SAOU dalk hof toe oor betaling van tydelike onderwysers

onderwys-alfabet-swartbord-boek

(Argieffoto: pixabay/Pexels)

ʼn Onderwyseres wat sedert begin verlede jaar ingevolge ʼn tydelike dienskontrak by ʼn skool in Mpumalanga klas gee, sê sy – en talle van haar kollegas – is hande in die hare omdat die departement hulle nie vir Januarie wil betaal nie, kwansuis omdat hulle nie by die skool was nie.

Die nasionale departement van onderwys het vroeër aangekondig skole heropen nou eers op 15 Februarie, eerder as 27 Januarie. Onderwysers keer op 1 Februarie terug.

Dié onderwyseres sê sy is ingelig dat sy nie vandeesmaand betaal gaan word nie, aangesien onderwysers nie in Januarie by die skool was nie. “Dit was nie ons keuse nie. Die departement het gesê ons moet by die huis bly,” sê sy.

Volgens haar sit onderwysers boonop allermins ledig tuis. “Ons doen voorbereiding, ons maak hulpmiddels vir die klas.”

Sy sê verlede jaar moes hulle die klasbeplanning boonop verskeie kere oordoen omdat skole weens die afsonderingsregulasies met tye gesluit is.

“Ek is só lief vir kinders en onderwys is my passie. Ek doen my werk met ʼn glimlag, maar kan dit nie sonder betaling doen nie. My mediese fonds moet betaal word, my studielening, my motor, die versekering. Dit is ʼn week voor betaaldag.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die vakbond vergader Dinsdagmiddag met sy regspan met die oog op ʼn dringende hofaansoek om die departement te dwing om tydelike onderwysers vir Januarie te betaal.

Klopper sê die SAOU tree namens 428 van sy lede in Mpumalanga op, maar dat die besluit ʼn geraamde 4 000 tydelike onderwysers in die provinsie raak. Hulle hou die situasie met tydelike onderwysers in ander provinsies ook dop.

Volgens Klopper wil die Mpumalanga-onderwysdepartement oënskynlik die R100 miljoen-salarisrekening vir Januarie bespaar deur tydelike onderwysers vandeesmaand nié te betaal nie en hul kontrakte eers in Februarie in werking te stel.

Klopper sê dit is ʼn verbreking van ʼn gesamentlike ooreenkoms wat die departement aangegaan het.

“Dit is nie óns skuld dat skole gesluit is nie.”

Klopper sê die departement het vroeër, ingevolge die ooreenkoms, onderneem dat die poste van onderwysers wat tydelik aangestel is ná drie maande na permanente poste omgeskakel sal word. Die departement wil dié aanstellings nou eers in Februarie doen.

“Ons vind dit onaanvaarbaar. Dit is strydig met die gesamentlike ooreenkoms en die regmatige verwagting wat geskep is.”

Klopper sê ʼn tydelike onderwyser kan ook nie summier deur ʼn onderwyser vervang word wat ʼn beurs van die departement ontvang het en nou ʼn plasing benodig nie. ʼn Billike arbeidsproses moet ook gevolg word.

Ingevolge die ooreenkoms moet daar aan sekere voorwaardes vir die omskakeling van ʼn tydelike pos na ʼn permanente pos voldoen word: Dit sluit in dat dit ʼn sogenaamde substantiewe pos sal wees, asook dat die pos deel moet vorm van die goedgekeurde diensstaat van die skool.

Klopper sê die SAOU vergader intussen Woensdag met die nasionale direkteur-generaal van onderwys en sy senior bestuurspan om te kyk of die situasie nie op nasionale vlak opgelos kan word nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van onderwys in Mpumalanga gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Vertel ons asseblief meer oor waar die onderwyseres skoolhou in die vakansie en in die huidige Covid-grendeltyd? Hoekom word onderwysers aangestel voordat die skole sluit vir die somervakansie?

Mickey ·

dame duidelik weet u nie wat onderwysers moet doen voor die skool heropen nie. hulle moet voorbereiding doen hul het so baie admin dit is rerig nie maklik om n onderwyser te wees nie. . hulle word aangestel sodat skole onderwysers het wanneer skool begin. dus jammer hoe oningelig die mensdom is

Ruan ·

Vertel my, hoekom moes ons skoolfonds betaal vir Januarie as my kind eers Februarie skool toe gaan?? Hoekom moes ek verlede jaar in level 5 lockdown skool geld betaal as my kind vir amper 3 maande nie by die skool was nie?? As ek my kind se skoolfonds betaal in die tydperk moet hul die onderwysers/resse betaal ongeag of hul tydelik of voltyd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.