‘SAPD het geen beheer oor geweldsmisdaad’

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die voortdurende toename van moord en gewapende roof is ʼn aanduiding dat die polisie nie ernstige gewelddadige misdaad in Suid-Afrika onder beheer kan kry nie, ondanks ʼn byna 50% verhoging in die begroting sedert 2011/12.

Só het die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) Dinsdag gesê in reaksie op Fikile Mbalula, minister van polisie, se bekendmaking van die jongste misdaadstatistieke in die parlement. Die ISS het in ʼn verklaring gesê die polisie se onvermoë om misdaad onder beheer te kry is grootliks weens onvanpaste politieke inmenging in die polisie.

“Die nasionale ontwikkelingsplan het dit ʼn ‘krisis in die topbestuur van die SAPD’ genoem. Pres. Jacob Zuma se presidentskap het gelei tot ʼn aansienlike verswakking in polisiëring en aansienlike afname in openbare veiligheid,” lui die verklaring.

Die ISS het daarop gewys dat die jongste moordsyfers daarop neerkom dat 52 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word. Die moordsyfer het oor die afgelope vyf jaar met 13,3% gestyg nadat dit in die eerste 18 jaar van Suid-Afrika se demokrasie met 55% verminder het.

“Die wortel van die misdaad- en polisiëringkrisis in Suid-Afrika is die president se versuim om ʼn hoogs ervare man of vrou van integriteit as die nasionale polisiekommissaris aan te stel. Voortdurende politieke inmenging op alle vlakke van die SAPD het die organisasie ingrypend verswak,” het die ISS gesê.

“Een van verskeie voorbeelde is die politieke beskerming van die Zuma-lojalis, lt.genl. Richard Mdluli, wat vir ses jaar lank met volle betaling en voordele geskors is ondanks die feit dat hy deur strafregtelike vervolging vir moord en korrupsie in die gesig gestaar word,” het Gareth Newham, hoof van die ISS se program vir justisie en die voorkoming van geweld, gesê.

“Die beskerming van Mdluli het die vermoë van die polisie se misdaadintelligensie aansienlik ondermyn en in gedrang gebring. Dit is hoekom die polisie nie die georganiseerde misdaadsindikate agter misdade soos kapings en bendegeweld kan takel nie. As inmenging in die polisie stopgesit word, sal Suid-Afrikaners ʼn goeie rede hê om beter resultate van die polisie te verwag.”

Fikile Mbalula, minister van polisie (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het die ISS se mening dat die polisie geen beheer oor misdaad het nie ondersteun. “Mbalula het tot dusver geen verandering teweeggebring sedert hy in sy pos aangestel is nie en mense voel toenemend onveilig in Suid-Afrika,” het Cameron gesê.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het daarop gewys dat 109 verkragtings daagliks in Suid-Afrika plaasvind, terwyl 46 voertuie elke dag gekaap word. “Hierdie skokkende statistieke is grootliks ʼn direkte gevolg van ʼn chroniese tekort aan opleiding, personeel, hulpbronne en toerusting in die SAPD,” het Mbhele gesê.

“Dié tekorte tesame met ʼn speurdiens en misdaadintelligensiediens wat in ʼn krisis verkeer, beteken dat die SAPD nie in staat is om georganiseerde misdaad en sindikate teen te werk nie en daar is ʼn tekort aan sterk en opgeleide ondersoekkapasiteit om goeie speurwerk en skuldigbevindingsyfers te dryf.”

Mbhele het dit bevraagteken of die statistieke ʼn werklike weerspieëling van die vlak van misdaad in die land is, aangesien navorsing daarop dui dat nie alle misdade aangemeld en aangeteken word nie.

“Ons almal weet misdaad in Suid-Afrika is onaanvaarbaar hoog. Elke enkele persoon in Suid-Afrika weet hoe dit voel om vir hul en hul geliefdes se lewens te vrees. Wat nog meer vreesaanjaend is, is dat heeltemal te veel Suid-Afrikaners ook rede het om die SAPD te vrees, die einste mense wat veronderstel is om ons te beskerm,” het hy gesê.

