SAOU verwelkom protokol teen teistering in skole

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Maandag ʼn protokol deur die departement van basiese onderwys verwelkom wat bystand in die bestuur van seksuele mishandeling en teistering by Suid-Afrikaanse skole bied.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het dié protokol verlede week aangekondig wat op die been gebring is ten doel om die departement maar veral skole toe te rus om voorvalle van seksuele misbruik en teistering by skole aan te meld en dán doeltreffend te bestuur.

Johan Kruger, operasionele direkteur by die SAOU, het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat die meeste onderwysers nie opgelei is om voorvalle van seksuele teistering en verkragting onder leerders te hanteer nie.

“Voorvalle van dié aard is ʼn baie groot probleem en die hartseer ding is dat ons nie eens weet van alles nie. Dit wat in die media berig word, is maar ʼn klein persentasie van voorvalle by skole.

“Die minister [Motshekga] het nou duidelik rigting gegee oor wat moet gebeur as ʼn leerder ʼn ander teister of verkrag,” het Kruger gesê.

Daarom glo die SAOU dié protokol sal help om voorvalle op ʼn gepaste en tydige wyse te hanteer.

ʼn Verklaring wat die vakbond Maandag in reaksie op die protokol uitgereik het, sit die onderskeie tipe oortredings aan die hand van die protokol uiteen, asook die nodige maatreëls wat gevolglik toegepas moet word in die geval van seksuele teistering by ʼn skool.

Die protokol-dokument bestaan uit vier vlakke van oortredings. Vlak een van die protokol hanteer  suggestiewe opmerkings wat in die klaskamer gemaak word en vlak twee op sy beurt die rondstuur van aanstootlike materiaal onder leerders. Vlak drie maak voorsiening vir seksuele teistering waarna vlak vier eindelik in werking tree indien daar herhaaldelik teenoor ʼn spesifieke leerder opgetree moet word.

Maroela Media het die departement se protokol onder oë gehad wat onderwysers toelaat om op te tree deur middel van die toedien van detensie, berading, skriftelike waarskuwings asook die skorsing van só ʼn leerder in ʼn vlakvier-geval.

“Só ʼn kind het dan ʼn profiel wat saam met hom of haar na ʼn volgende skool gaan. Skole gaan dus nou bewus wees van [nuwe inskrywings] se agtergrond. Die dokumente gaan saam met ʼn kind en jy het dan gronde om op te staan indien jy nie ʼn kind met oortredings van dié aard in jou skool wil toelaat nie,” verduidelik Kruger.

Hy glo daar is ʼn groot leemte in die regte van onderwysers. “Onderwysers beland in die moeilikheid, want hulle ken nie hul eie regte nie. Onderwysers kan nou [deur middel van die protokol] opgelei word sodat hulle weet hoe om in gevalle van dié aard op te tree,” het Kruger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mats ·

En wat van boelies – kinders pleeg selfmoord as gevolg van boeliegedrag. Dit behoort ingesluit te word.

Thelsa ·

Dringende opmeiding moet aan leekragte verskaf word om hierdie voorvalle te hanteer. Daar is nie ‘n onderwys sillabis of handleiding wat jou hiermee kan help . Praktiese ervaring is baie NB

Wonder ·

Ek stem saam met Mats. Boelies word nie so gebore nie, hulle het voorbeelde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.