die enigste is as hulle lede van Solidariteit moet word. Die betaal van ledegeld is belangrik. Hierdie hofsake en ondersoeke kos baie. ‘n Mens sal graag wil weet hoe lyk die getalle van Fedusa teenoor Cosatu en Nactu, wat almal deel is van Nedlec. As daar met die plaaskopery nie bedrog bewys kan word nie. Is die GEPF verledetyd.

Cherokee

Praat met ons oor die lening wat Eskom by China gemaak het. Die lening wat blykbaar steeds in skemerte gehul word.
25 Mrt. 2019 – Government has given Eskom a R69 billion bailout while it struggles to pay off its debt of over R420 billion.
24 Jul. 2018 – The Money Show’s Bruce Whitfield interviews Dr Iraj Abedian, CEO at … Eskom will borrow R33.4 billion rand from China Development Bank.

Pampoen

Dit is verfoelik van die minister en president om die dinge toe te laat.

Kokkie

Dit bevestig maar net weer die skokkende onverantwoordelikheid van die regering. Dis krimineel om met pensioengeld te dobbel.