SAPD moet beskikbare hulpbronne gebruik, sê AfriForum

Argieffoto

Hoewel die SAPD by verskeie geleenthede aangedui het dat hulle nie oor die mannekrag en dus vermoë beskik om hul grondwetlike mandaat uit te voer nie, weier hulle om van beskikbare bronne soos reserviste gebruik te maak om hulle te ondersteun.

Reserviste wat nie jaarliks hul bevoegdheidsoefeninge voltooi nie, verloor hul status as aktiewe reserviste en dus die bevoegdheid om die SAPD by te staan. Dit is die SAPD se plig om toe te sien dat hierdie status behou word, sê AfriForum.

Dié burgerregte organisasie het ’n aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring om die SAPD te verplig om toe te sien dat reserviste in Kameeldrift die bevoegdheidsoefeninge volgens die toepaslike wetgewing voltooi, insluitend die Wet op die Beheer van Vuurwapens (wet 60 van 2000) en die SAPD se nasionale instruksie 3 van 2014. Indien die hofbevel toegestaan word, sal die SAPD weer toegang hê tot bykomende lede om die tekort aan mannekrag te verlig.

“Dit is frustrerend dat die SAPD hul onvermoë om misdaad na behore te beveg met die argument verdoesel dat hulle nie oor die nodige mannekrag beskik nie – terwyl daar onontginde bronne bestaan wat eenvoudig nie deur die SAPD aangewend word nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Die SAPD word nou die geleentheid gegun om op die bewerings in AfriForum se aansoek te antwoord en te verduidelik waarom hulle versuim om die nodige stappe te doen om reserviste op gereedheidsgrondslag te plaas.

“AfriForum sal alles moontlik doen om die gemeenskap se veiligheid te probeer verseker,” voeg Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, by. “Die feit dat lede van die publiek benadeel word deur die SAPD se onvermoë om tydige en doeltreffende dienste te lewer, spruit gereeld uit die onvoldoende beskikbaarheid van SAPD-lede en beskikbare hulpbronne wat onbenut bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Karolis ·

Hulle beskik oor die mannekrag. Die mannekrag meld net nie aan diens nie.
Afwesig agv: stres, siekte, studies, dood in familie ens. Alles onder vals dokters sertifikate.

leser ·

raak onslae van die swaargewigte wat nie eers hul skoenveters kan vasmaak
raak van die ontslae wat nie eers hul vanne en name kans skryf nie
raak van die ontslae wat daarrondhang net om salaris te trek
raak van die wat niks vir die stasie se agter deur werd is nie

humor ·

Wat van veiligheidsdienste soos oa om die kommandostelsel weer tot stand te laat kom. Daar is mos die eie Cjinese polisiediens soos in die nuus verneem. Hulle sal eerder van hulle wil gebruik maak.

Hanna Hoekom ·

Jare gelede het mense by die SAPS aangesluit omdat hulle n passie daarvoor gehad het. Voornemende polisielede is streng gekeur en het harde klippe tydens opleiding gekou. Daarna is die polisie uniform met trots gedra. “Protect and serve” was wat dit regtig bedoel was om te wees! Ek sien ongelukkig GEEN van hierdie waardes of passie in die post 1994 SAPS nie. En ek vertrou hulle glad nie. SAPS lede is laks, ongeskik en meerendeels erg oorgewig. Die kriminele elemente binne hierdie diens is besig om die oorhand te kry. En dit alles in die naam van regstellende aksie…

IK ·

Sluit ook munisipaliteite hierby in. Ek het verskeie kere my kennis aangebied betreffende paaie, snoei van bome ens. maar daar word nie ag hierop geslaan. Daar word net ‘gemelk’ en ‘n negatiewe houding bestaan nou jeens hulle. Pragtig en lofwaardig wat AfriForum doen maar ons geld beland nog steeds in die verkeerde beursie.

Spark Plug ·

Daar by ons maak hulle wel gebruik van hulpbronne…die polisie vangwa staan elke naweek by die shopping sentrum terwyl hulle groceries koop..daar is gelukkig baie pak plek agter in so wel gedaan, trots op julle

Cornelia ·

Dit is ‘n ongelooflike verskynsel wat die anc en sy metgeselle integriteitloos en uitdagend opdring aan die mense van Suid Afrika as skande- en skade ambassadeurs. Dat die bewind as ‘n nuttelosie oefenlopie onthou sal word is ‘n vure en nogmaals vure feitelike geskiedenis verhaal. Tot dan, keer voor! Dankie dat u wakker staan en waak!

Jerry ·

AfriForum sal probeer om die gemeenskap se beveiliging te verseker? So n ingesteldheid is doodeenvoudig onaanvaarbaar, omrede jy beveiliging of verseker of nie. Om te se ons sal probeer, skep n grys area!

koos1 ·

Net gister word 2 Lt-Genl, 1 Maj-Genl en 1 Brigadier gearesteer.
As dit die voorbeeld is wat gestel word deur senior lede, hoe kan jy verwag dat die junior lede en resiviste nog reg moet kan optree?
Ons gaan nog jare met die Zuma sindroom opgeskeep sit – eet uit die trog so vinning en baie as wat jy kan!

Carl ·

In die 90’s het die uitermatige bevordering van kaders al begin. Met reg was daar die spreekwoord: “More Konstabel, totsiens Brigadier”.

Cornelia ·

Jerry, Afriforum DOEN binne die gestremde raamwerk en beperkte beweegruimte, wonderlike aanvalswerk. Dit hou die mense van Suid Afrika nie net Ingelig van onderduimshede in elke sektor gepleeg nie, maar veg met die middele tot hulle beskikking met wysheid en insig. Afriforum is nie ‘n militêre organisasie nie. Geen grys gebied nie Jerry. GEEN!

Anel ·

Het jare saam met resirviste gewerk voor 1994. Moes altyd hulle werk oordoen, ons voertuie was altyd stykkend gery en hulle wou net buitekant werk. Weier om aanklagtekantoordienste te verrig. Het het basies van ons werk ‘n stokperdjie gemaak. Vandag sal ek hulle nog minder vertrou. Verder wil hulle deur reservis wers aandring op permanente poste. Nog steeds geen vertroue in hulle nie. Jammer.

Andre ·

Maar onbevoegde, onopgeleide MK kaders kry bevelsposisies in die SAPD. Hulle was in die ANC se “tereurmag” nie polisie nie. Hulle is niks werd vir die beskerming van die publiek nie.

Cornelia ·

En is dit nie maar ‘n pynlike waarheid van alle dimensies van die mens se insette en beste pogings nie. Daar is goeie reserviste en die wat so gou as weerlig uitgeskakel móét word. Dit geld van bakker tot boggom.

Andrea van Vuren ·

Die dae toe die kommando’s nog aktief was, was daar feitlik nie misdaad in die woonbuurtes nie. Toe skaf die regering dit mos af want hulle het bedreig gevoel. Dis ook maar ‘n tipe van rassisme. Kyk hoe sleg gaan dit nou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.