SAOU stel oudregter aan om bewering van ongerymdhede te ondersoek

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). (Argieffoto.)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ’n senior afgetrede regter aangestel om bewerings van finansiële ongerymdhede teen die vakbond te ondersoek.

Dít kom nadat mnr. Michael Pashut, ’n motorhandelaar wat ook minibusse aan skole verkoop, in Februarie bewerings in dié verband die lig laat sien het.

Die dagbestuur van die SAOU het in ’n verklaring gesê hy verwerp alle bewerings van ongerymdhede wat met die SAOU en verwante entiteite se geldsake te doen het met minagting.

Pashut het onder meer bewerings ten opsigte van gebrekkige korporatiewe bestuur in die SAOU en sy entiteite gemaak en ook aangevoer dat daar onreëlmatighede is oor die vasstelling van vergoedingspakkette. Hy het beweer dat Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, ’n “astronomiese salaris” verdien en dat hy nie belangebotsings verklaar het nie. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy wanvoorstellings aan vakbondlede gedoen het.

Klopper het in reaksie gesê Pashut se “ongegronde bewerings en volgehoue swartsmeerdery” van die SAOU het tot die besluit van die dagbestuur gelei om oudregter Willem Hartzenberg aan te stel om alle bewerings te ondersoek en ’n verslag hieroor op te stel.

Alle rekords van die SAOU en verwante entiteite is tot Hartzenberg se beskikking gestel en hy kan ook enige mondelinge en skriftelike getuienis na sy diskresie oorweeg.

Klopper sê daar kan nie toegelaat word dat ’n individu soos Pashut die SAOU en individue “links en regs beswadder en aanval” nie. Volgens Klopper is ’n teisteringsbevel ook teen Pashut aanhangig gemaak wat in Junie aangehoor sal word. ’n Skadevergoedingseis vir laster en naamskending is ook reeds teen Pashut ingestel.

Pashut se bewerings oor die SAOU het gevolg kort nadat die vakbond ’n brief aan lede gestuur het waarin skoolhoofde gemaan is om versigtig te wees ten opsigte van finansiële bestuursaangeleenthede. Daar was geen verwysing na Pashut of sy onderneming in die brief nie. Die brief het eerder gespruit uit ’n toename in dissiplinêre verhore teen skoolhoofde en ’n verslag van Corruption Watch wat op korrupsie in skole gedui het waarvan 34% aan geldelike wanbestuur toegeskryf kan word.

Pashut se volgehoue bewerings het ook daartoe gelei dat daar wel SAOU-hoofde is wat versoek het dat die SAOU aan ’n forensiese oudit onderwerp word.

Klopper het in reaksie hierop gesê indien Hartzenberg se ondersoek op enige onreëlmatighede afkom, óf hy dit nodig ag dat só ’n ondersoek gedoen moet word, hy geregtig is om ’n onafhanklike ouditeur aan te wys om hom by te staan.

Klopper sê dit is in die belang van die SAOU en verwante entiteite dat daar vir eens en vir altyd ’n einde aan die verdagmakery en hardnekkige gerugte van ongerymdhede, wanadministrasie en selfverryking gebring word.

“Ons wil hê dat die proses met verantwoordelikheid en integriteit gedryf word met die beste belang van die SAOU as doelwit. Ek het geen twyfel dat die regter tot ’n goeie bevinding sal kom nie. Indien hy wel bevind dat die bestuur se bestuurstyl nie na wense is nie of dat kommunikasie met lede nie 100% is nie, sal ons dit aanvaar en daadwerklik aandag daaraan gee.”

Die SAOU verteenwoordig sowat 37 000 lede by 3 800 skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Dit is nou n geballanseerde, nie-sensakiesoekende berig waaruit n mens logiese afleidings kan maak. Dankie aan skrywer.

Genieve ·

Kan iemand ook vir my se wat die skoolhoof gemaak het,want daar is dan nou 2skoolhoofde en 2kapteine op n skip kan nooit werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.