SAPD rou oor afsterwe van senior beampte

Genl.maj. Theko Johannes Pharasi (59) (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is in rou gedompel ná die dood van genl.maj. Theko Johannes Pharasi (59), adjunkkommissaris vir sigbare polisiëring in Gauteng, Maandagoggend ná ʼn kort siekte.

Pharasi sou in November op die ouderdom van 60 afgetree het. Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, sê hulle het Maandagoggend met skok van dié polisieleier se onverwagse dood verneem.

Pharasi het hom in 1980 as konstabel by die polisie aangesluit. Teen 2010 het hy gevorder tot die rang van generaal-majoor. Hy het in sy 40 jaar lange loopbaan verskeie sleutelposisies in Gautengse polisiestasies beklee. Hy was veral betrokke by die Johannesburgse distrikskantoor, waaronder Dobsonville, Orlando, Randfontein, Randburg, Johannesburg-Sentraal, Johannesburg-Oos en Alexandra.

Pharasi het ook die rol as gebiedskommissaris van Johannesburg beklee voordat hy die leisels as provinsiale adjunkkommissaris vir sigbare polisiëring asook groepbevelvoerder in Johannesburg-Wes oorgeneem het. Hy is in Februarie verlede jaar heraangestel in die pos van provinsiale adjunkkommissaris vir sigbare polisiëring, wat hy beklee het tot sy onverwagse afsterwe.

Lt.genl. Elias Mawela, die provinsiale polisiekommissaris van Gauteng, asook Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Maandag hul medelye betuig aan Pharasi se familie, vriende en kollegas oor sy heengaan. Vir hulle laat dié polisieleier ʼn groot leemte in die polisiediens.

“Genl.maj. Pharasi se heengaan laat ʼn leemte in ʼn tydperk waar sy intellek, passie, toewyding, professionaliteit en selfvertroue die nodigste is, aangesien veiligheidsbeamptes nou daarna streef om balans te handhaaf tussen die voorkoming van misdaad en die handhawing van die Covid-19-afsonderingsregulasies,” sê Mawela.

“Die dood het ons van ʼn bekwame beampte kom beroof. Hy was passievol oor sy werk. Hy was ʼn man van integriteit. Hy het te alle tye ʼn etiese en morele oordeel gehad. Genl.maj. Pharasi was inderdaad ʼn transformasieleier asook ʼn man met groot akademiese en professionele vaardigheid, maar tog steeds nederig,” sê Mazibuko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

As die polisie n sigbare eenheid het hoekom sien ek hulle nooit? Sterkte vir die familie ek het hom nie geken maar glo dit was n goeie eerbare man wat gemis sal word

Hekwag ·

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is in rou gedompel”… rêrig? Verbaas my dat die media nie sê die land is in rou gedompel nie.. Ai, tog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.