SAOU gaan stappe doen oor Bela

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) gaan nie toelaat dat die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, ook bekend as die Bela-wet, moeiteloos aanvaar word nie.

Die SAOU beplan om stappe te doen om die “gebrekkige aandag aan die etlike duisende voorleggings” wat teen die wetsontwerp ingedien is, bloot te lê.

Paul Sauer, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die unie se nasionale uitvoerende raad het vandeesweek besluit om ʼn formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) in te dien.

Die SAOU hoop dat die aansoek al die voorleggings bekend sal maak wat tydens die openbare deelnameproses vir die wetsontwerp gehou is, asook die portefeuljekomitee vir basiese onderwys se verslag aan die Nasionale Vergadering.

Die Bela-wet gaan binnekort voor die Nasionale Vergadering vir stemming voorgelê word.

Volgens Sauer is dit egter verdag dat die wetsontwerp so vinnig voor die Nasionale Vergadering aangehoor word.

Die raad het tydens sy vergadering tot die gevolgtrekking gekom dat die Bela-wet deur die goedkeuringsprosesse gestroomroller word sodat dit aan pres. Cyril Ramaphosa vir ondertekening voorgelê kan word.

Dit is glo omdat daar voorheen kennis geneem is dat daar 32 ander wetsontwerpe op die program is vir bespreking en stemming voor die Nasionale Vergadering, maar dat nommer 33, wat die Bela-wetsontwerp is, nou eerste prioriteit geniet.

Die SAOU se raad voer aan dat dit duidelik die regering se oogmerk is om van openbare skole weer staatskole te maak.

“Dit is onaanvaarbaar en moet teengestaan word,” het die raad besluit.

Hofaansoek gaan voort

Die SAOU gaan intussen voort met die finalisering van ʼn hofaansoek met die oog op die uiteindelike beregting deur die Konstitusionele Hof.

Die fokus van die aansoek is:

  • die gebrekkige aandag wat aan die voorleggings verleen is;
  • die weerlegging van die bedenklike regsopinie van die staatsregsadviseur aan die portefeuljekomitee betreffende die konstitusionaliteit van die Bela-wetsontwerp;
  • die bewese voldoening van die huidige formulering van artikels 5 (toelating) en 6 (taal) aan konstitusionele beginsels soos bevestig deur etlike uitsprake van die Konstitusionele Hof; en
  • die president se plig om in terme van sy ampseed “… die regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm en bevorder”, asook dat hy moet verseker dat enige wetsontwerp die toets van konstitusionaliteit sal slaag.

Een van die klousules in die wetsontwerp bepaal dat die provinsiale departement van onderwys die finale sê oor ʼn skool se taal- en toelatingsbeleid sal hê, iets wat hewige teenkanting uit verskeie oorde gekry het.

“Die SAOU is in die lig van verskeie uitsprake vanaf politieke verhoë oortuig dat die primêre oogmerk van Bela nie is om die gehalte van die bykans 23 000 openbare skole te verbeter nie, maar om subjektiewe politieke punte vir die komende algemene verkiesing aan te teken,” sê Sauer.

“Die SAOU bly daartoe verbind om ʼn onderwysbedeling, wat gegrond is op die beginsel van die skool as ʼn demokratiese en gemeenskapsgedrewe instelling, te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boatsie ·

En vra dat mense wat griewe ingedien het om hul name vir jul deurgee anders gee die skelms net weer die helfte vd inligting vir julle

Catherina ·

Can’t see that hardworking learners and parents achieve. Meanwhile their children all attend private schools…good education. What a flop RSA is all round

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.