“Dit is tyd vir die minister om uit ‘Planeet Mbalula’ en sy Twitter-heelal te kom en te verseker dat die SAPD het wat hulle nodig het om misdaad te beveg en veilige strate en huise in Suid-Afrika te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Helen ·

Ok ek kan maar gestenig word….maar ek glo nie hulle misdaadsyfers nie!! Ek sal tenminste 20% by hulle syfers sit dan sal dit meer korrek wees!!

Uvonka ·

Ek glo nie iemand sal jou stenig Helen. Ek dink net die addisionele 20% wat jy byvoeg is beskeie! Ek wonder hoe dom dink hulle ons werklik is?

dries ·

In n gestrukturerde hirargie, is n uitdrukking: dit begin bo! Dus veranderinge/verbetering wotd die gevolg van n persoon wie die hoogste gesag het,SE VOORBEELD.
Is dit ENIGSINS te wagte dat misdaad op vlakke is wat dit is?
Dink maar aan alle ‘beweerings’ wat van hoeke se tyd teen mnr Zuma opgestapel is

Gys ·

Vandat die regering toegelaat het dat die krimineel meer regte het as die eerlike lands burger het die misdaad verhoog. Die krimineel het sy regte van die hand gewys toe hy begin het om misdaad te pleeg. Hoekom moet n eerlike lads burger dan vervolg word as hy of sy lewe beskerm.

Eish ·

So, wat is nuut?
Ons loop al 23 jaar deur onder misdaad.
Ons weet ook dat dit n kapasiteitsprobleem is in soverre dat mense in range aangestel is vèr bo hul vuurmaakplek. Die keuringsprosedures is afgewater sodat verlede jaar 2000 vuurwapens in polisie bewaring , verlore geraak het en n beduidende deel van die personeel, kriminele is, soos ons keiser.

Ons bly in n leierlose helhool wat die afgelope naweek 6 plaasaanvalle gehad het.
Waar die Pizza vinniger by jou huis is as die polisie.

Alida ·

Die sogenaamde Minister het dan GEEN polisie ondervinding nie. Wat verwag julle?

Clement ·

Die een seksie van die polisie wat nie onder n klomp gemors gebuk gaan nie is die bbp beskermers. Kyk hoeveel is daar, en kyk na hul logistiek. Hulle konsentreer op seker .001 persent van die bevolking. Laat mens dink.

Leahim ·

Ek is baie bly dat die probleem nou geidentifiseer is die volgende stap sal wees n oplossing en al wat nou die situasie sal omkeer is om n persoon soos Dr Johan Burger weer by die sapd aan te stel as hoof van polisie met n span deskundiges om hom by te staan.

TillaPol ·

Politiek hoort nie in SAP. Doen Polisie werk en hou op vergader hele dag. Raak ontslae vd vrot elemente in SAP. Misdadigers het meer regte as gewone lands burger. Kry trots terug by SAP

Daniel ·

Kry die bevelstruktuur reg, kry die keuringsproses op standaard, sluit die kriminele in die polisie toe, kry die landswette reg en bring die 1ste en 2de bylae terug met die strawwe wat in plek was en gee die SAPD hulle regte terug. ‘n Krimineel het geen regte nie. As hy in die tronk is moet die gesin/familie sy kos voorsien. Nou word daar in die tronke vakansie gehou en die belastingbetaler moet opdok omdat hy/sy nie wou inskakakel in die samelewing nie.

anti -soustrein ·

Stem saamTillaPol en veral Leahim. Maklik vir wie stem jy? – jy weet mos die met die meerderheidstemme het die doodstraf heel eerste uit grondwet uitgeskryf, so daai sal nooit ‘n oplossing ooit weer wees nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.