SAOU gryp in by HS Eldoraigne

Die ouers het Dinsdagoggend vreedsaam by die skool bymekaar gekom (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Dinsdag ’n handskud-ooreenkoms met Hoërskool Eldoraigne in Centurion gesluit en ooreengekom dat dr. Anton Prinsloo vir tyd en wyl sy pligte as skoolhoof aan die adjunkhoof, Dave du Plessis, delegeer.

Die SAOU het gister met Prinsloo, Du Plessis, die personeel, afgevaardigdes van die beheerliggaam en die ouers in gesprek getree. Tydens die gesprek het die unie met die betrokke partye ooreengekom oor hoe Prinsloo se terugkeer as skoolhoof by die skool professioneel en vreedsaam hanteer kan word.

Die skool se beheerliggaam staan tans ʼn besluit deur die Gautengse departement van onderwys om Prinsloo weer as hoof aan te stel, teen. Hy is tydelik verwyder nadat klagtes van boeliery en viktimisasie teen hom aanhangig gemaak is, maar is weer verlede week in sy pos aangestel.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende direkteur van die SAOU, is tydens die gesprek ’n reëling met Prinsloo getref dat hy bloot ’n administratiewe rol sal vervul en dat hy die pligte as skoolhoof aan Du Plessis sal delegeer. Daar sal heeltyd kommunikasie tussen Prinsloo en Du Plessis wees.

“Prinsloo bly regmatig die skoolhoof en is só deur die departement aangestel. Ons as vakbond kan nie teen die departement se besluit gaan nie, maar ons kan ingryp om die situasie vir almal by die skool draaglik te maak. Die SAOU het ook nie die mag om enige besluite op die skool af te dwing nie. Daarom het ons ’n handskud-ooreenkoms met die betrokke partye gesluit. Dié ooreenkoms is gegrond op ‘jou woord is jou eer’,” sê Klopper.

Klopper sê dit is ook ooreengekom dat Prinsloo geen formele interaksie met enige personeellid, leerder of ouer mag hê nie. Hy mag ook nie enige vergadering met personeel, leerders, ouers of die beheerliggaam bywoon of lei nie.

Die beheerliggaam van die skool het ’n regspan aangestel met die oog op regstappe teen die departement se besluit om Prinsloo weer as skoolhoof aan te stel.

Volgens Klopper geld die SAOU se handskud-ooreenkoms totdat dié regsaksie afgehandel is.

Tientalle ouers het Dinsdag voor die skool byeengekom om hul misnoeë oor Prinsloo se heraanstelling uit te spreek. Die ouers het ook ’n petisie aan die SAOU oorhandig. In die petisie eis hulle dat die Gautengse departement van onderwys die besluit om Prinsloo as hoof te hervestig, herroep.

Klopper het ʼn beroep op ouers gedoen om kalmte te handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hendrik ·

Wel ek het persoonlik met ‘n onderwyser vriend gesels by die skool en daar is beslis gronde vir ongelukkigheid met Dr.Prinsloo

Johann ·

Askuus maar hoe bly die tjomma steeds by die skool terwyl hy duidelik gesê en gewys word jy moet tatta? Soveel van vermeteld het ek lanklaas gesien.

Sandra ·

Die onderwysers en ouers het nie die mag om hom af te dank nie. Daar moet klinkklare bewyse van magsmisbruik wees. Onskuldig tot jy skuldig bevind word. Hoekom moet hy weghardloop?

Elmarie ·

Hy het, ongelukkig, nerens anders om heen te gaan nie. Die Departement van Onderwys het hom aan gestel. Beheer Liggaam en ouers kan hom nie afdank of verjaag nie. So totdat die hofsaak afgehandel is, moet hy by die skool aanmeld. Dit is hoekom daar hierdie ooreenkoms gemaak is

Anel ·

Nogal jammer daar word nie gesê wat die arme man verkeerd gedoen het nie.

