SAOU steun besluit oor heropening van skole, maar …

(Argieffoto: Unsplash)

Die SAOU sê hy steun die besluit dat skole eers later gaan heropen omdat die veiligheid en gesondheid van personeel en leerders die eerste prioriteit moet wees, maar heelwat belangrike kwessies sal voor dan gepak moet word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die organisasie het deelgeneem aan omvattende beraadslaging oor die kwessie met die departement van basiese onderwys.

Die departement het Vrydag aangekondig bestuurspanne van skole moet op 25 Januarie by skole aanmeld, onderwysers op 1 Februarie en leerders eers op 15 Februarie.

“Die besluit om personeel heelwat vroeër te laat aanmeld vir diens maak werklik nie rasioneel sin nie,” sê Klopper.

“Daar is ruim 400 000 opvoeders in die stelsel en om nou hierdie mense te dwing om daagliks te reis, ook by wyse van openbare vervoerstelsels, en dan in noue aanraking met mekaar te werk, skep onnodige risiko’s. Verder moet in ag geneem word dat 200 000 onderwysassistente en 100 000 ander assistente ook vir diens moet aanmeld – dit verhoog die risiko van infeksies nog verder.”

Klopper sê ʼn voorwaarde vir die terugkeer van onderwyspersoneel is dat die gesamentlike ooreenkoms wat ingestel moet wees om personeel met bykomende kwale te reguleer, reeds verval het en hernieu moet word.

“Dit maak eerlikwaar ook nie sin dat personeel twee weke voor die heropening terugkeer nie. Soos gestel, moes die laaste skoolweek van 2020 gebruik word om vir die nuwe skooljaar voor te berei. Opvoeders het reeds hulle lesbeplanning vir 2021 gedoen. Daarom was die ooreenkoms nog altyd dat opvoeders die finale afronding gedurende die twee dae voor die terugkeer van die leerders doen.

“Omdat daar nog geen aanpassings gedoen is ten opsigte van die jaarlikse onderrigplanne en die assesseringsprogram nie, weet die unie werklik nie wat die onderliggende redes is nie.”

Klopper sê opvoeders moet as prioriteitsgroep beskou word wat betref die beoogde nasionale inentingsprogram.

Die SAOU waarsku ook dat verskeie kwessies steeds dringend aandag verg.

Dit sluit in die verskaffing van sowat twee miljoen maskers aan nuwe gr. 1- en gr. 8-leerders en die aanvul van ontsmettingsmiddels.

Vrae is gestel of die skoolkalender aangepas gaan word om steeds aan die beleid van 200 skooldae te voldoen, asook wat die plan is as die Covid-19-prentjie nie teen 15 Februarie verbeter het nie.

“Die fokus moet op die versekering van veiligheid en gesondheid van leerders en personeel wees. Daarom sal die skoolprogram daaraan ondergeskik moet wees indien verdere tydperke van skoolsluiting vereis word.

“Aanlyn onderrig is nie die allerantwoord nie. Daar moet in ag geneem word dat ruim 80% van leerders nie toegang daartoe het nie. Ook by van die mees welvarende skole word gemeld dat 100% van die sogenaamde ryk leerders nie toegang daartoe het nie,” sê Klopper.

Hy sê verdere uitstel is op lang termyn nie onoorkombaar nie, maar die werklikheid is dat daar nie ander opsies is as om op veiligheid en gesondheid te fokus nie.

“Die vraag moenie wees hoe onderrigtekorte vermy kan word nie, maar hoe dit tot die minimum beperk kan word. Geen redelike persoon kan op ʼn normale onderrigplan tydens ʼn uiters buitengewone tydvak in die mensdom se geskiedenis aandring nie.”

Die SAOU sê baie moet nog gedoen word om ʼn ordelike aanvang van die skoolkwartaal te verseker en die beskikbare tyd ten volle te benut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gysbert

Ek plaas SAOU en AgriSA in dieselfde boksie. Weet nie presies hoekom nie, iets sê net vir my hulle hoort saam…..

Anel

Wat hulle hulle die hele tyd gedoen. Het hulle nie genoeg tyd gehad om voor te berei nie? Die virus het nie vandag uit gebreek nie. En vir hoe lank wil almal nou die skuld vir alles wat verkeerd gaan op die virus pak? Kom oor dit. Die wat nou doodgaan , dit moet so wees, ons lyntjies is getrek nog voor ons gebore is. Laat ons aangaan met ons lewens. Niemand was paranoïes ooe vigs, TB, varkgriep, beroertes, hartaanvalle, diabetes, moorde, verkragtings ens. Nou gaan almal dood aan die virus want so kry die regerings geld van die WGO.… Lees meer »

Belinda

Ek stem saam Anel!

Loveleh

Iemand wat sin maak. Ek stel vir 2 weke my lewe in gevaar om heen en weer te pendel vir n skool sonder leerders.