SAPD maak vordering met DNS-toetse

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se bestuur sê daar is lig aan die einde van die tonnel wat die agterstand met DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums betref. Dit volg nadat ʼn nuwe rekenaarstelsel ontwikkel is wat dit vir die polisie moontlik maak om alle DNS-toetse en die vordering daarvan op ʼn digitale stelsel te volg.

Maroela Media het vroeër berig “’n katastrofiese” agterstand met die verwerking van DNS-bewysstukmonsters het Junie verlede jaar kop uitgesteek toe die ou gerekenariseerde stelsel – bekend as PCEM (Property Control and Exhibit Management) – deur Forensic Data Analysts (FDA) afgeskakel is.

Tot op hede was daar ʼn agterstand van by die 170 000 DNS-toetse. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisiediens werk sedertdien saam met die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) om die nuwe stelsel te ontwikkel en só die ou stelsel te vervang. Die nuwe stelsel het op 6 April in werking getree en ongeveer 10 miljoen DNS-monsters is reeds op die stelsel gelaai. Byna 25 000 nuwe bewysstukke is ook opgelaai.

Verder het die minister van polisie, Bheki Cele, verlede maand erken dat daar geen chemikalieë in enige polisielaboratorium in die land is om DNS-monsters te kan toets nie. Naidoo sê in hierdie verband het die polisiediens ’n kontrak van twee jaar met ’n diensverskaffer beklink om die broodnodige chemikalieë te lewer.

“Voordat chemikalieë by hierdie diensverskaffer verkry kan word, moet die geskiktheid daarvan eers geverifieer word. Dit is ’n proses wat absoluut noodsaaklik is om te verseker dat die chemikalieë wat vir hierdie DNA-toetsing gebruik word, wel vir hierdie proses geskik is,” sê Naidoo.

Naidoo sê die proses sal na verwagting binne die volgende twee maande afgehandel wees. Intussen het die SAPD genoeg chemikalieë op ’n kwotasiebasis aangeskaf om minstens drie maande te hou, sodat die agterstand sowel as die toetsing van nuwe monsters kan voortgaan.

“Die SAPD-bestuur wil die land verseker dat die DNS-monsters van ernstige geslagsgeweldsake en DNS-monsters wat nodig is vir die identifisering van verdagtes, geprioritiseer sal word.”

Naidoo sê die prioritisering van die DNA-monsters lewer reeds vrugte af nadat ʼn Benoni-man Vrydag deur DNS-monsters positief met 60 verkragtingsake verbind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Hierdie is nie eers veronderstel om ‘n prestasie te wees nie – dis veronderstel om lankal van toepassing behoort te wees.

Dis nou om jouself ‘n klap op die skouer te gee omdat jy uiteindelik met werk begin het wat jy voorheen te lui of onbevoeg was om te doen.

Janee ·

Ek wonder presies hoe lank hierdie tonnel is waar die liggie so flou skyn?

Jakes ·

Dit klink nou of die polisie die land en sy mense n guns doen terwyl dit eintlik swak bestuur en onbekwaamheid is wat die agterstand tot gevolg gehad het. N groot skande.

jzjz05 ·

Laat ons weer praat,oor tweemaande om te hoor watter verskooning geopper gaan word hoekom daar nie vordering was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.