Irma ·

Ja Anel, ek sal ook graag wil weet waarom daar so ‘n hewige aksie teen hierdie hoof is, dat hy nie baie gewild is nie is baie duidelik.

Francois Le Cochon ·

Ek verstaan nie. Volgens die DvO se PAM handleiding moet ‘n prinsipaal sekere pligte uitvoer. ‘n Prinsipaal mag nie sy pligte delegeer nie. Die SAOU het nie die jurisdiksie om ‘n ooreenkoms met ‘n staatswerker aan te gaan om nie sy/haar pligte uit te voer nie. Indien die dok nie sy pligte uitvoer nie, kan hy ook nie vergoeding ontvang nie. Die Hoogeregshof, en die Appel hof het hierdie beginsel bekragtig in die saak van Deon Scheepers v Grey Kollege SBL

Anthony ·

Het jy n kind in daai skool? Ek het 2 , dis nie net “n paar ontevredenes” nie & nog minder is dit n smeerveldtog

Marthina79 ·

Ek het ook n kind in daai skool en volgende jaar is altwee my kinders daar. Ons is beslis nie oningelig nie. Die Beheerliggaam doen n wonderlike werk en hou elke ouer op hoogte van wat aangaan. Glo my, ons het baie goeie rede om “ontevrede” te wees.

Casper ·

Kry dan die bewyse en laat die hooggeregshof beslis of hy geskik is vir sy pos dan kan die onderwysdepartement se besluit om hom weer te herontplooi tersyde gestel word.

Paul ·

Hier is die issue. Daar was klagtes .. hy is suspend terwyl klagtes ondersoek is.. dit was behind dat die klagtes ongegrond is.. en hy kom terug.. die eintlije issue hier is.. die ouers en sekere onderwysers moet aanvaar.. hulle is nou besig met n heksejag

Marthina79 ·

Hier is die eintlike issue. Die klaers was nooit genader tydens die ondersoek nie. Niemand het getuig nie. Daar was ook glad nie met die Beheerliggaam gekommunikeer nie.

Swerwer ·

Goed om so ‘n foto te sien. Is reg, iewers moet geregtigheid geskied.

Vlooitjie ·

Die regaksie is nog nie afgehandel nie en tot tyd en wyl is hy terug in sy pos, dis die realiteit. En ek glo juis omdat dinge nog nie afgehandel is nie, is die omvang en redes nog nie wyd bekend nie. Ons almal het opinies oor wat hier gebeur sonder al die feite. Kom ons wag maar dat die saak afgehandel word.

Agge nee ·

Glo my, die man wil ook nie meer by die skool wees nie. Hy wat beskuldig word van boelie-gedrag word nou deur almal geboelie, die SGB, die ouers, voornemende ouers (?), ander belanghebbende persone (nogal 136 van hulle), en selfs deur Graad 10 dogters. Gee vir hom sy volle pensioen en laat hom in vrede aftree of elders ‘n werk gaan doen as hy nog nie wil stilsit nie. Hierdie is nou ‘n onsmaaklike heksejag op ‘n persoon wat deur die onderwyswet verbied word om sy kant in die media te stel, terwyl elke Tom, Dick, Doortjie en Sipho alte graag met die media praat.

Hardekwas ·

Doktor is n naam wat akademici vir hulself uitgedink het om tog ook belangrik voor te kom. Dis niksseggend, en hulle is net so onbelangrik soos die res van ons.

Elinette ·

‘n Doktorsgraad is iets wat mens slegs verwerf na velerlei jare se studeer aan ‘n erkende tersiêre instelling. Dit volg gewoonlik op ‘n B-graad, dan ‘n Honneursgraad, daarna ‘n Meestersgraad. Dit is nie iets wat mens in jou plaaslike Shoprite kan gaan koop nie. Ek sou dink dat iemand met ‘n Doktorsgraad in pedagogie darem iemand is om na op te kyk.

Charmain ·

As ek so ongewild is in my werksplek gaan soek ek eerder n ander job! Hoe gaan hy ooit weer die personeel & ouers se samewerking & vertroue kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.