SAPD-lede gevonnis ná vals klag van rassisme

Chris Mphana (links) en Sedisa Tikoe. Foto: Mia Slabbert

Twee lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat op verskeie aanklagte skuldig bevind is nadat hulle hul eertydse bevelvoerder vaslik van rassisme beskuldig het, is vandag in die streekhof op Stilfontein gevonnis.

Die twee polisiebeamptes is reeds in Junie vanjaar skuldig bevind aan aanranding, regsverydeling, meineed en crimen injuria.

Die twee adjudant-offisiere, Sedisa Tikoe en Chris Mphana, is deur landdros Charlotte Oosthuizen-Senekal opgeskorte tronkstraf en ʼn boete opgelê. Albei is 24 maande se gevangenisstraf vir meineed opgelê, wat voorwaardelik in die geheel opgeskort is.

Gevangenisstraf van 24 maande, wat ook voorwaardelik in geheel opgeskort is, is vir regsverydeling opgelê. Op die klag van crimen injuria is ʼn boete van R60 000, of drie jaar se gevangenisstraf opgelê, waarvan R30 000 en 18 maande voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Sedisa Tikoe. Foto: Mia Slabbert

Ao. Tikoe, wat ook skuldig bevind is op ʼn klag van aanranding, is 12 maande se gevangenisstraf, wat in die geheel voorwaardelik opgeskort is, opgelê.

Die twee het hulle eertydse bevelvoerder, lt.kol. Annemarie Oosthuizen, valslik daarvan beskuldig dat sy hulle die k-woord genoem het. Oosthuizen het in 2017 ʼn dissiplinêre proses teen die twee beamptes begin omdat hulle sonder toestemming nie vir werk opgedaag het nie. Hulle het bloot geweier om die nodige dokumentasie te teken.

Renate Barnard saam met lt.kol. Annemarie Oosthuizen. Foto: Mia Slabbert

In reaksie op die dissiplinêre stappe het die twee beamptes ʼn klag van crimen injuria teen Oosthuizen gelê deur aan te voer dat sy die k-woord gebruik het om na hulle te verwys. ʼn Voormalige intern, Elizabeth Sechele, het egter na vore getree om teen hulle te getuig, al is sy ook later geïntimideer en het sy vir haar lewe gevrees.

Volgens Solidariteit dien vandag se vonnis as ʼn duidelike boodskap dat daar geen plek vir rassisme in die SAPD is nie en dat mense twee keer moet dink voordat hulle die rassekaart speel om hulself in ʼn situasie te verontskuldig en sodoende ander mense valslik te beskuldig.

Lt.kol. Annemarie Oosthuizen. Foto: Mia Slabbert

“Die hof het dit duidelik gemaak dat enige polisiebeampte wat hom of haarself aan valse beweringe van rassisme skuldig maak, diensooreenkomstig gestraf moet word en sodoende die ernstige gevolge van sy/haar wandade moet dra,” lui Solidariteit se mediaverklaring.

Die staat het ook versoek dat albei beskuldigdes onbevoeg verklaar moet word om enige vuurwapens te besit soos bepaal in art. 103 van die Wet op Vuurwapenbeheer.

“Ons is tevrede dat reg en geregtigheid vir Annemarie [Oosthuizen] en ook vir die gemeenskap van Suid-Afrika geskied het,” sê Renate Barnard, sektorkoördineerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Chris Mphana (links) en Sedisa Tikoe. Foto: Mia Slabbert

“Solidariteit sal nou verdere druk op die SAPD as werkgewer plaas om die nodige dissiplinêre stappe teen die beskuldigdes te doen, aangesien die SAPD as werkgewer sedert 2017 (en selfs ook ná hul skuldigbevinding in die kriminele sake) geen dissiplinêre stappe teen die twee gedoen het nie.”

Volgens Barnard is die publiek geregtig op die diens van toegewyde, eerbare polisielede wat oor integriteit beskik en wat nie diskrimineer teen enige rassegroep in die land nie. Barnard voer verder aan dat die feit dat die SAPD tot op datum hierdie onaanvaarbare gedrag deur van sy werknemers geduld het, werklik groot rede tot kommer is en dat dit ernstig bevraagteken moet word.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen hierdie waterskeiding-uitspraak is baie nodig in Suid-Afrika. “Dit is ʼn harde boodskap vir elkeen in Suid-Afrika wat valslik rassebeskuldigings gebruik om dissipline in die werkplek of elders te vermy. Hierdie is ʼn reusesukses en ons is saam met Annemarie Oosthuizen tevrede en bly oor die uitkoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Ag asseblief? Watse vonnis is dit? O ja…die een waar die arme “people” nie onderwerp word aan dieselfde wette en gevolge sooa die blanke bevolking nie! Nevermind dubbel standaarde…GEEN standaarde.

Suzette

Hulle het baie lig van dit afgekom. Gaan beslis nie die volgende een keer om iemand valslik van rassisme te beskuldig nie. Dan is hier nogal aanranding ook ter sprake. Waar is die president wat dan nou so BAIE PRAAT oor geweld teen vroue en kinders?? Bokkerol word gedoen man – dis ‘n geblaf in die wind.

Anel

EN HOEKOM IS HULLE NIE ONTSLAAN NIE???????

Gilla

Dis ‘n belaglike vonnis. Indien hulel wit was, was hulle toegesluit

Tino

Welgedaan julle maar hierdie ouens gaan nie ‘n dag agter tralies deurbring nie. Alles is opgeskort…?