SAPD-lede glo betrokke by PPE-bedrog

Argieffoto (Foto: k-e-k-u-l-é/Pixabay)

Vyftien persone is in hegtenis geneem in verband met die aanskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) ter waarde van R1,9 miljoen.

Ses van die beskuldigdes is oud-polisiebeamptes, twee is tans in diens van die SAPD en een persoon is ʼn administratiewe klerk. Die res van die beskuldigdes is siviele burgers wat met die verskaffer verbind word.

Die groep is in hegtenis geneem deur ʼn taakspan van die nasionale polisiekommissaris en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat.

“Die beskuldigdes is Maandagoggend tussen 05:00 en 08:00 in Gauteng en Limpopo in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, diefstal, korrupsie en vervalsing wat verband hou met ʼn skema om onwettig voordeel te trek uit ʼn verskaffer wat in April 2020 landswyd lateks-handskoene aan die SAPD verskaf het,” sê kol. Athlenda Mathe, waarnemende woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, en Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die NVG se ondersoekdirektoraat.

Die inhegtenisnemings volg ná ʼn grootskaalse ondersoek oor aanskaffing en verskaffing in die SAPD. “Die ondersoek het verskeie kontrakte onthul wat toegeken is tot voordeel van derdeparty-maatskappye wat as ʼn front gebruik is. Senior polisiebeamptes het vergoeding ontvang.”

Dit is die sesde saak deur die ondersoekdirektoraat wat korrupsie in die polisie ontbloot. Nog inhegtenisnemings word verwag.

Die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sithole, en die ondersoekdirektoraat se adv. Hermione Cronje het die span geloof vir die werk wat hulle gedoen het.

Die 15 persone sal binnekort in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martin ·

Dit kan nie wees nie, die SAPD is mos “wetsgehoorsame burgers” en is daar om ons almal te beskerm. Weereens, alles gaan oor bestuur. Jammer vir die onskuldige SAPD lede wat daar is om ‘n verskil te maak wat se naam ook deur die modder gesleep word omdat hulle deel is van die SAPD. Injury to one – Injury to all…

SjN ·

Een vrot appel maak ongelukkig die kas sleg, waar is Hoedeman se kommentaar, hy het mos altyd n verduideliking.

Christine ·

Mens is so moeg van korrupsie in ons land. Ek moes vier keer op en af ry vir allerhande ekstra dokumente om my ou moeder wat bedlêend is, lewend te probeer bewys. Rede? Korrupsie, nou is nie eens beedigde verklarings of doktersbriewe meer geldig nie, omdat van ministers tot polisie oneties, korrup en regte kriminele is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.